As ’n kind nie meer kind kan wees nie, verloor sy nie net ’n stuk van haar lewe nie, maar ook ’n stuk van haarself. Baie kinders kry bitter swaar omdat hulle in stilswye die las van volwassenes op hul tenger skouertjies dra. Dikwels terwyl byna niemand dit eens raaksien of daarvan weet nie. Sulke kinders voel verward en deurmekaar omdat hulle rol konflik beleef, want ’n kind word nie gesien as iemand wat ander moet versorg of hul emosionele laste moet dra nie. So ’n kind besef nie altyd wat die oorsprong van haar frustrasie en verwardheid is nie. Dis ’n rol wat ’n kind nie verdien nie, maar soveel kinders te beurt val.
Gesinne moet fisiek en emosioneel oorleef. Basiese dinge soos kos maak, inkopies doen, huis skoonmaak, wasgoed was, die versorging van klein kindertjies en siekes moet in alle gesinne gedoen word. As ’n ouer dit nie doen nie, doen ’n kind dit noodgedwonge. Gesinne soek na balans. Kinders balanseer dikwels dinge om die gesin te laat funksioneer – verkieslik só dat buitestanders die indruk het dat alles in die gesin reg is.
Wanneer ’n kind die ouerrol aanneem weens die ouer se fisieke of geestelike ongesteldheid, drank of ’n ander kwessie, word sy gekonfronteer met volwasse probleme waarvoor sy nie opgewasse is nie. So ’n kind moet dan nie net die ouer dra nie, maar ook vir haarself sorg. Sy word van haar kindwees beroof wat dikwels daartoe lei dat haar normale ontwikkeling skade ly. Dikwels word die situasie selfs vir ander familielede weggesteek omdat dit iets is waaroor die gesin skaam is. Dis vir kinders moeilik om rolle te vervul waarvoor hulle nog nie gereed is nie.
Party ontwikkel in verantwoordelike volwassenes wat kan raakvat, probleme oplos en besluite neem. Maar ander raakmoeg en uitgebrand. Elma* vertel: “Ek is so moeg om altyd daar vir ander te wees. Dit voel of ek my lewe lank net gebruik is. “My ouers is geskei en my ma moes noodgedwonge gaan werk. Sy het bedags in ’n kantoor gewerk, en het om den brode snags vir ander mense naaldwerk gedoen.
“Ek was ma vir ons vier kinders en moes kos maak, wasgoed was, die kleintjies by die laer- en kleuterskool kry, Kosie* se bottels gee, help met huiswerk, sorg dat die huis netjies bly sodat Ma nie raas nie. “Ek onthou toe Kosie gastro gekry het. Later was daar nie meer ’n skoon doek nie en ek het hom op handdoeke laat lê. Die gemors! En die aanhoudende gehuil. Ek het later begin saamhuil, en toe huil almal. En hy raak al swakker. Ek sal nooit my magtelose angs en vrees vergeet nie: As hy doodgaan, sal dit my skuld wees. “Ek dink my trane het daardie dag opgedroog. Ek kan en wil oor niks meer huil nie. Ek wil vir niemand verantwoordelik wees nie. Jare lank wou ek by niemand betrokke wees nie, dit het gevoel of almal my net wil gebruik. En nou het elke man wat ek ontmoet ’n string kinders wat hy wil hê ek moet versorg.”
In gesonde gesinne waar kinders net kinders is, neem ouers die verantwoordelikheid vir die gesin se finansiële, praktiese, emosionele en geestelike funksionering. Hulle is die voorsieners en die versorgers. In so ’n gesin lewer almal ’n bydrae, selfwaarde is hoog en die reëls en verwagtinge is menslik, buigbaar en ouderdomsverwant. Elkeen het sy eie aktiwiteite, doelwitte, planne en sosiale kring wat deur die gesin as geheel ondersteun word. Daar is balans tussen hul fisieke, intellektuele, sosiale, emosionele en geestelike kante. Die kommunikasie is direk, duidelik, oop, spesifiek en eerlik. Elkeen kan gevoelens en behoeftes uitspreek. Alles draai nie om een mens of om ’n sentrale probleem nie. Die gesin is deel van ’n gemeenskap en het verhoudings met mense en dinge buite die gesin.
‘My pa se siekte het my kindwees gesteel’
Kinders behoort besig te wees met dinge wat kinders van hul ouderdom doen.
Johan* sê weens sy pa se alkoholprobleem wou hy nooit maats huis toe nooi nie. Dit het hom geïsoleer, want omdat hy hulle nie nooi nie, het hulle hom ook nie genooi nie. Dit was ook vir hom verwarrend: Die een dag is hy die man in die huis wat sy klein boetie oppas of sy pa in die bed sit as hy onkapabel is. Die volgende dag moes hy kind wees.
Lydia* vertel hoe moeg sy daarvoor is om haar ouers se vertroueling te wees. “Dan praat Ma met my, dan praat Pa met my, en elkeen verwag ek moet sy kant kies. Ma vertel my hoe sy voel, maak my pa sleg en maak my die skeidsregter.
“Ek wil niks meer van hul huweliksprobleme hoor nie. Waarom praat sy nie met haar suster of vriendinne nie? Sy doen dit nie, want niemand mag weet nie. Voor ander is hulle liefies met mekaar. Ma manipuleer my met: ‘Ek het niemand om mee te praat nie.’ Ek weet dis emosionele afpersing. Ek voel voortdurend of my gevoelens nie saak maak nie. Hul probleme vreet my tyd en energie en dreineer my. Ek wens ek kan uit die huis kom.”
