Genoeg vir 4
2 appels (3 as jy dit in ’n groot pan maak)
100 g botter
100 g suiker
400 g (1 rol) klaarbereide blaardeeg, ontvries
Voorverhit die oond tot 200 °C.
1 Skil die appels van bo na onder sodat hulle hul vorm behou, sny middeldeur en verwyder die klokhuise.
2 Smelt die botter en suiker oor lae hitte tot dit liggies begin verkleur. (Gebruik ’n 25 cm-pan vir ’n groot tert, of ’n kleiner pannetjie vir individuele tertjies.)
3 Sit die appels met die gesnyde kante na onder in die suikermengsel. Laat die suiker verder karamelliseer tot goudkleurig. Wees versigtig dat dit nie brand nie.
4 Rol die deeg effens dunner uit op ’n meelbestrooide werkvlak. Sny in 4 vierkante en hou in die yskas tot benodig.
5 Haal die pan van die hitte af en sit 1 van die deegvierkante op die appel. Druk die rande wat oorsteek tussen die appel en die pannetjie in sodat dit ’n rand vorm.
6 Bak die tertjies vir 5 min. Verhoog die temperatuur tot 200 °C en bak die tert vir nog 10 min. (20 min. as jy die groot tert maak). Verlaag die temperatuur tot 180 °C en bak tot goudbruin en gepof.
7 Haal uit die oond en keer om op ’n mooi dienbord. Herhaal met die res.