Serves:Genoeg vir 6Nutrition facts:200 calories20 grams fat
Ingredients
Ons het twee bolaagpatrone gemaak: Een met uitgesnyde hartjiepatrone en een waar ons die hartjies in sirkels op die tertjies gepak het. As jou tyd knap is, kan jy sommer ’n bolletjie deeg rasper en die frummels op die tertjies strooi. Bak dan soos onder beskryf.
250 ml (1 k) sagte botter
210 ml (¾ k + 2 e) strooisuiker
2 eiers
830 ml (3 1⁄3 k) koekmeel + ekstra om op uit te rol
Gekaramelliseerde appels
125 ml (½ k) suiker
125 ml (½ k) botter
2 appels, geskil en in kleinwiggies gesny
50 g (½ pakkie) gevlokte amandels
Glaseersel
1 eiergeel
15 ml (1 e) water
Instructions
1 Klop die botter en suiker saam tot lig en romerig. Voeg die eiers een vir een by en meng goed. Voeg die meel by en meng tot die deeg bymekaar kom. Bedek met kleefplastiek en sit vir ’n uur in die yskas. 2 Gekaramelliseerde appels: Smelt die suiker en botter in ’n pan oor matige hitte. Laat saggies kook tot dit ’n ligte karamelkleur het. Voeg die appels by en braai tot gekaramelliseer en goudkleurig. Meng die amandels by en laat afkoel. 3 Rol die deeg 4 mm dik uit op ’n meelbestrooide werkvlak. Voer ronde 6 cm x 7 cm-tertpannetjies uit met die deeg en prik met ’n vurk. Rol die afgesnyde deeg weer uit en druk 7 cm-sirkels uit. Verkoel vir 30 min. in die yskas. 4 Voorverhit die oond tot 180 °C. 5 Bak die tertjies blind, bedek elke tertjie met opgefrommelde bakpapier en bakgewiggies (soos bone) en bak vir 10 min. Haal die bakpapier en gewiggies uit en bak vir nog 5 min. Haal uit die oond en laat effens afkoel. 6 Skep van die gekaramelliseerde appels in elke tertjie. 7 Druk hartjies uit 4 van die verkoelde deegsirkels, hou die sirkels. Verf die glaseersel aan die onderkant van die hartjies en uitgesnyde deeg en pak dit in sirkels op die tertjies. Rol die ander stukkies deeg uit en druk nog hartjies uit en pak die tertjies verder vol met die klein hartjies. Sit die sirkels met die uitgesnyde hartjies op die ander tertjies. 8 Verf die bokant van die tertjies met die glaseersel. Bak vir 20 min. of tot goudbruin en gaar.