Arno Carstens het einde 2016 die album Die Aandblom 13 uitgereik – sy eerste vollengte-album in Afrikaans. Die album het verskeie toekennings ingeryg, insluitend ’n Ghoema vir beste alternatiewe album asook ’n SAMA vir beste vervaardigde album.
Die musiekvideo vir Tjoepstil, wat op Die Aandblom 13 verskyn, is regtig uniek. Dit is Arno se eerste musiekvideo waarin rekenaaranimasie en spesiale effekte gebruik word. Op die vraag wat die storie agter die video is, antwoord hy: “Ag, daar was nie eintlik ’n verskriklike idee nie. Ek het hierdie pêl van my, Tyrone Mackay, by ’n braai ontmoet en toe gesels ons oor die moontlikheid van ’n musiekvideo. Hy het ’n besigheid wat special effects doen en hy het gesê dat hy graag so ’n video wil skiet.” Dis presies wat hulle toe gedoen het. Hulle het eers by Tyrone se studio, heartmedia.tv, voor ’n groenskerm opnames gemaak. Daarna het hulle “in Kaapstad teen Tafelberg onderin ’n ou steengroef gaan staan met die wind wat ons wegwaai,” onthou Arno. “Met die verskriklike wind was dit maar ’n mismoedige situasie.”
Hy is egter beïndruk met die eindproduk. “Wat dié ou daaruit gekry het, was nogal amazing – dis 3D-tegnologie en als. Dis ’n groot taak, al lyk dit nie altyd so nie. Dit vat ure se rendering, so die video het eintlik verrassend lank gevat om te maak. Die shoot self was in een dag klaar, maar al die rekenaarwerk … ek kry die gevoel dis altyd ’n nice idee om special effects te gebruik maar ek dink mense besef nie hoe lank en uitmergelend die proses is nie. Maar dit het cool uitgekom en ek hou daarvan.
“Persoonlik sal ek graag in ’n volgende video wil vlieg,” grap Arno. “Ek is ’n wetenskapfiksie-aanhanger en ek is mal oor Björk se musiekvideo’s, so ek is definitief oop vir sulke goed.” Die liedjie Tjoepstil is self ’n surrealistiese, abstrakte tipe liefdeslied. “Meeste van my songs is sulke fleeting visual statements.” Hy haal ’n paar reëls aan om te verduidelik: “Kragopwekker onder my vlerke, stof/turbo-enjins, my hart verdof.” Hy hou vol “dis nie ’n straightforward love song nie; dis eerder kleurvol.”
Kyk hier na die musiekvideo vir Tjoepstil
Tjoepstil is die sewende snit op Die Aandblom 13. Die album is vernoem na die titel van een van die liedjies Die Aandblom. Dit verwys na die huis waarin hy grootgeword het in Worcester, spesifiek Aandblomstraat 13. Die meeste van die album se kunswerk (behalwe die foto van die trappe) is foto’s van sy ouerhuis – Arno se ma woon steeds daar. Die Aandblom handel oor sy kinderdae: “Ek is die jongste van vier broers en wanneer ons ouers weg was, het ons altyd partytjies gehou en eventually sou die polisie opdaag …” Dit vertel ’n storie, soos baie van die ander liedjies op die album. “Daar is baie stories op hierdie album, en dan is daar ook goed wat net creative poetry is: fantasie, escapism.”
Arno se gunsteling-snit is Chemikalieë en hy sê ook dat al die lirieke op die album persoonlik is. “Omdat dit my eerste Afrikaanse album is, het ek besluit om te skryf oor die dinge waarvan ek weet en die plekke waarvan ek hou. Ek het daarna geluister en toe onthou ek dinge uit my jeug – dit bring baie herinneringe terug.”
Hoe voel dit om vir die eerste keer lirieke in Afrikaans te skryf? “Baie keer, in Engels, skryf ek net ’n song omdat dit ’n lekker song is, daar is nie ’n verskriklike storie agter dit nie: ek wil net ’n kickass song skryf. Maar in Afrikaans vind ek dis makliker om ’n storie te vertel. Ek vind dit miskien bietjie meer lateraal.”
Omdat Arno gemaklik tussen Afrikaans en Engels kan beweeg, het ek gewonder of hy voel hy druk homself anders uit in die twee tale. “Ja, hulle sê as jy ’n ander taal praat werk jou brein anders, of as jy ’n ander taal leer verander dit die makeup van hoe en wat jy dink. Kyk, daar is ooreenkomste tussen my skryfwerk in Engels en Afrikaans; ek hou van surrealisme ensovoorts, en dit kom in my werk voor, maar ek vind dit is makliker om ’n storie te vertel in Afrikaans. Jy beskryf goed beter omdat Afrikaans ’n meer beskrywende taal is. Aan die begin was dit wel ’n bietjie moeilik om in Afrikaans te moet skryf, maar aan die einde was dit ’n moerse awesome experience.”
