Elkeen van ons het, afhangend van die stadium van ons lewe, sekere rolle en take om te vervul. Hierdie take verwys na alledaagse aktiwiteite soos werk, slaap, verhoudings, vryetydsbesteding en persoonlike bestuur en verantwoordelikhede. Die doel van Arbeidsterapie is om ’n persoon te help om hierdie rolle en take so onafhanklik en effektief as moontlik te kan verrig, om met ander woorde met optimale lewenskwaliteit te leef.
Persone met stres of psigiatriese diagnoses soos gemoedsversteurings (onder meer depressie en bipolêre siekte), en angsversteurings, ondervind dikwels probleme met die hantering van hul emosies, denkpatrone, konsentrasie en motivering. Dit beïnvloed gebalanseerde en suksesvolle deelname aan alledaagse aktiwiteite negatief.
Behandelings-benadering
Ons psigososiale Arbeidsterapie-groepe word as deel van ’n groepsprogram in ’n psigiatriese kliniek aangebied. Binne die groep fokus ons op deelname aan ’n verskeidenheid aktiwiteite (onder andere kreatief en sosiaal), in ’n veilige en gestruktureerde omgewing. Tydens deelname beleef die kliënt sy eie potensiaal en raak hy/sy bewus van vaardighede en sterktes. Dit lei tot meer selfvertroue en verbeterde deelname aan alledaagse aktiwiteite wat hy voorheen as problematies ervaar het. In groepsterapie beleef die kliënt homself ook in interaksie met ander mense en raak dan bewus van foutiewe denkpatrone en kommunikasiestyle. Dit is vir ons belangrik om kliënte te help om op hul eie daaglikse funksionering te fokus, en dan met nuwe vaardighede toe te rus wat hul funksionering tuis positief sal beïnvloed.
Ons behandel volwassenes, bejaardes, tieners en kinders as deel van ’n multi-dissiplinêre span wat psigiaters, kliniese sielkundiges en ander terapeute insluit. Kliënte word ook, na aanleiding van die behoefte, as buitepasiënte en/of individueel gesien.
Arbeidsterapie kan die volgende aan ’n bejaarde, volwasse of tiener-kliënt bied:
Lewensvaardighede
- Streshantering
- Gebalanseerde leefstyl
- Dagbeplanning
- Konstruktiewe benutting van vryetyd (insluitend kreatiewe aktiwiteite)
- Selfhandhawende kommunikasie/grense
- Slaaphigiëne
- Hantering van angs
- Selfbeeld
- Waardeklarifikasie
Ontspanningsterapie
- Asemhalingstegnieke
- Ontspanningsterapie-tegnieke
Sensoriese profiele
- Die invloed wat ’n persoon se unieke sensoriese belewenisse op sy interaksie met die omgewing en ander persone het
Bestuur van chroniese pyn
Kontak gerus www.otasa.co.za vir meer inligting.