Dié ongewilde karakter is die bombastiese redakteur en trendsetter, Amore Meyer, wat nou die een inwoner na die ander in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel, verkeerd opvryf.
So het sy al swaarde met Angie (Char Carrie) gekruis en verkleineer byna die hele tyd haar nuwe assistent, Demi (René Cloete). Sy het ook vir Elana (Esther van Waltsleben), ’n ou kennis, oortuig om vir haar by Pronk, die aanlyn mode- en stylplatform wat sy bestuur, te kom werk.
Atoinette Louw, wat Amore vertolk, vertel meer oor haar omstrede karakter.
Hoe sal jy Amore beskryf?
Ek gaan nie jok nie. Die eerste keer toe ek die teks gelees het, het ek gedink Amore is ’n aaklige entjie mens. Ek het absoluut niks van haar gehou nie. Maar my werk as akteur is nie om die karakter wat ek vertolk, te oordeel nie maar om raakpunte te kry. Selfs al is dit nie in die teks nie.
Geen mens is of net sleg of net goed nie. En mense soos Amore het redes waarom hulle optree soos hulle optree – gewoonlik as gevolg van eie trauma en persoonlike worstelinge. So, ek het ’n ongelooflike deernis vir Amore ontwikkel.
Met die eerste oogopslag is Amore manipulerend en sy gebruik mense om te kry wat sy wil hê – dit maak nie saak wat die gevolge daarvan is of wie sy seermaak nie. En sy gebruik allerhande selfregverdigings om haar gedrag te verskoon. Sy is al so gewoond daaraan dat sy blind geword het daarvoor.
Maar in die werklikheid voel sy ongelooflik eensaam in hierdie wêreld, en sy dra ’n diepe pyn wat sy vir niemand wil wys nie. Sy maak eerder ander seer as wat sy haar eie pyn voel.
Amore maak haarself baie ongewild in Ruiterbosch, maar het sy darem ’n goeie eienskap of twee en wat is dit?
Jy sal dit nie glo nie, maar sy het! Amore is ongelooflik passievol en hardwerkend. Ek bewonder dit. En mens sien dit nie altyd nie, maar sy het ook ’n goeie sin vir humor.
Hoe dink jy moet mens boeliegedrag van iemand soos Amore hanteer?
Een ding weet ek vir seker – om dit nie vir jouself te hou nie. Praat met iemand daaroor. Rapporteer dit. Om stil te bly vererger net die boelie se gedrag. Maar dis ook belangrik dat die persoon wat geboelie word, daaroor te praat – anders kan dit tot emosionele skade ly.
Lees ook: Suidooster storm voort met hul immergewilde Stomsterk-konsert!
Wat dink jy is die boodskap van hierdie storielyn?
Ons almal het keuses in die lewe. En vir elke keuse wat ek maak is daar gevolge – en net ekself is verantwoordelik en moet pa staan vir daardie keuses en gevolge. Ja, ons is individue, maar die individu is nooit belangriker as sy/haar gemeenskap nie. Dis waar ons sterkte lê – in ons saamstaan en ondersteuning van mekaar.
Wat het jy geniet van om Amore te speel en op ’n sepiestel te wees?
Ek het vergeet onder watter geweldige druk en vinnige pas almal werk. In die begin was ek vreesbevange. As dit nie vir elke persoon in die Suidooster-span se geduld en kindness was nie, sou ek ’n senuweeineenstorting gehad het! Die mense in die span was die rede dat ek later myself (en Amore se feeksagtigheid!) kon geniet.
Lees ook: Die Brug is terug! Wat wag in die tweede seisoen?
Waarmee is jy nog besig?
Wel, ek opgewonde om te sê dat die nuwe fliek waarin ek speel, Die dekonstruksie van Retta Blom, op 23 Mei in teaters uitgereik word (Ster-Kinekor en Nu Metro). Dis ’n kombinasie van lekker lag en ’n bietjie huil.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae met Nadia Beukes oor haar eerste rol as regisseur in nuwe teaterproduksie