Hy het my gevra om te trou!” Liané se kreet van blydskap weerklink so hard dat die drie baard-brille gesteurd opkyk van die stuk lap wat hulle aan die bespreek was.
“Het jy ‘ja’ gesê?” terg ek saggies, maar sluk my glimlag toe Henk my kwaai aankyk. “Stuur vir my ’n foto van die ring, toe? Ek bel jou ná werk.”
Liané mor iets van onredelike werksomstandighede en die arbeidshof, maar ek lui af.
“Raait,” begin Lafras. “Is julle reg om te vergader?”
Dewald en Henk knik en ek skakel die koffiemasjien aan. Ek het nie geweet daar is ’n vergadering nie, maar ek pak vol selfvertroue vier koppies op ’n skinkbord. “Nou daar.”
“Jy hoef regtig nie die koffie te maak nie, Annemieke,” sê Dewald toe ek die skinkbord met vier stomende koppies voor hulle neersit. “Ons is nie seksisties in hierdie kantoor nie.”
Henk, die stroewe baard-bril, maak keelskoon. “Wat Dewald bedoel, is dat jy nie hoef koffie te maak omdat jy ’n vrou is nie, maar omdat jy die mees junior werknemer is.”
Ek knik. “Dit is reg so. Ek het nie geslagsgelykheids-issues nie. Sal ons begin?” ’n Mens sou sweer ek weet waaroor die vergadering gaan.
“Paradise Hotels het ManJfique se pitch aanvaar,” deel Henk my mee. “Dit is nou die mense wat ons in Johannesburg gaan sien het, Annemieke.”
“Dit is wonderlik!” Ek en Henk het nogal vasgesit oor die kleurskema vir die hotelgroep, maar op die ou end het my pers-en-sonsondergangkleure met spatsels groen gewen. Ek is oorstelp.
“Ek soek voorstelle vir die gangmatte, duvets en gordyne voor die einde van die dag op my tafel,” beveel Henk. “Hou asseblief matigheid voor oë. Dit is nie ’n bordeel uit die jare sestig nie, maar ’n driesterhotelgroep.”
“Volgende op die agenda … ”
“En hier sit jy en jou hond in jou ouerhuis.” Barend skud sy kop afkeurend.
Liané waai sy opmerking met haar hand weg. “Ons moet oor my troue praat, Annemieke sal op haar eie tyd weer die nes verlaat.”
“Barend, jou ma sal darem baie ongelukkig wees as sy hoor dat jy so afkeurend van ouerhuise praat,” merk my ma op. “Is julle lus vir melkkos? Ek het ’n hele pot gemaak.”
“Ag, tannie Annemarie, vandat ek uit die kas geklim het, is my ma éérs dankbaar dat ek die nes verlaat het. Twee vroue in een kombuis werk mos nie.”
My ma gooi Barend met ’n vadoek. “Jou ma bederf jou baie. Ek weet, want ek was gister daar toe sy vir jou beskuit gebak het.”
“Low GI, nes ek daarvan hou,” sê hy met ’n oogknip. “Tannie kan maar vir my ’n bietjie melkkos inskep, asseblief.”
“Vir my ook, dankie.” Liané kyk bewonderend na die groteske diamant aan haar linkerhand. “Van môre af is ek op die trou-dieet.”
“Het jy verwag dat hy jou gaan vra?” Ek bewonder nou ook die groteske diamant.
“Glad nie. Die man is mos anti-trou en anti-commitment vandat ek hom ken. Maar nou ja, hy was eenvoudig nie opgewasse teen my sjarme nie,” sê Liané. Sy sprankel behoorlik. “Ek was ook glad nie lus vir trou nie, hoor. Maar nou is ek.”
Barend rol sy oë. “Ag asseblief, Liané. As jy kon, was jy al op agttien getroud.”
“En ek sou dalk gewees het, maar toe vry jy my matriekafskeid-date af.”
“Touché,” lag Barend.
“Ek het ook nuus,” begin ek huiwerig. “Vindiesel se veearts het my vir koffie genooi.”
My ma laat val die houtlepel waarmee sy besig was terstond in die pot melkkos. “Maar my kind, dis wonderlik!”
“Hoe, waar, wanneer?” vra Barend nuuskierig.
“Wel, ek het Vindiesel vir ’n opvolgbesoek of twee geneem, ’n mens kan nooit te versigtig wees nie, en toe loop ek hom in Woollies raak. Nou ja, toe vra hy my vir koffie.”
“Dit is fantasties. Veral omdat jy verder as Cobus kyk. As ek hom byvoorbeeld in Woollies sou raakloop, bliksem ek hom met die naaste bottel pastasous.”
“Liané!”
My vriendin trek haar lippe beslis saam. “Wat, Tannie? Sy quarter-life crisis het arme Anna byna onder die grond gehad.”
My ma skep die melkkos tongklikkend op. “Wat word van die wêreld. Hier sit julle nés in matriek. Nou is die een geskei, die ander gay en Liané het al die hele Pretoria gevry.”
“Ma!”
“Dis mos waar. Dink jy liewer wat jy gaan aantrek wanneer die man jou vir koffie kom haal. Nie daardie sakkerige denim nie. Eerder ietsie … seksie.”
Met wange wat brand en vriende wat proes, begin ek wonder hoe lank ek dit weer hier in die nes gaan uithou.