Deur Ansu Visser. Foto’s: Edwin van der Walt.
Ek sukkel om besluite te neem. En ek wens ek kon sê dat dit net beperk is tot belangrike lewenskeuses, maar soms raak dit die eenvoudige goed – soos watter pizza ek vir aandete wil bestel.
Hoe moeilik dit is om ’n besluit te neem, hang af van die belangrikheid van die situasie. Ek wonder dus gereeld hoe ek my trourok gaan kies!
Maar om ’n rok te koop vir die heel eerste filmpremière waar ek ’n karakter met ’n naam gespeel het, Wonderlus, het ek vrede gehad.
My inkopieroetine vir geleenthede is as volg:
- Ek besoek YDE en YDE alleenlik. Dit lyk my ek vind gewoonlik dit waarna ek soek, selfs wanneer ek nie eers weet ek soek daarna nie!
- Ek begin in die eerste ry en dan hou ek aan soek tot ek vyf rokke kry. (Jy mag net vyf items op ’n slag aanpas). Ek trek elke liewe rok aan wat my aandag vir meer as 5 sekondes kan hou. So weet ek uiteindelik dat ek elke liewe ding in die winkel aangepas het en dat ek dus die rok met vrede in my hart kan koop.
- Ons gesin se WhatsApp-groepie word gebombardeer tot op die punt waar ek dink dat iemand die groep sal “mute” (niemand “mute” mos hul familiegroepe nie, né?)
- Dan begin die eliminasieproses. Sekere rokke keer terug na hul punte van oorsprong en ander rus veilig oor my arm.
- Ek stap terug na waar ek laas opgehou het, en dan begin ek weer rokke kies totdat ek weer vyf items het. Dan keer ek terug na die aantrekhokkie. (Ek moet erken ek het een keer 15 rokke aanprobeer).
- Gewoonlik is daar twee rokke waaroor ek mal is en waartussen ek nie kan kies nie. Dan ek vra die winkelassistente om hulle vir my uit te hou sodat ek ’n dag kan neem om daaroor te dink. Die een waaroor ek aanhou dink, is die een wat ek veronderstel is om te koop.
- Ek keer die volgende dag terug en koop die een waaraan ek gedink het.
My logika agter hierdie hele proses is as volg: Hoe meer rokke ek aanpas, hoe meer sal die een waaraan my hart behoort na vore kom deur in my gedagtes te bly – selfs al pas ek hoeveel ander rokke aan.
(Amper soos om “Die Een” te vind).
Terwyl ek hierdie blog skryf, en as gevolg van ’n paar vroegoggendgesprekke met my vriende, besef ek daar is dalk ’n probleem met my onvermoë om besluite te neem, my inkopieroetine en my idee oor hoe om “die een” te vind.
Jy sien, ek kon myself ’n hele dag se oorweging en nadenke gespaar het. Ek kon myself gered het van die nodigheid om vyf ekstra rokke aan te probeer, en ek kon eerder gaan koffie drink het as om doodseker te maak dat dit wat ek wil hê regtig is wat ek dink ek wil hê.
Hierdie rok was een van die eerste 5 kledingstukke wat ek aangepas het. Die oomblik toe ek dit aantrek, het ek al die feels gevoel. Die vlindertjies het gefladder en ek het breed geglimlag. So ek het geweet ek wou hierdie een hê. Maar ek moes eers seker maak dat hierdie een dié een was.
Om myself te vertrou, is iets wat ek nog besig is om te leer. Want ek het die volgende uur daaraan bestee om doodseker te maak: Ek het die winkelassistente gevra om dit vir my eenkant te bêre. Ek het die volgende dag na ’n ander winkelsentrum toe gery om ’n rok aan te probeer wat ek daar gesien het, net om terug te ry om hierdie ene te koop.
Dit het my laat besef waarna ek moet luister wanneer ek besluite neem, en myself dan met vrymoedigheid en dapperheid te vertrou.
Hierdie rok lyk dalk asof dit ’n eenvoudige besluit was om te neem – een van daai wat hulleself kies. Maar ek het dit moeilik gemaak.
En daarmee gaan ek ophou.