Deur Anys Rossouw

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die alledaagse onweer hanteer ’n mens maar teen wien dank. Maar as ’n orkaan van rampe, geweld of misdaad jou tref, kan die stormskade jou reddeloos laat en word jy vasgevang in ’n maalkolk waarin jy beheer verloor.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Ná ’n ernstige ongeluk word die beseerdes gehospitaliseer, bene word gespalk en die wonde word daagliks versorg. Dit gebeur meestal nie met emosionele wonde nie. Daarom laat traumas mense dikwels emosioneel stukkend met ’n gebreekte geborgenheidsgevoel, selfwaarde en geloof in mense. Jou wêreldbeeld en lewensbeskouing dat mense tog goed is, dat jy tog veilig en dinge in orde is, het verkrummel. Dan voel jy weerloos en uitgelewer aan onvoorspelbare en onbeheerbare magte en ervaar verskrikking, vrees, magteloosheid en verlies aan beheer en vryheid.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ons lewe ongelukkig in ’n samelewing waar traumas aan die orde van die dag is. Soveel mense word daagliks aan gebeure soos kapings, huisbraak, gewapende roof, ongelukke, rampe, vloede, moord en seksuele misdrywe blootgestel, hetsy as ’n bedreigde, oorlewende of as ooggetuie. Talle middeljarige Suid-Afrikaanse mans loop nou nog met die emosionele letsels van die bosoorlog wat hulle in hul jeug op die grens opgedoen het.

Sielkundige trauma word bestempel as ’n ervaring van vrees, hulpeloosheid of verskrikking wanneer jy skielik en onverwags aan potensieel lewensgevaarlike gebeure blootgestel word wat buite jou beheer is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Party mense hanteer en verwerk ’n trauma heeltemal toereikend sonder professionele hulp, net met die hulp en ondersteuning van geliefdes en vriende. Om met vrees te reageer en daarna vir ’n tydperk meer waaksaam en op jou hoede te wees, is normaal. Maar vir ander is dit baie traumaties en post traumatiese stres sindroom ontwikkel wat die mens se normale funksionering inperk.

  • Skok. Jy kan nie glo wat gebeur het nie. Dit voel onwerklik en jy voel gevoelloos en geïsoleerd van mense en gebeure.
  • Jy voel bang en angstig oor baie dinge, ook oor jou eie en jou gesin se veiligheid en vir ’n herhaling van die gebeure.
  • Jy ervaar woede, geïrriteerdheid en oorsensitiwiteit teenoor mense, dinge en die onregverdigheid en koester wraakgedagtes.
  • Jy is depressief en hartseer oor die materiële en emosionele verliese.
  • Jy is skaam oor wat gebeur het, jou hantering daarvan en jou gevoel van hulpeloosheid.
  • Slaappatrone verander. Jy is rusteloos, kan dikwels nie slaap nie en kry nagmerries.
  • Daar is fisieke probleme soos hiperwaaksaamheid en bewustheid van geluide, moegheid, hiper- of onderaktiwiteit, hartkloppings, spierspanning, bewerasie, hoof- en ander pyne, asemhalingsprobleme, naarheid, diarree of hardlywigheid.
  • Jy kry terugkerende, indringende gedagtes en beelde van die gebeure; jy herleef die emosie en gebeure; jy probeer om die pynlike gedagtes uit te blok en daar is ’n onvermoë tot perspektief en om jou kop af te skakel.
  • Jy is verward en verbouereerd en sukkel om te konsentreer en te onthou. Dis ook moeilik om besluite te neem en probleme te hanteer.
  • Jy het sosiale probleme, onttrek jou van mense, voel geïrriteerd en emosioneel dood en stel nie meer in normale aktiwiteite en stokperdjies belang nie.
  • Jy wil nie werk toe gaan nie en is ongemotiveerd.
  • Jy rook meer, gebruik meer alkohol of dwelms, eet minder of meer, of verloor jou lus vir aktiwiteite wat voorheen lekker was.

Gewoonlik sal dié reaksies oor ’n tydperk van ’n paar weke verminder. Maar vir party mense neem dit maande, soms jare, en raak dit erger as hulle aan die trauma herinner word. Dr. Creamer sê jy moet hulp kry as die simptome erg is en langer as vyf tot ses weke duur. Dis nie ’n teken van swakheid of dat jy jou kop verloor het nie.