“Ek vind dit is makliker om ’n storie te vertel in Afrikaans”
Oor die ontvangs van sy eerste Afrikaanse solo-album sê Arno: “Dit het redelik goed gedoen; ons het ’n Ghoema gewen, ons het ’n SAMA gewen … Ek meen, ek kon werk saam met Dane Taylor, Fred den Hartog van Die Heuwels Fantasties en saam met Hunter Kennedy. Ek hou van wat hulle gedoen het.” Hy verduidelik oor die opnames en die produksieproses (die album het immers ’n SAMA vir produksie ontvang). “Ek het die liedjies geskryf, maar dan kyk mens na die manier hoe hulle (Taylor, den Hartog en Kennedy) dit vervaardig het – hulle bring ’n hele ander vibe na die vloer. Ek is oop daarvoor: ek hou van elektronika, ek hou van rock, en ek hou van mooi musiek. Jy weet, in my oë, as jy ’n musikant is, moet jy heeltyd na nuwe musiek luister, want jy put inspirasie daaruit om on top of it te bly. Ons het eintlik na baie nuwe goed geluister, so die album het ’n baie lekker vibe.”
Oor die ontvangs van die album brei hy ook meer uit. “Kyk, die groot ding is obviously dat dit scary is om vir die eerste keer iets nuuts te doen,” sê hy van die skuif na ’n Afrikaanse album. “Dit kon netsowel loutere snert gewees het! But we did well … jy weet, Fred-hulle is so goed en talentvol en ek het geweet dit gaan flippen awesome wees toe die album klaar was en dat mense daarvan gaan hou. Ek het dit baie geniet en ek het daardie tyd al geweet dis ’n spesiale album.” Ek het klaar vir Hunter-hulle bespreek om te werk op my volgende album.” Hy lag “… Die Aandblom 14!”
Wat is volgende op sy agenda?
“Ek werk nou aan ’n nuwe Springbok Nude Girls-album, wat natuurlik in Engels is, en ek beplan om einde 2018 nog ’n Afrikaanse album uit te bring. Dan sal ek ’n tydjie wag – ’n jaar of twee – voordat ek weer ’n solo-album vrystel.
Arno en die ouens van Springbok Nude Girls (waarvan hy die voorsanger is), kom elke jaar bymekaar vir ’n handvol konserte en hulle het hierdie jaar ook saam met die Pixies getoer toe dié groep in Suid-Afrika was. “Ons gaan in Januarie weer ateljee toe om aan nog ’n paar liedjies te werk. Kom ons kyk wat gebeur, maar die hoop is om ’n nuwe album vry te stel in 2018.” Indien dit gebeur, sal hulle graag ’n toer vir die nuwe album meemaak – dalk selfs Europa toe. Toe ek hom vra waarheen in Europa sê hy: “Nee, nee, nee, dis nog te vroeg! Maar seker Londen, Amsterdam … Wat gebeur sal gebeur. Deesdae is ons plan met die Nude Girls meer om dit te geniet en om dit te vier dat ons steeds saam kan musiekmaak,” verduidelik Arno oor dié rockgroep wat al sedert die middel-negentigs aan die gang is. “Die live shows is steeds amazing en die gehoor is nog net so volatile en mal soos altyd – almal is net ’n bietjie ouer,” sê hy grappenderwys.
Hou Arno se optredes en nuwe vrystellings dop op sy webblad en op sosiale media.
Oor die tipe musiek wat hy skryf …
’n Paar jaar gelede, toe sy seun gebore is, het Arno in ’n onderhoud genoem dat hy besluit het om twee keer te dink oor die tipe musiek wat hy skryf – veral omdat die Nude Girls soms geneig was om wilder musiek te maak. Voel hy nou, byna vyf jaar later, steeds dieselfde? “Ag, ek’s oor dit. My seun is nou ’n Linkin Park-aanhanger, so ek dink dis fine,” sê hy oor die feit dat hy steeds harder rock speel. “Te danke aan Transformers luister ek deesdae baie na Linkin Park. Het jy geweet al die Transformer-video’s word op YouTube deur hul musiek begelei? So there we go, I think we’re fine,” sê hy en begin lag. Hy sê wel dat hy nie dink dit is noodwendig goed om kinders (insluitende sy eie) by optredes te hê nie – dis nie altyd die plek daarvoor nie, veral nie iets soos Nude Girls se opvoerings nie.
