Annette de la Porte oor ’n land vol krisante en boodskappe van jou lyf deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf. Hooffoto: Annette en haar gesin
1. Vertel van jou grootwordjare en jou besluit om ’n maatskaplike werker te word.
Ek was geseënd om onder die blou lug van Schoemanshoek groot te word op ’n plaas tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte.
My ouers het geboer: my pa met alles waarvoor daar ’n mark was, van vrugte, tabak en aartappels tot groentesaad, en my ma met blomme – ’n land vol krisante. My pa het graag uitgedeel wat beskikbaar was op die plaas. As iemand kom kuier het, het hulle ’n pakkie appelkose of perskes gekry of aartappels wanneer dit in seisoen was. My ma het ’n naaldwerkprojek tussen haar buurvroue begin en saam het hulle gesorg vir ’n aandete wanneer ’n gesin in ’n krisis was. My ouers was leiers in die kerkgemeenskap en my ma het die kerkkoor afgerig. Ek het kleintyd gesê dat ons Sondae op die “solder” sit (die galery vir die koor langs die kerkorrel).
Omgee vir hulle medemens is wat my ouers geleef het en so het my begeerte gegroei om deur maatskaplike werk ’n verskil in my gemeenskap te maak.
2. Jy het ook ’n sterk sakesin – vertel van jou besigheidservaring.
Ek het in 1982 as maatskaplike werker begin werk en die reuse bedrag van R10 per uur verdien na vyf jaar se studies en twee grade. Nadat ons met twee dogters 16 maande uit mekaar geseën is, was ek altyd op die uitkyk vir maniere om ’n ekstra inkomste te genereer. Persoonlike ontwikkeling was altyd vir my ’n prioriteit en ek het programme verkoop om mense se selfbeeld te verbeter en was ook vir 12 jaar lank betrokke by netwerkbemarking, voordat ek ook vir 12 jaar ’n eiendomsagent was. Ek was ook vir vyf jaar fondswerwer vir HospiVisie, my man se NWO, waar ons innoverende maniere moes vind vir fondsinsameling.
3. Soms het jy in Afrika gereis vir werk – vertel ’n bietjie!
Ek is ’n baanbreker wat graag met nuwe inisiatiewe begin. My besigheid het uitgebrei na Botswana, Zambië, Tanzanië en Kenia. Die opwindendste daarvan was vir die my 12 keer wat ek in ’n periode van twee jaar met ’n Honda Ballade van Pretoria na Lusaka en die Koperstreek in Zambië gery het. Ons was gewoonlik ‘n span van drie bestuurders, maar ’n paar keer was ons net twee vrouens en dit was vir my ’n groot avontuur saam met die Here. Dit was vir my iets van Livingstone se geloofs- en sendingreise: “to boldly go where no man went before.”
Genadiglik is ek geseën met ’n man sonder ego, wat my toegelaat en geseën het om my vlerke te sprei. Die mense van Afrika het my geleer dat ons almal presies dieselfde drome droom: om genoeg geld te verdien om vir ons kinders goeie geleenthede te gee, gesonde kos op die tafel te sit en ook te kan sorg vir dié wat minder bevoorreg is as ons. Ek het my verstom vir hoe hulle verantwoordelikheid neem vir hulle uitgebreide gesinne. ’n Ingenieur by wie ek dikwels tuisgegaan het in sy eenvoudige huis in Dar es Salaam het nie net vir sy eie vier kinders gesorg nie, maar ook sy skoonsuster en haar drie kinders aan huis geneem na sy broer se dood. Ek het in Afrika-busse gery met lewendige hoenders in hokke en sinkplate op die dak. In Moshi en Dar was ek dikwels die enigste “musungu” (wit vrou) in die minibus taxi en my wit gesig het menige swart kindjie die skrik op die lyf gejaag want ek was seker die eerste wit mens wat hulle gesien het. Ek het gegroei in deursettingsvermoë soos ek met my bruin velskoene deur die stofstrate van Dar es Salaam gestap het vir afsprake. Ek onthou ’n spesifieke dag wat ek in frustrasie vir myself gevra het: Wat maak ek hier? En myself geantwoord het in die woorde van Martin Luther King: “I have a dream.” My droom was toe reeds om ’n impak te maak om mense se lewens te verbeter. My missie is steeds: “To leave people better than I found them.”
