Ons hét gehoor. Ons ís gewillig om minder antibiotika te gebruik. Maar hóé oorleef jy sinusitis, laringitis of selfs brongitis sonder antibiotika? Hoekom is dokters vanjaar opnuut suinig met ons almal se staatmaker?
Teen die tyd weet ons alles van weerstandige bakterieë, al besef ons nog nie hoe erg dit kan word nie. Volgens die CDC se 2016-syfers sterf daar net in Amerika nou reeds 23 000 mense per jaar aan infeksies wat voorheen maklik met antibiotika genees is. Tot ’n dekade gelede sou dokters byna almal met ’n kursus antibiotika kon deurtrek.
Met ons staatmakers aan die vou, is dit tyd om antibiotika as Plan B te beskou.
Maar sal dit werk? Volgens dieselfde bron herstel twee miljoen pasiënte met weerstandige kieme vanself. As jy die twee syfers saamklits en die sterftes uitdruk as ’n persentasie, kom jy daarby uit dat 99 uit elke 100 van hierdie pasiënte sónder antibiotika gesond geword het, selfs al het hulle met weerstandige kieme te doen gehad.
Duidelik weet jou liggaam hoe om homself te genees. Maar ons en ons dokters glo dit nie. Kyk net hoeveel antibiotika gebruik ons, volgens ’n artikel deur ’n navorsingspan van Universiteit van Kaapstad in die Februarie 2017-uitgawe van die SA Medical Journal.
Hulle het ’n allemintige 166 821 eise wat in 2013 by ons elf grootste mediese fondse ingedien is, deurgewerk om eise te identifiseer wat met brongitis verband hou.
Hoe lank van siek tot gesond?
• Verkoues en griep: 10 dae
• Oorinfeksie: 4 dae
• Seer keel: 7 dae
• Sinusitis: 21 dae
• Brongitis: 21 dae
• Mangelinfeksie: 7 dae
• Hoes: 21 dae
Wat is bevind?
Meer as die helfte van die pasiënte (53%) het antibiotika ontvang.
Nog erger: daar is selfs meer kere antibiotika voorgeskryf vir mense met ’n vermoedelike virusinfeksie, waarvoor antibiotika in elk geval nie help nie, as vir mense met bakteriële brongitis verwante toestande (59% teenoor 53%).
Dokters skryf antibiotika om verstaanbare redes voor: hulle ken en vertrou antibiotika omdat hulle dit talle kere sien werk het in pasiënte wat ernstig siek is.
Maar wat gebeur as hulle dit sou los? Die resultate by Groote Schuur-hospitaal was verstommend: in 2011 is 1 046 dosisse antibiotika per 1 000 pasiëntdae gebruik; dit is gesny na sowat 870 dosisse. Die aantal sterftes het nie toegeneem nie. Die aantal hertoelatings ook nie.
Dit is ’n staatshospitaal wat verplig is om almal te behandel. Daar is nie sprake daarvan dat hulle minder siek mense trek nie. Dit wys jou net. Daarby was die netto besparing R2,8 miljoen, wat laboratoriumkoste insluit.
Wat as jy hondsiek voel?
Die Britse National Health System se NICE Guidelines is ’n baie nuttige stel riglyne wat eintlik vir dokters bedoel is. Hierdie uitkomsgebaseerde riglyne word beskou as uiters verantwoordelik en betroubaar, en daarvolgens het jy nie antibiotika vir verkoues nodig nie.
Ook nie vir ’n seer keel of ’n hoes of selfs vir mangelinfeksie, oorinfeksie, brongitis of sinusitis nie.
Volgens die NICE-riglyne het jy net die antibiotika met die naam “Tyd” nodig sodat jou lyf kans kry om self terug te veg. Jou dokter behóórt jou huis toe te stuur met niks meer as advies oor hoe lank dit sal neem om heeltemal te herstel nie en die opdrag dat jy moet rus. Dalk met ietsie vir die pyn en verligting van jou simptome.
Vir ’n sinusitis sal die dokter iets gee vir pyn en koors (as jy koorsig is) en ’n slymverdunner sodat die slym makliker kan dreineer. Jy sal binne 21 dae gesond wees.
Ás jy ná die verwagte siekteduur steeds siek is, kan jou dokter antibiotika oorweeg, mits jou koors bo 38 is. Ook maar net mits jy gehou het by die voorstelle om jou lyf te ondersteun.
Daar is darem enkele uitsonderings, soos mense met gevorderde hartkwale of dié wat op kortisoon is weens ander ernstige toestande soos vigs of kanker.
Wat doen jy en Tyd-antibiotika?
Die antwoord is grootliks selfmedikasie as alternatief vir antibiotika. Dit het ’n interessante kant: selfsorg en selfbemag-tiging. Doen al die regte selfsorgdinge-tjies: bedrus, genoeg water en ekstra vitamien C. Hoes en nies higiënies en was jou hande sodat jy nie ander mense aansteek nie.
Vir raad oor selfmedikasie kan jy gerus jou apteker gebruik, sê Glen, ’n apteker in ’n private praktyk. “Jy moet darem ook weet wat jy doen: oor-die-toonbank medikasie is nie sommer net water nie. Die aktiewe middels daarin kan jou slymvliese opdroog maar ook uitdroog; dit kan die slym laat verdik, wat jou sinusse kan opblok, of jou slym laat verdun, wat jou neus meer laat loop maar darem beter is vir jou sinusse.
“Gesels met jou apteker. Lys jou drie ergste simptome en sê ook vir ons wat jou gewone swakplek is. Slaan jou verkoue maklik oor in sinusitis? Of kry jy eerder ’n borsverkoue of stembandinfeksie?Dit gee ons die leidrade om die beste middels vir jou uit te soek.
“My tweede brokkie raad: kry ’n koorspen. Teken jou koors elke oggend en aand aan sodat jy ’n bevestigde rekord het. As jy ná ’n week koorsig bly of skielik ’n koors bo 38 het, is dit tyd om dokter toe te gaan.”
Die tweede aspek van selfsorg gaan oor voorkoming.
Dit is so maklik as om te keer dat kieme Uber tot op jou hande en daarvandaan in jou neus en mond beland.
Dink veral aan plekke waaraan jy en die hele wêreld vat, soos winkelwaentjies, kaartmasjiene, hysbakknoppies en die ketel en waterkoeler by die werk. Was jou hande sodra jy tuiskom.
Moenie nie aan jou gesig vat nie; en bly taamlik fiks. As jy siek is, wees bedagsaam en hoes en nies in jou mou of sakdoek. Was ook jou hande gereeld sodat jy nie jou kieme oral los nie.
Lees ook: Maak jou werk jou siek?