Pas langs mekaar op ’n tuinbankie geparkeer, albei sonhonger aan die einde van ’n lang Kaapse winter, vra ek vir Antoinette wat haar laat besluit het om ’n aktrise te word.
Die gebore en getoë Vrystater bly deesdae op ’n geskiedkundige plaas dig teen die berge in die Jonkershoekvallei buite Stellenbosch.
Ons is nog aan die begin van die versigtige reis tussen twee mense wat nuut is vir mekaar, maar sy lag spontaan. “My ouers wou ook nog altyd weet! Ek is bevrees die enigste ander ding waarin ek belang gestel het, was antropologie. Seker omdat ek daarvan hou om te bly grawe hoekom mense is soos hulle is.”
Sy dink verder, die gevoelvolle oë onder die wye paprandhoed nou peinsend. Nee, sy kan nie eintlik regtig sê hoekom sy doen wat sy doen nie. Nes haar broer Dappie, vandag ’n uroloog, van kleins af geweet het hy wil dokter word, het sy net geweet sy wil toneelspeel. Sy haal haar skouers op.
Dit laat my goed voel as ek in ’n storie kan opgaan. Ek voel gemaklik daar
Daar wás ’n kleuterskoolkonsert waarin sy met haar ma se rok en skoene keplaks-keplaks geloop het tot sy uit die skoene geval het … Later ook die bekoring van die destydse Sterrewag-teater op Naval Hill in Bloemfontein. Daar het sy onder meer vir Sandra Prinsloo die eerste keer sien speel, min wetende dat sy eendag die verhoog met haar sou deel. En in haar onseker tienerjare in die Hoër-skool Sentraal was daar juffrou Zesta Vorster, haar drama-onderwyseres, wat haar aangemoedig het om in haarself en haar talent te bly glo.
“Ons het kontak behou. En ek noem haar steeds Juffrou … ”
Die skoolhoof het haar onlangs gebel om haar geluk te wens met haar hoofrol in Deon Meyer se rolprent ‘Die Laaste Tango’. Hulle was ewe trots op haar ná die goeie ontvangs van die baie bekende Children of a Lesser God wat sy as ‘Kinders van Stilte’ vertaal en verwerk het. Die stuk is in Julie vir die eerste keer op Bloemfontein se Vryfees opgevoer en hulle hoop om dit aanstaande jaar na die Stellenbosse Woordfees en die KKNK te neem.
“Sy oproep het my diep geraak,” vertel sy. “Hulle wil hê ek moet met die leerlinge kom gesels. Dit is wonderlik om nou, twintig jaar later, die erkenning te kry waarna ek as kind soms so gesmag het. Dalk beteken dit ook vir sommige leerders iets as ek sê ek het nooit Valentynskaartjies gekry of ’n kêrel op skool gehad nie. En dat ek met aknee gesukkel het … ’n Medeleerder het eendag vir my gesê: ‘Jissie, maar jou vel lyk slég!’
“Ek was byna dood,” sê sy.
Vandag sou sy vir jou kon lyk na ’n vrou wat alles het. ’n Drama-graad (met lof behaal), ’n vleklose vel, ’n pragtige figuur en die veelsydigheid en talent wat die teaterwêreld van jou verg.
En Antoinette val beslis nie meer uit haar skoene nie. As Ella Winter in ‘Die Laaste Tango’ moes sy met haar hoëhakskoene fyn trap op Loxton se stofstrate om aan die vereistes van dié sensuele dans te voldoen. Vir iemand soos sy wat van enige musiek, kos en boeke hou wat die sintuie roer, was dit ’n heerlike ervaring. Maar die instudeer van die dans was nogals ’n bielie van ’n uitdaging! Haar mede-hoofrolspeler, Louw Venter, het dié proses iewers beskryf as net so flippen moeilik as wat dit flippen lekker was.
Ella Winter is ’n sterk karakter, ’n vrou wat as internasionale fotograaf bekendheid verwerf het, maar na haar Karoo-tuisdorp terugkeer toe sy kanker kry. En ’n mens wil met Deon Meyer saamstem as hy sê Antoinette was perfek vir die rol, met net die nodige kombinasie van krag en sensitiwiteit om reg aan die karakter te laat geskied.