4. Jy het onlangs as Emosionele Logika-afrigter en opleier gekwalifiseer. Wat is Emosionele Logika?
Jou lyf kan nie vir jou ’n WhatsApp stuur nie. Dit stuur vir jou ’n emosie. Wanneer jy die emosie ignoreer of onderdruk, stuur jou lyf vir jou ’n pyn. Wanneer jy net ’n pilletjie sluk vir jou hoofpyn, kan jou liggaam so desperaat raak om jou aandag te kry dat dit vir jou ’n siekte kan stuur om jou te dwing om tot stilstand te kom en aandag te gee aan jouself.
In ons familie se reis met depressie het ek altyd gesoek na ’n legkaartstukkie wat vir my ontbreek het. Ek het ervaar dat ons nie insig het in ons emosies nie en te veel gewig daaraan gee en toelaat dat dit ons lewe beheer, of dat ons met totale disrespek met ons emosies omgaan en dit minimaliseer. Ek het gesoek na iets wat kon toevoeg tot die holistiese benadering wat ons reeds gevolg het met medikasie, oefening, gesond eet en vitamienaanvullings, berading (sielkundige of maatskaplike werker), psigiater en ’n fokus op kommunikasie met God en met mekaar.
Emosionele Logika is ’n lewensvaardigheid wat jou help om te identifiseer oor watter terugslae jy treur. Elke emosie wat ons ervaar, het ’n nuttige doel en dit hou verband met jou lewenswaardes. Dit is 16 jaar gelede deur Dr Trevor Griffiths in Brittanje ontwikkel. Hy het as mediese dokter waargeneem dat mense met depressie en angs reageer op die terugslae van die lewe. Om slegs medikasie te neem, spreek nie die probleem aan nie.
Soms beland ons in ’n maalkolk van twee emosies, soos skok en ontkenning. Die skokreaksie laat jou na binne kyk en soek na ’n veilige plek om jou kapasiteit te verken om die probleem te hanteer. Ontkenning is die energie wat jou na buite trek en in staat stel om steeds aan te gaan met noodsaaklike aktiwiteite van die lewe, te midde van ’n krisis. Tussen dié twee uiteenlopende pole val ons vas in magteloosheid en benut nie die geleenthede vir persoonlike groei deur elke emosie individueel te beleef of die logika daaragter te verstaan nie. Emosionele logika het my gehelp om die boodskappe van my emosies te hoor en te begryp. Deur nuwe keuses te maak, kon ek my emosionele energie vrystel om uit die maalkolke te vloei waarin dit vasgevang was.
5. Jy het in twee gevangenisse en twee psigiatriese hospitale gewerk. Wat het jy daar geleer?
As maatskaplike werker in Stikland Hospitaal was dit my taak om die familie van pasiënte wat met depressie gediagnoseer was, emosioneel te ondersteun en te help om die siekte te verstaan. Min het ek toe geweet dat dit so intiem deel van ons eie lewe sou word.
Toe André, my man, na sy Teologiese studies vir twee jaar diensplig opgeroep is, was hy as kapelaan by 1 Militêre hospitaal in Pretoria gestasioneer. Ek kon aansoek doen vir ’n pos by Weskoppies Hospitaal in Pretoria. Daar het ek beleef hoe maatskaplike werkers in welsynsorganisasies sukkel met die opnameprosedure van psigotiese pasiente en ’n ope dag gereël om hulle toe te rus met die regte prosedures en beter samewerking met die hospitaal te bewerkstellig. ’n Senior maatskaplike werker in die gevangenisdiens het die dag bygewoon en was so beïndruk met my inisiatief dat hy my genooi het om by die gevangenis aansoek te doen vir werk.
In daardie dae het die ekstra R100 gevaartoelaag per maand en gratis behuising op die perseel by Zonderwater gevangenis my getrek. Nadat André sy diensplig voltooi het, het hy voltyds aan sy doktorsgraad oor siekepastoraat gewerk en wou naby aan sy promotor, Prof. Louw, in Stellenbosch wees. Daar was ’n maatskaplike werkpos beskikbaar by Pollsmoor gevangenis in Tokai en ons het terug verhuis na Kaapstad.