Traumas verwond mense. Maar hoe hulle die pyn ervaar, hanteer en verwerk, verskil. Party hanteer dit met groot emosionaliteit, ander met rasionaliteit, ontkenning of onderdrukking. Dis vir hoogs sintuiglike, sensitiewe of angstige mense dikwels moeiliker om sulke gebeure te verwerk. Mense wat ook nog met ander persoonlike of finansiële probleme worstel, kan dié trauma kwalik ook nog hanteer. Sulke mense het gewoonlik professionele hulp van ’n kundige of ’n ondersteuningsgroep nodig.

*Neem kennis; hierdie inhoud is ontstellend en bevat ‘n grusame vertelling van geweld en seksuele aanranding.

Markus* het op ’n Vrydagaand ná ’n kuier in Polokwane op pad huis toe by ’n verkeerslig stilgehou en ’n sigaret aangesteek.


“Die volgende oomblik het iemand ’n rewolwer teen my kop gedruk. Die motor het geruk en teen die randsteen gestol. Daar was ’n paar booswigte. Hulle het twee skote afgevuur en my platgedruk. Met my trui oor my kop het hulle met my weggery en by die openbare swembad stilgehou. Daar het ’n groot man my rondgepluk en met sy kop geslaan. Daarna het hulle êrens op ’n grondpad gery en stilgehou.

“Toe maak ek ’n fout. Ek het uitgespring, die naaste ou geslaan en gehardloop. So twintig meter verder het iemand my bene onder my uitgeskop. Toe bars die hel los. Ek is verwoed geskop, geslaan, hulle het op my kop getrap en my klere van my lyf geskeur. Hulle het ook ’n stok in my anus opgedruk, waarvoor ek later sestien steke moes kry. Ek was bebloed en my tande was los. Ek is nakend teruggedruk in die motor met my kop tussen my bene reg by die handrem. Ek het by tye my bewussyn verloor.

“Hulle het weer gery en op pad die pinnommers van my kaarte geëis, wat ek gegee het. Toe hulle dit nie regkry om geld te trek nie, het hulle woedend twee skote reg langs my kop deur die vloer van die motor geskiet sodat ek die teerpad kon sien. Dat ek saamgewerk het, was my behoud.

“Die mans het my weer geskop, my skouers ontwrig, my hande vasgemaak en agterin die kattebak gegooi. Daar het ek kort-kort my bewussyn verloor. Ek was so bang ek sterf, want my saak met God en my kinders was nie reg nie. Boonop het die een ou heeltyd vir my gesê hy kan nie wag om my te skiet nie.

“Hulle het kort-kort gestop, uitgeklim, mense op- en afgelaai en verder gejaag. Later kon ek aan die verkeer hoor ons is in ’n stad. Die pyn was toe erger as my vrees vir die dood. Iewers het ek gesmeek vir iets om te drink. Ek het ’n louwarm Hunters gekry en aan die omgewing gesien ons is in Hillbrow en dat dit al skemer is. Ek was al ’n hele dag in die kattebak. Toe laai hulle twee hondjies saam met my in die kattebak.

“Voor het hulle geëet, gedrink en dagga gerook en later in die kar opgegooi. Iewers het hulle die kar gestamp dat ek net hoor ligte breek.

“Sondagoggend halfdrie toe blaas die turbo en die kar gaan staan en ek hoor hoe redeneeer hulle of hulle my gaan skiet of nie. Ek het ’n pistool hoor span. Maar hulle het my net daar in die kattebak gelos – waar ’n vlugsersant my later gekry het. Ek kon nie staan nie, ek het te veel pyn gehad.

“By die polisie het ek nie hulp gekry nie, daar is ek erger getraumatiseer en verneder. Hulle wou nie my storie glo nie. Hulle het dit eers geglo toe die bank al die plekke van onttrekkings op my kaart bewys het. Ek moes by die polisie my broek aftrek en op ’n stoel staan, terwyl hulle vir my lag en vra of dit lekker was. Toe skop ’n polisieman die stoel onder my uit dat ek val. Dit was asof ek die krimineel was.

“Nou, ná maande sukkel ek steeds met pyn en sit ek moeilik. Ek kan nie slaap nie, ek voel soos ’n zombie – heeltemal emosieloos. My hele lewe het verander: Ek het my werk verloor, ek kan nie meer oefen nie. As iemand net vir my kyk, raak ek beangs en wonder: is dit dalk hy? Ek voel kwaad en wil wraak neem. Ek is beangs dat iets met my gesin kan gebeur. Ek sukkel met my verhouding met God. Dit voel of Hy nie na my behoeftes luister nie. Dan voel ek weer skuldig, want ek lewe en het weer werk.”