Ons gesprek keer terug na die feit dat Arno kan beweeg tussen verskeie optredes en tussen Afrikaans en Engels. “Hierdie Afrikaanse aspek het my optredes ryker gemaak. Ek vind dit nou weer bietjie interessanter. Dit is ’n gawe om in twee tale te kan sing.” Hy skryf hierdie besef toe aan die tyd toe hy saam met Celine Dion getoer het. “Sy het altyd vier Franse liedjies gehad wat sy tydens haar optredes sou sing en ek het regtig baie van daardie liedjies gehou – amper meer as van dié in Engels. Toe my platemaatskappy voorstel dat ek ’n Afrikaanse album moet oorweeg, het ek gereken ek moet.” Ek is mal oor wat tweetaligheid vir Celine Dion se musiek gedoen het; ek voel dit verbreed jou optredes en maak dit meer interessant.”
“Dit is ’n gawe om in twee tale te kan sing”
Watter musikante het die nuwe album beïnvloed? Baie sangers van lande waar Engels nie die hooftaal is nie: Duitsland, Italië, Frankryk. “En ook Serge Gainsbourg se dogter, Charlotte Gainsbourg.” Arno sê die rede waarom hy musiek in ander tale wou luister is om bietjie anders oor sy moedertaal te dink. “Ek ken Afrikaans en ek is Afrikaans, maar mens moet die taal sien uit die oë van vreemdelinge.” Hy verduidelik hoe mens byvoorbeeld oor Franse musiek voel wanneer jy nie Frans kan praat nie. “Ek dink mens moet die taal uit ’n ander hoek sien. Toe ek oorspronklik saam met die Nude Girls begin sing het, was dit interessant omdat ek sekere woorde direk uit Afrikaans vertaal het. Engels was nie my eerste taal nie en die resultaat was iets heeltemal anders, Engelse mense sou die lirieke verseker nie soos ek stel nie. Dit is vir my kreatief want dan kom die kreatiewe poësie uit. Ek skryf steeds my lirieke so, maar na 10 of 11 albums in Engels beïndruk jy nie meer jouself nie. Daarom vind ek nou Afrikaans weer verskriklik vars. Ek het ’n tweede asem gekry – dinge voel weer vars in my musiek.”
“Ek het ’n tweede asem gekry – dinge voel weer vars in my musiek”
“Stef Bos is byvoorbeeld ongelooflik,” verduidelik hy oor die inspirasie om met ander oë na jou eie taal te kyk. “Ek hou van ou Afrikaans en van suiwer Afrikaans.” Waar kom sy waardering vir vroeë Afrikaans vandaan? “My pa het my van kleins af blootgestel aan mense soos C.J. Langenhoven, maar ek lewe ook nou, in 2017. Ek probeer om ouer Afrikaans te inkorporeer met ’n ander, meer eietydse denkwyse. Dit beteken nie dat ek enigsins deel is van die kaliber mense soos Langenhoven nie,” voeg hy vinnig by, “maar ek hou net van die gedagtegang wat in sy konteks gevolg is.”
Ander Afrikaanse musikante wat volgens hom iets interessants en inspirerends met Afrikaans doen sluit in Francois van Coke, saam met wie hy getoer het voordat hy Die Aandblom 13 opgeneem het. “Ek is ook mal oor Bittereinder se Jaco van der Merwe. Sy lirieke is ongelooflik!” Arno verwys daarna dat van der Merwe dalk ook met ander oë na Afrikaans en Engels kyk omdat “hy ’n Engels onderwyser is.”
“Daar is baie inspirasie agter die album en agter die hele proses, wat dit in my oë suksesvol maak.”
Oor skilder
Arno skilder wanneer hy nie musiek maak nie en hy het onlangs van sy werk in die Kaap uitgestal. Volgens hom was hy maar power met sport op skool, so hy het meer na die kunste toe geneig, en natuurlik sy eie styl gehad. Hy beskryf sy styl as “ekspressionisties, of, donker goed met helder kleure. As mens so iets maak, beteken dit natuurlik dat jy nie baie kommersieel is nie, maar ek werk daaraan,” vertel hy oor sy kunswerke en styl.” Dis ’n stokperdjie en ek werk nou maar eers aan my tweede uitstalling vir volgende jaar. Dit gaan baie stadig: dis een tree vorentoe en vyf-en-twintig treë terug. Om te verf beteken vir my om heeltyd te snoei. Partykeer begin jy en dan dink jy “Jinne, dis terrible … dis terrible” en dan werk jy dit totdat dit cool is. Jy moet net weet waarvan jy hou, dan sal jy reg wees … En jy moet weet wanneer dit regtig sleg is sodat jy dit kan regmaak,” lag hy. Jy kan na sy kunswerke kyk op sy Instagram-blad en inligting oor toekomstige uitstallings kry.