My werk in psigiatriese hospitale het my bewus gemaak van die geweldige omvang van die stigma wat met kop-siektes gepaard gaan. Wanneer jy ’n hartkwaal het en jy moet ’n pilletjie daarvoor drink, of ’n ysteraanvulling drink vir jou anemie, is dit aanvaarbaar. Benodig jy egter ’n anti-depressant om die tekort aan oordragstowwe in jou brein aan te vul, is jy die kluts kwyt. Familie veroordeel jou wanneer jy gehospitaliseer word vir depressie: “Wat is fout met die man dat hy sukkel met stress en depressie? Hy is dan ’n Christen.” Wanneer jy kanker het en chemoterapie ontvang, bring jou vriende aandete en kom sit langs jou bed. Depressie isoleer. Onkunde bou vooroordele en ongemak.
In die gevangenis het ek baie diep ervarings gehad om saam met mense binnetoe te kyk sodat hulle weer ’n toekomsvisie kon ontwikkel. ’n Verkeerde keuse word selde in een oomblik gemaak. My roeping is Jesaja 61: 1-3: “Hy het my gestuur om die wat moedeloos is op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir die wat opgesluit is.” Soms is ons opgesluit in die trauma van ons verlede en dit sluk al ons energie en toekomsvisie in.
6. Julle het twee dogters. Hoe ervaar jy ma-wees?
Om Danica en Githa se ouers te wees is een van die hoogtepunte van my en André se lewens. Van ons kosbaarste mamma-en-dogtertye was in die motor. Ons het gesing en gelag op pad skool toe soggens en in die middae was ek die gretige luisteraar na die gebeure van die dag. Perdry, ballet en drama was ons middaguitstappies en hulle ken nou nog die woorde van die lofprysing-“tapes” wat ek in die motor gespeel het. Danica se naam beteken morester en Githa se naam beteken geskenk. Hulle is ligdraers en verskilmakers vir almal wat met hulle in aanraking kom. André was ’n predikant in die NG Kerk en het daarna ’n NWO (niewinsgewende organisasie) in hospitaalbediening begin toe hulle nog in die laerskool was. Gesprekke om ons eetkamertafel het gehandel oor mense en hoe om hulle te help en ’n verskil in hulle lewens te maak. Albei ons dogters is maatskaplike werkers. Danica spesialiseer in traumawerk en Githa neem op die oomblik tyd uit haar beroep om voor te berei om mamma te word van ons eerste kleinkind.
7. Wat is jou wens vir jou dogters en alle jong vroue?
Toe ons kinders klein was, het ons eendag ’n lys gemaak van wat ons wou hê hulle moes as volwassenes kon doen. Die eerste item op ons lys was dat hulle goeie kommunikeerders moes wees, geskool in sosiale vaardighede. My wens is dat my dogters en alle jong vroue hulself sal ken en begryp dat verhoudings die kern van ons menswees is. Dit sluit jou verhouding met God en met jouself in. Jy moet leer hoe om jouself lief te hê sodat jy ander mense met wysheid sal liefhê en nie ten koste van jouself nie.
Ken die ritme van jou persoonlikheid en hoe jy herlaai (nie net hoe jy passief afskakel nie). Andre, Danica en Githa herlaai as introverte deur doelgerig tyd alleen deur te bring. Ek herlaai deur my interaksie met mense. Die Here het my geseën met twee ekstrovert- skoonseuns wat my help om gesonde balans in ons familie te bring.
8. Wat is die lekkerste dinge wat jy en André saam doen?
Ons is baie lief vir die see. Sedert ons vier jaar gelede Kaapstad toe verhuis het, gaan ons graag op ’n Sondag laatmiddag op die promenade by Seepunt stap. Ons is albei lief vir fliek en lees. Ons sien alles uit teenoorgestelde hoeke en lug met vrymoedigheid ons uiteenlopende opinies oor die lewe teenoor mekaar.
9. ’n Sin vir humor is jou baie belangrik en jy lag graag …
Om te lag help om die atmosfeer van swaarmoedigheid te breek wat dikwels hand aan hand met depressie gaan. Ek het ’n gewoonte gehad om saans met slaaptyd vir André iets snaaks te vertel. Dan het ons saam gelag en met ’n glimlag om die mond aan die slaap geraak. Hy noem my sy “funny girl.” In ons moeilikste tye het my lag ook stil geword. Wanneer jy vir jou maat n grappie twee keer moet verduidelik, is die snaaks daarvan weg. Ek het my lag teruggevind. Dit is ook steeds ’n waarde in ons huwelik om vir onsself en ons probleme te kan lag.