“Toe ek in my navorsing vir die rol met vroue gesels het wat al daardie paadjie geloop het, het ek eintlik niemand teëgekom wat ’n slagoffer-mentaliteit gehad het nie,” vertel sy. “Hulle wou nog lééf! Dit was verblydend om dit te sien.”
Sy moes vir die rol al haar hare afskeer en ook ’n paar kilogramme afskud. In fotograaf Johan Wilke se ateljee waar ek haar vir die eerste keer in lewende lywe te siene kry, het dit my opgeval dat Antoinette eintlik nog delikater is as wat sy op die silwerdoek lyk. En tog was daar iets van die vasberade Ella in haar daar waar sy in die een mooi, nousluitende rok na die ander poseer, altyd met die grasieuse houding van iemand wat die dissipline van ballet bemeester het.
Aktrise wat sy is, kan sy voor die kamera flink en professioneel verkleurmannetjie speel. Maar weg van die kamera is sy weer net haarself, iemand wat opreg empaties luister wanneer ander iets vertel – ’n by wat in die goudgeel stuifmeel van ander se emosies kan induik sodat dit kan bly kleef. En tog bêre sy in haar ook ’n bevrydende laggie wat telkens loskom.
Akteurs waag dit dikwels dieper en hoër om die haarnaalddraaie van die gemoed te probeer peil en weergee. Baie erken ook dat dit soms moeilik is om ná die intense ervaring van ’n produksie weer mooi in jou eie, meer alledaagse lewe in te pas. Hoe hanteer sy dit?
“Dit ís soms ’n probleem,” gee Antoinette dadelik toe. “Veral wanneer die werk opdroog. My sensitiwiteit is waarskynlik my grootste bate, maar dit het natuurlik ook ’n skadukant. Dit kan die grootste ondermyner van my geluk wees as ek dit nie reg rig nie.
My sensitiwiteit is waarskynlik my grootste bate
“Aan die ander kant is daar die onoortreflike lekker van die teater as die gehoor (en ek) genot uit ’n goeie storie kan put. Veral as die verhaal jou ’n bietjie anders na die wêreld laat kyk, jou dalk na plekke vat waar jy nog nie was nie. Daar is vir my iets magies daaraan. ’n Samehorigheid, ’n menslikheid en ’n ver-staan wat groter as ek is.”
Haar gunstelingrolle is “dié wat ’n verskil in ’n ander se lewe kan maak en groter empatie met iets of iemand by die gehoor kan wek”.
Soos die vier rolle wat sy in Kinders van Stilte speel. Die oorspronklike Amerikaanse drama, Mark Medoff se Children of a Lesser God (1980), het onder meer ’n Tony gewen. Die rolprentweergawe met William Hurt en Marlee Matlin in die hoofrolle is in 1986 met ’n Oscar as beste rolprent bekroon. Matlin is die eerste en enigste dowe vrou wat tot nog toe met ’n Oscar vereer is.
Hier te lande speel Zane Meas (Neville Meintjies van 7de Laan) en Vicki Fourie, ’n voormalige Mej. Dowe Suid-Afrika, die hoofrolle. Antoinette vertel dat al die dowe karakters deur dowes gespeel word.
“Hulle het geen drama-opleiding nie en in my onkunde het ek aanvanklik gedink dit sal vir hulle bemagtigend wees. Maar natuurlik het dit uiteindelik meer vir my as vir hulle beteken.
“’n Hele wêreld het vir my oopgegaan. Ek het aan skok gely toe ek agterkom hoeveel diskriminasie dowes moet verduur en wat dit verg om daardie soms algehele afsluiting van kommunikasie te moet hanteer. My hart wou breek oor ouers wat ’n driejarige by die skool moet aflaai sonder om vir die kind te kan sê hulle sal hom weer kom haal. Al wat die kind ervaar, is ouers wat wegry en hom alleen by vreemde mense op ’n vreemde plek los. Hulle verstaan nie hoekom nie. Daar is nie ’n manier waarop jy vir hulle kan verduidelik wat aangaan nie … ”
Antoinette het aanvanklik gesukkel om die teaterproduksie te kon finansier. Waarop haar ma, steeds ’n emo-sionele kompas in haar lewe, haar bemoedig het met: “My kind, take a leap of faith. Dis vir ’n goeie saak en die geld sal kom.”
