My hart klop by my borskas uit.
As Werner Louw dit nie kan hoor nie, is hy waarskynlik doof. Dit is ons tweede date. Ons eet middagete by +27 Café in Hatfield, want dit is tussen sy spreekkamer en ManJfique Designs se kantoor.
“Ek verstaan net nie hoe ’n man soos jy nog nooit getroud was nie?” vis ek versigtig uit.
Werner Louw trek sy skouers op. “My liefdadigheidswerk en die diere was nog altyd genoeg. En natuurlik my sport. Daar was nie werklik plek vir iemand in my lewe nie.”
My selfoon piep en ek kyk ongemerk na die skerm. Vra hom of daar nou plek vir iemand in sy lewe is, laat Barend van hom hoor. Hy en ’n kollega sit ’n paar tafels van ons af. Ek het hom vir seker nie genooi nie, hulle was hier met ons aankoms. Sal my leer om die gewildste hipster-joint in Pretoria vir middagete voor te stel.
Ek glimlag vir Werner Louw oorkant my en draai my foon onderstebo. “Dit is beter om te wag voor ’n mens so ’n groot besluit neem, Werner. Ek dink jy is baie wys.”
Hy lig ’n perfek gevormde wenkbrou. “Was Vindiesel se pa dan nie die regte een vir jou nie?”
Wie is Vindiesel se pa? Cobus! Hy praat van Cobus. “E, wel, ek het gedink hy is. Maar hy het nie gedink ek is nie. En ek het vrede met die situasie gemaak.”
Werner Louw leun simpatiek vorentoe. “Sukkel jy nog om oor die egskeiding te kom?”
Hierdie gesprek slaan nou ’n verkeerde koers in. “Glad nie, ek is klaar daaroor. En so gelukkig. Terug in my ouerhuis en alles, jy weet.”
Hy frons liggies. “Het jy die instelling van die huwelik dan só ligtelik opgeneem?”
Ek gaap nog soos ’n kabeljou op die strand toe my foon begin lui. Sonder om twee keer te dink, antwoord ek dankbaar.
“Praat oor iets anders!” sis Barend oor die foon. “Sê vir hom Cobus het besef hy is gay en dat julle steeds beste vriende is. En verander dan die onderwerp!”
Ek maak ’n paar niksseggende opmerkings sodat dit darem klink of ek met iemand anders oor iets anders praat, en lui dan af. “Jong, Werner. Die egskeiding was ’n skok, maar ek en my eks het dit werklik volwasse hanteer. Ons is steeds sulke, e, goeie vriende. Die liefde het net omgeskakel van romanties na platonies.” Ek drink ’n sluk water. “So, e, wat is jou gunsteling-hond?”
My foon piep en ek wéét sommer dit is Barend en hy keur my gekose onderwerp af.
Eindelik is ons slaaie op, ons koffiekoppies leeg en die rekening betaal. Hy het betaal, bygesê, dit beteken glo dat hy my wil beïndruk of iets.
By my motor staan ons ongemaklik rond. En toe gebeur dit. Die lang, blonde, bruingebrande Adonis van ’n Werner Louw leun nader. En nog nader. Sy oë gaan toe. Sy mond kom nader. En hy soen my. Helder oordag. In hipster-Hatfield. Terwyl ek proe soos hoenderslaai en cappuccino.
“Dankie vir vanmiddag, Annemieke. Ek bel jou ’n bietjie later.”
Daarmee is hy vort, en ek leun floutjies teen die stasiewa wat ek uit my oorlede huwelik geërf het.
“Was dit ’n Franse soen, of ’n piksoen?” vra my ma byna dringend.
“Hierdie land is in sy moer,” verklaar my pa en sit die nuus harder.
“Meer Frans as pik, Ma. Maar die man kan my mos nou nie helder oordag vrot vry op straat nie.”
My ma trek haar skouers verontskuldigend op. “Tye het verander, hy kon maar. Dit is tyd dat iemand jou weer behoorlik bykom.”
“Nee jong, die rand is ook in sy glory in.” My pa sit die nuus nóg harder.
“Jy moet jou nou nie so koekerig hou dat die man belangstelling verloor nie, Annemieke. Jy is nie meer vandag se kind nie.”
“Ag nee, magtig man, ek kán nie harder sit nie,” verklaar my pa en kyk verontwaardig na ons. “Julle vrypraatjies maak my ongemaklik.”
“Ek dra net Annemieke se belange op die hart, Liefie.” Sy draai na my, geensins in die bek geruk nie. “Nooi die man vir ete, Annemieke, dat hy kan sien jy kan kook. Ons sal nie inmeng nie.”
My pa sit die TV af. “Te veel van ’n goeie ding is nie goed nie. Daar is ’n oulike huis op skou naby jou werk, Anna. Ek sal die naweek saam met jou daarna gaan kyk. Nie spotgoedkoop nie, maar dalk kan ek selfs ’n bietjie las.”