10. Watter dinge gee jou die grootste plesier?
Ek is ’n bemoediger en hou daarvan om mense te bemagtig met nuwe verhoudingsvaardighede. My grootste vreugde is om die lig in iemand se oë te sien aangaan wanneer hulle ’n nuwe insig oor hulself ontdek of ek vir hulle ’n nuwe strategie kan leer om hulle probleme mee te hanteer.
11. Ons het ’n voëltjie hoor fluit dat jy eersdaags ouma gaan word …
Githa en Simon woon in Wellington en ons sien met afwagting uit na die geboorte van Lucy-Antoinette aan die einde van Mei 2020.
12. Werkswinkels, praatjies en berading – vertel ons meer
André het ’n kursus oor depressie geskryf met die titel: “To believe in sunshine: journeying with depression.” Dit word aangebied as deel van HospiVisie se kursusse en ek bied dikwels die gedeelte aan oor ondersteuning van die familie. Ek doen praatjies oor die radio of in gemeentes / gemeenskappe oor depressie en deel uit ons praktiese leefervaring. Hoop-werkswinkels: 90 minute-sessies. Selfsorgwerkswinkels wat ’n dag duur. Dit is veral gemik op mense in die helpende professies (predikante, maatskaplike werkers en verpleegkundiges). Familielede wat self versorging doen of organisasies wat versorgers aanstel, vind ook baat by die selfsorgwerkswinkel.
Met my nuwe kwalifikasie as ’n Emosionele Logika-afrigter en opleier, wil ek ons 21 jaar van ervaring van werk in hospitale deur HospiVisie se dienslewering benut om verpleegsters en dokters toe te rus met Emosionele Logika om hulle te pantser teen die intensiteit van die trauma wat hulle daagliks beleef. Hierdie lewensvaardigheid is nie eksklusief vir die helpende professies nie. Dis juis toerusting vir Jan Publiek om persoonlike groei te bevorder en ’n nuwe taal te skep waardeur ons met ons emosies kan deel in werksverband, ons gesinne en ook ons verhouding met onsself. Ek fokus op die aanbied van werkswinkels vir die publiek en mense in die helpende professies, asook supervisie. Emosionele Logika (EL) is nog ’n nuwe vaardigheid in SA en ek is die eerste maatskaplike werker wat hierin spesialiseer. Ek doen berading vanaf ons huis in Bellville. Met soveel Suid-Afrikaners wat oorsee bly en met depressie leef, doen ek ook internasionaal berading via WhatsApp of Skype / Zoom. Ek kan via e-pos gekontak word op [email protected] of [email protected]. My selfoon nommer is +27 (0) 83 794 3537. Die koordineerder van EL in SA is Reinet Blignaut, ’n geregistreerde berader wat baanbrekerswerk doen in haar skool in Pretoria vir begaafde leerders met outisme. Sy lei onderwysers op om EL in skole toe te pas en fokus op kinders met spesiale onderrigbehoeftes. Haar e-posadres is [email protected]
My boek “Hou vas aan Hom” is in Afrikaans en Engels beskikbaar teen R150. Ek het dit self gepubliseer. Dit bevat ses stories oor ons gesin se reis met depressie. Die ander 67 stories handel oor verhoudings en die uitdagings van die lewe, soos toe die krag afgesny was omdat ons nie die rekening kon betaal nie. Dit kan via e-pos by my bestel word ([email protected]). Dit kan gekoerier word na jou naaste Pep-winkel teen ’n ekstra R40, na Postnet teen R99 of teen ’n ekstra fooi tuis afgelewer word.
Nie een van ons het beheer oor wat die lewe oor ons pad stuur nie. Ons kan kies om ’n krisis in ’n geleentheid vir groei om te draai. Vandag kan ek nie aan ons lewens dink sonder die lesse wat depressie ons geleer en hoe dit ons ten goede gevorm het nie. Geen probleem is groot genoeg vir ’n mensgemaakte permanente oplossing nie. Kry hulp. Moenie in die pyn van isolasie alleen voortploeter nie.