Alhoewel beide musiekmaak en skilder skeppende prosesse is, beteken dit nie noodwendig dat dieselfde paadjie gevolg word om in hierdie media te werk nie. Om te skilder is vir Arno senutergend. “Met musiek het jy mense om jou wat jou help om iets regtig wonderlik te laat klink, maar met verf is jy heeltemal op jou eie.” Hy noem wel dat daar soms ooreenstemmings is: “Partykeer skryf jy iets mooi en dan kom dit so gemiddeld uit wanneer jy dit opneem. Ander kere is jy nie so trots op iets nie, maar as jy dit opgeneem het klink dit wonderlik!
“Jy sit maar met ’n blok en jy moet ’n hamer en beitel neem en wegkap tot jy iets kry waarvan jy hou”
As ’n kunstenaar wat al as solo-musikant én saam met groot name honderde optredes meegemaak het, het ek gewonder of daar een optrede is wat sterk uitstaan. “Jou eerste minnaar is altyd jou beste,” antwoord hy dadelik. “Die Nude Girls se eerste groot show was saam met INXS en ons het na die show lekker saam met die ouens ge-party. ’n Maand later is Michael Hutchence (die groep se voorsanger) dood. Hy was die naaste aan Jim Morrison wat ek nog ooit gesien het: wonderlike stem, sex on legs, ’n partytjiedier. Hy was net daai hele rock ’n roll-pakket en ek dink ons oë was so groot soos pierings – ons was heeltemal verstom.”
“Jou eerste minnaar is altyd jou beste”
Arno het ook onlangs vir die laaste keer saam met Johnny Clegg in Johannesburg opgetree. Clegg, wat die afgelope twee jaar teen pankreaskanker veg, tree binnekort af. “Dit was baie hartseer maar ’n groot eer om deel te kon wees van daardie konsert. Dit was ’n baie emosionele show,” vertel Arno. “Die eerste rock-konsert waarna ek gaan kyk het – ek was seker so standerd 8 – was ’n Johnny Clegg-konsert wat in die stadsaal in Worcester plaasgevind het. Later, met die Nude Girls, het ons ge-open vir Johnny by die Neelsie in Stellenbosch – dit was die eerste groot rockgroep saam met wie ons gespeel het.” Arno het ook later, in 2014, ’n liedjie saam met Clegg opgeneem vir sy album Lightning Prevails. “Ek het Another Universe in balladevorm verwerk en opgeneem en Johnny het tradisionele Zoeloe-mondboog gespeel. Dit was die voltooiing van ’n bittersoet sirkel om deel te kon wees van sy laaste optredes.”
Arno gesels oor sy bewondering vir musikante soos Clegg. “Oor die jare het hierdie ou regtig Afrika-kulture omhels, én om ’n Suid-Afrikaner te wees omhels. Ek dink dis ’n groot ding wat my nogal baie beïnvloed het – om die kulture en die wêreld om jou te omhels, en dit uit te beeld in jou musiek.”
En die ouer generasie musikante wat oor Suid-Afrikaanse ervarings skryf? “Ja, ek het die ander dag saam met David Kramer gespeel. Hierdie ouens is regtig baie goed en hulle is sulke entertainers, dis ongelooflik. Dit voel soms of kuns oud kan raak, maar op die ou einde is die beste kunstenaars werklik diegene met die ervaring. In hierdie bedryf leer jy baie by ouer kunstenaars. Ja, dis lekker om beïnvloed te word deur nuwe klanke, maar die basis van ’n goeie boek kom tog uit ervaring.”
(Lees ook ons eksklusiewe onderhoud met Johnny Clegg in ons Desember 2017-uitgawe.)
Watter raad sal hy aan jong musikante gee wat die bedryf betree?
“Omhels die toekoms.” Hy herhaal dit en mens kan sien dat dit wat hy sê iets is wat uit sy eie ervaring spruit. “Omhels die toekoms want jy het nie ’n idee wat met jou gaan gebeur nie. Ek is bly dit het gewerk vir my. Ek dink altyd aan die tyd toe ek in matriek was en na U2 geluister het. Ek sou nooit in ’n miljoen jaar kon dink ek sou vir hulle open nie; ook nie vir die Rolling Stones, of vir INXS nie. So, klim op die bus, doen jou bes, stick to your guns en hou by jou integriteit as kunstenaar. Daar is ’n moontlikheid dat niks kan gebeur nie, maar as dit wel gebeur, is jy in vir ’n great ride.”