*’n Skuilnaam is gebruik en die verhaal is met die betrokkene se goedkeuring vertel.

Oogbewegingsintegrasieterapie (eye movement integration, of EMI) is een van die terapieë wat in traumaberading gebruik word. Dié doeltreffende tegniek het uit die Neuro-linguistiese programmering-beweging ontwikkel om posttraumatiese stres, angstoestande en negatiewe en beperkende gedagtepatrone te behandel.

Navorsers glo dat trauma die liggaam en brein oorstroom met streshormone wat met die mens se funksionering inmeng. Dit blokkeer sy vermoë om die trauma te hanteer omdat die gebeure in ’n angsvorm in die brein gebêre is. Enige herroeping daarvan word met dieselfde emosionele intensiteit belewe. Dit stuit die slagoffer om die ervaring as onbedreigend en as deel van die verlede te ervaar. Wanneer die persoon aan die trauma herinner word, ervaar hy dit weer as terugflitse, nagmerries of angstigheid en angsaanvalle.

In EMI-terapie laat die terapeut die slagoffer aan die trauma dink terwyl hy met sy oë bewegings op die voorgrond volg. Oogbewegings word geassosieer met die prosessering van spesifieke soorte inligting in die brein. Dié tegniek help om die gebeure in die brein te herprosesseer sonder die traumatiese ervarings en bring dikwels vinnige en dramatiese veranderinge.

Trauma is nie veronderstel om ons te breek nie, maar gee ons die onwelkome geleentheid om te leer om stresvolle lewensuitdagings te hanteer en innerlik sterker te raak. Berading versnel meestal die gesondword-proses. Maar wonde, of dit binne of buite is, neem tyd om te heel.

  • Erken dat jy ’n uiters stresvolle ervaring beleef het en dat jou reaksie ’n normale reaksie op abnormale gebeure is.
  • Aanvaar ander se praktiese en emosionele hulp. Praat en praat oor die gebeure – dis die heel beste medisyne.
  • Konfronteer wat gebeur het stukkie vir stukkie.
  • Besef jy is nou meer weerloos vir ander probleme.
  • Sorg vir jou veiligheid. Kry rus en oefening. Leer ontspanningstegnieke deur asemhalingsoefeninge, diep spierontspanning, meditasie of joga.
  • Gee jouself toestemming om af te voel en tyd vir herstel. Moenie vir jouself sê jy is mal nie – jy het gewoon normale reaksies.
  • Moenie jouself blameer vir wat gebeur het nie. As jy vooraf geweet het wat sal gebeur, kon jy dit dalk vermy. Maar jy het nie geweet nie.
  • Struktureer jou tyd en probeer met jou normale lewe aangaan en dinge doen wat lekker en betekenisvol is. Maar moenie die simptome vermy of verdoof nie.
  • Vermy stimulante soos koffie, koladrankies en sigarette – jou liggaam is reeds oorgestimuleer. Vermy alkohol en pille as verdowing.
  • Wees goed vir jouself, maar moenie in dié tyd belangrike lewensbesluite neem nie.
  • Dis nodig om deur die emosies te werk en weer jou gevoel van veiligheid en sekuriteit te herstel. Dit vra veel meer as net om jouself reg te ruk en aan te gaan. Dikwels is professionele hulp nodig.

Lees ook: Kruispaaie – hoe jy krisistye kan oorleef

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Frambooskolwyntjies

Bestanddele   3 eiers 60 ml (¼ k) room 80 ml (1/3 k) xylitol 80…

6 hours Gelede

Albert Pretorius gesels oor Ronnie se ‘merry-go-round’ in ‘Nêrens, Noord-Kaap’

Kykers was woedend vir hom. Sommige het simpatie gehad. Ander het besef hoekom hy doen…

9 hours Gelede

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié sewe kinkels in Desember

  Hierdie storielyne gaan Suidooster-aanhangers behoorlik op die punt van hul stoele hou.    Lee-Ann…

1 day Gelede

Fantastiese aartappelbrood

Genoeg vir 1 groot brood Bestanddele   Jy het ’n groot staanmenger nodig om die…

2 days Gelede

Mans moet dokter toe gaan as hulle enige van hierdie 7 tekens sien

As vroue is ons gewoond aan borsondersoeke. Maar mans is nie gewoond aan húl ondersoeke…

4 days Gelede

Bloublasiebrand: Die volledigste noodhulp in 5 stappe

As 'n bloublasie jou langs die Suid-Afrikaanse kus raakslaan, is dit wat jy moet doen.

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.