Sy was reg. ‘Kinders van Stilte’ het vir Antoinette en almal wat betrokke is, ’n hartsprojek geword. “Ons skenk ook ’n persentasie van die kaartjieverkope aan die Nasionale Instituut vir Dowes.”
Om anti-enigiets te wees wat ander kwets, is iets waarmee sy grootgeword het. Haar ouers, Dap en Anet, albei afgetrede hoogleraars in sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, was haar rolmodelle.
“Ek was bevoorreg om groot te word in ’n omarmende, warm, stabiele ouerhuis waarin ons alles eerlik kon bespreek. En ons is geleer om almal met dieselfde respek en deernis te hanteer, maak nie saak of jy ’n donkiekarryer of ’n dokter is nie.”
Ek was bevoorreg om groot te word in ’n omarmende, warm, stabiele ouerhuis
Sy lag. “My pa is seker die enigste Suidwester wat nie bier drink nie, maar hy het nietemin ’n groot maag van al die eet.
En dan kan hy tog so lekker uit daardie einste maag lag as hy sy stories vertel. My ma is baie gemaklik met wie sy is – iemand wat nog ’n stuk kinderlikheid in haar saamdra.”
Die vroue in die bedryf wat haar inspireer, is mense wat ook hul eie ding doen, soos Sandra Prinsloo, Anna-Mart van der Merwe, Marion Holm en Elsabé Daneel.
“Hulle skryf, doen regie en skep nuwe werk. Én hulle leef gebalanseerd omdat hulle nie toelaat dat die bedryf hul hele identiteit oorneem nie.”
Sy vertel hoe sy twee jaar gelede saam met Sandra in Nag, Ma was wat by die Grahamstadfees as een van die topproduksies bestempel is. Maar ’n latere, vernietigende resensie het haar byna teen die planke gehad.
“Die resensent het na my as ’n ‘pap wiel’ verwys. Sandra wou dit aanvanklik van my weghou maar sy kon nie … Daardie gevoel van verwerping! Omdat jy so alles gee as jy op die verhoog is, is jy ongelooflik weer-loos. Ek het aan net mooi álles begin twyfel, maar Sandra het báie mooi met my gepraat, my probeer oorreed om my dit nie so aan te trek nie – dalk omdat sy ook al so iets moes hanteer.”
Hulle het besluit om dit nog een keer op die Stellenbosse Woordfees op te voer.
“Ek het baie krities na my spel gaan kyk sodat ek enige foute kon uitskakel en my toe met groot moeite sover gekry om maar weer op daardie verhoog te klim.”
Met verrassende gevolge … Deon Meyer, draaiboekskrywer en regisseur van ‘Die Laaste Tango’, was in die gehoor. En haar vermoëns as aktrise het hom so beïndruk dat hy haar die volgende dag gebel en die rol van Ella aangebied het. Antoinette het weer alles gegee wat sy het.
“Wanneer ek aan ’n karakter werk, is dit vir my fassinerend om te probeer deur- grond wat in die binneste van so ’n mens aangaan. Waarom tree sy só op? Waar kom daardie weerloosheid vandaan wat sy te bang is om vir die buitewêreld te wys?
“Ek moes al van ’n moordenaar speel tot iemand wat haarself om die lewe bring. Niemand weet werklik wat in ’n ander se lewe aangaan nie. Daarom durf ek as aktrise, en ook in die werklike lewe, nie iemand op sy of haar baadjie oordeel nie.”
Vir ’n oomblik is daar net die geluid van die bergwater wat tuin-af vloei, ’n vredigheid in en om ons wat dit onnodig maak om te praat. “Dit voel of ek vir die res van my lewe net hier kan bly sit,” sê sy sag. Maar omdat ons albei nog stories moet gaan vertel, druk ek haar en vra of sy langs die pad dalk nog iets geleer het wat sy met die res van die wêreld kan deel.
En sy antwoord: “Om eerliker met myself te wees, nie weg te hardloop van die dinge in my waarvan ek nie hou nie en my nie met ander te vergelyk nie. En, baie belangrik, om ook erkenning aan myself te gee … soms maar sagter op myself te wees.”