Deur Ansu Visser. Foto’s: Edwin van der Walt
Ek onthou ’n tyd toe daar nie regtig ’n swembroekvoorkeur was nie, omdat daar net een soort swembroek was. Dit was die bikini. En daar was baie van hulle. So, die keuse was sommer reeds vr jou gemaak.
Deesdae is die vol swembroek (soos die meeste van die 90’s inspired style) terug en dit lyk of ons darem nou weer ’n keuse het wanneer dit by swembroeke kom.
Maar is dit werklik ’n keuse wanneer daar nie meer ’n reg of verkeerd is nie?
Die meeste mense se liggaamstipe en selfvertoue in hul lyfies beïnvloed die keuse tussen ’n bikini of vol kostuum. My keuse word gemaak deur die volgende vraag: “Watter een sien ek die meeste?” Die antwoord op daai een is gewoonlik die nuutste modegier en dan bind ek daai giergordel so gou as moontlik aan my vas.
Met die terugkeer van die vol swembroek wil dit vir my voorkom asof daar vir die eerste keer ’n balans is tussen bikini’s en vol swembroeke wat terselfdertyd in die mode is. Dit wil vir my voorkom asof jou lyf en hoe jy daarin voel niks meer te doen het met jou keuse van watter swembroek jy moet of wil dra nie.
Hier is die bewyse
Tussen 1900 en die middel-1900’s het swembroeke ontwikkel van wol-items, na rokke, na jy-mag-nie-swem-nie, na dungaree-swembroeke, na jy-gaan-gearresteer-word-as-dit-nie-onder-die-knieg-sit-nie, na vol swembroeke, na ’n bikini, tot ietsie heelwat minder as ’n bikini. Ek voel asof hulle in hierdie halfdekade nog besluit of swembroeke wettig mag wees of nie.
Uiteindelik kry swembroeke die groot “stamp of approval”. In 1940, lyk dit my, het mense vrede begin gemaak daarmee en dit is toe dat die groot stryd tussen bikini’s en vol swembroeke eintlik begin het …
Miskien dink jy die groot stryd is terug met die terugkeer van vol swembroeke, maar ek sal graag met jou stry.
Die bikini
In die omtrek van 1907 sou iets soos die bikini jou in groot moeilikheid by die polisie gekry het, jy sou uit die kerk gejaag word en jy sou sekerlik verban word uit die Deeglike-Dames-boekklub.
Volgens Time Magazine het die Franse ontwerper Louis Réard die bikini in 1946 ontwerp met die doel dat mense met die viering van vrede na die Tweede Wêreldoorlog hulself weer sal wil geniet.
Ek weet ek is ’n maer meisie – my heupe lieg egter ook nie – maar oor die algemeen val ek in daai kategorie van die maeres. Vir my korte 25 jaar van bestaan was die bikini my swembroekkeuse danksy my liewe moeder. Jy sien, toe die meeste meisies van my ouderdom begin besef dat hul lyfies nie meer lyk soos wat al die tydskrifte sê hulle moet lyk nie, het ek ook gedink ek moet die groepie van skame-Susannas join. Almal haat hulle lyfies; ek moet dan ook.
Maar my ma het my nie toegelaat nie. Nog voor ek daaraan kon dink om haar te vra om vir my ’n broek te koop wat ek oor my swembroek kan dra, het die “jy-het-’n-pragtige-lyfie” speech begin. As ek verder sou aanhou karring, sou sy net weier om een te koop. Dit mag dalk wreed voorkom, maar sy het my van kleins af geleer dat ek nie soos almal anders hoef aan te trek nie. Haar gunsteling- sêding is immers: “As hulle in die vuur spring, gaan jy ook?”
Sy het my toe al geleer wat die ontwikkeling van swembroeke 120 jaar gevat het om te leer.
Die vol swembroek
Hierdie een is my pa se trots.
Ek was altyd onder die indruk dat mense wat hul lywe wil toemaak dit met berge en berge klere probeer wegsteek. Dit is meestal waar. Maar deesdae is dit asof die teenoorgestelde waar is – meeste meisies probeer nou soos seuntjies aantrek (geen skewe kyke van my af nie! Ek beskryf hier my eie styl). Met die sneaker-styl en oorgroot T-hemde probeer ons nie meer spog met wat ons mamma’s vir ons gegee het nie, maar ons probeer ook nie om dit weg te steek nie.
Die nuutste ontwikkeling in die modewêreld is wat, volgens my, met die ontwikkeling van die swembroek gebeur het … die feit dat ’n bikini én ’n vol swembroek albei in die mode is.
Jou voorkeur in swembroeke word nie meer beïnvloed deur jou liggaamsbou of hoe jy in jou lyf voel nie. Vol swembroeke is terug en jy kan dit met gemak dra, of jy nou ’n kurwe-Karien of ’n maer-Marietjie is.
Ek is verlief op die klassieke vol swembroek-styl. Dis oulik, vleiend, ’n stoute-oog-knip-op-die-strand en net pure pret.
Dis gemaklik, maar tog so sexy.
Ek sou sê dat hierdie “nuwe” modegier met tyd ontwikkel het, nie deur wat in of uit die mode is nie, maar deur die veranderende perspektief van mense. Ons verstaan nou dat om mekaar te aanvaar, meer belangrik is. Ons erken dat ons almal verskillend is, maar ons wil nog steeds mekaar se verskille vier.
Die ontwikkeling van swembroeke is ’n bewys dat geskiedenis nie net glo in die goue reël van less is more nie, maar dat mense oor tyd verander het.
So kies die bikini, of vol swembroek, of altwee. Ek het. Dit maak nie saak watter een jy dra nie want jy moet weet die wêreld sê saam: you do you, boo.
*Ek weet daar is ander redes, anders as hoe gemaklik jy in jou eie lyf voel, wat ook ’n rol speel in jou keuse van ’n swembroek. Soos sekere swembroeke wat nie mooi lyk aan alle lywe. Maar vir die doel van hierdie blog het ek gefokus op jou “body image,” omdat dit een is waarmee ek die meeste vereenselwig.