Leane Austin, ’n Amerikaanse opvoedkundige sielkundige en skrywer, sê kinders reageer nie almal so nie. Party raak baie verantwoordelik en neem volwasse gedragspatrone en taalgebruik aan. Vir hulle is dit dan moeilik om met kinders van hul ouderdom sinvolle interaksie te hê. Dit isoleer hulle en laat hulle alleen en uitgesluit voel. Ander kinders mag weer regresseer en soos jonger kinders optree. Hulle kan weerstand bied, aandag soek, negatiewe gedrag openbaar, buierig, aggressief, huilerig en afhanklik wees. Dikwels is dit ’n onbewustelike poging om hul kinderrol terug te kry.
Die uitwerking op kinders
- Hulle dink nie aan hulself en hul gevoelens nie. Hulle leer dat hulle behoeftes ondergeskik is aan dié van ander. Dit veroorsaak probleme met selfwaarde, selfbeeld en selfvertroue
- Normale ontwikkeling ly skade: Hulle neem nie sosiaal, fisiek en intellektueel deel aan aktiwiteite van hul portuurgroep nie. Dit het dikwels ’n impak op hul emosionele ontwikkeling
- Sosiaal is hulle geïsoleer, ontwikkel nie die nodige vaardighede nie en sukkel om met maats, onderwysers, broers, susters en ander volwassenes oor die weg te kom.
- Hulle is dikwels moeg, sukkel om te konsentreer en hul skoolwerk ly daaronder. Of hulle raak vroeë skoolverlaters.
- Hulle het nie ’n realistiese beeld van die wêreld nie en sien dit as bedreigend. Dit raak hul vermoë om sinvolle besluite te neem, want hulle word groot met skaamte, negatiwiteit en wantroue.
- Hulle het dikwels ’n groot verlieservaring: die verlies aan drome, jeug en kanse om te kan doen wat hul maats doen, maar ook die verlies aan normale verhoudings met ouers, broers, susters, en vriende.
- Dikwels beleef die kind baie kommer, onsekerheid en stres oor die persoon wat hulle ondersteun en oor hulself of ander kinders in die gesin se toekoms.
- Sulke kinders voel vasgevang en uitgelewer. Dit laat hulle moedeloos, magteloos, hartseer, maar ook woedend voel. En dan voel hulle skuldig oor hul gevoelens. Sulke dogters is dikwels geneig om vroeg te trou om te probeer wegkom.
- Die kans is groot op sielkundige en ander probleme soos angs-, eet- en slaapversteurings, depressie, aggressie, mede–afhanklikheid, rebelsheid. Hulle kan alkohol of dwelms misbruik.
Help kinders so
Al is dit dikwels nie werklik moontlik om sekere omstandighede (soos ’n siek ouer) te verander nie, kan daar wel dinge gedoen word om dit vir die kind makliker en beter te maak.
- Kinders het individuele aandag nodig: ’n Vertroueling om mee te praat. Iemand wat verstaan wat hulle ervaar en op hul behoeftes kan fokus, wat hulle toelaat om te rou oor hul verliese. So dikwels word daar net op die een met die probleem gefokus.
- Hulle het ook maats en verhoudings buite die gesin nodig.
- Hulle het praktiese ondersteuning van familie, vriende of mense in hulpprofessies nodig sodatdit nie net hul verantwoordelikheid is nie. Hulle mag maar hulp vra.
- Hulle het inligting en begrip oor die probleem nodig. Dit help ook as daar ’n plan vir die toekoms is. Dit gee hoop.
- Tye wanneer hulle net hul eie en lekker dinge kan doen, is onontbeerlik.
- Hulle moet weet dis nie hul rol om volwassenes se take te doen of hulle te ondersteun nie. Hulle kan as deel van die gesin help, maar dis nie hul verantwoordelikheid nie.
- Dit help as die take wat hulle moet doen ouderdomsverwant is, soos skottelgoed was of asblikke uitgooi. En dat volwassenes mekaar se emosionele ondersteuning is en die verantwoordelikheid vir ander kinders se opvoeding en veiligheid neem.
- Hulle moet weet hulle het die reg op rus, ontspanning, opvoeding, veiligheid, beskerming, dat iemand na hul welsyn omsien en na hulle luister; om met respek behandel te word en om hul eie drome te droom – die reg om net kind te kan wees.
- Hulle het ook die reg om te kan kies om nie die rol van die ouer te vervul nie.
- Hulle moet kan ervaar hulle is nie alleen nie. Hulle het hulp en iets om in te glo. Daar is sin in die lewe. Geloof in ’n Hoër mag bring baie troos en ondersteuning. Van kinders word dikwels meer gevra as om net ’n kind, ’n boetie of ’n sussie te wees. En dan voel hulle verantwoordelik vir ander se welstand. En hulle doen dit uit liefde, respek of bloot omdat dit in die gesin nodig is, of verwag word. Maar dit kan hul tyd, emosies, normale ontwikkeling en selfbeeld opvreet. Kinders moet gehelp word om die gesonde grense van verantwoordelikheid, omgee en liefde vir hulself te vind en dit in ander te respekteer. Dit gebeur as hulle liefde en omgee ervaar en hul grense van kindwees gerespekteer word.
- *Skuilname is gebruik en verhale is met betrokkenes se goedkeuring vertel. Anys Rossouw is ’n sielkundige in Menlopark, Pretoria.
Lees ook: Egskeiding: kinders vir die naweek