Die baard-brille het name. Henk, Dewald en Lafras. Dit is nou my base en die direkteure van ManJfique Designs (Edms) Bpk.
“Jy het nou nog nie ’n kantoor nie, A,” sê Lafras verskonend. “Sodra ons kontantvloei op die been is, sal ons vir jou een inrig. Jou werkstasie is voorlopig hier in die ontvangsgedeelte.”
“Hier is darem ’n koffiemasjien,” troos Dewald.
“Ons het ook vir jou ’n behoorlike rekenaar opgestel. Hier is Wi-Fi en alles,” sê Lafras trots. “Onthou, Vrydae loop ons eenuur tensy ons ’n dreigende deadline het.”
Ek knik effe oorweldig …
“E, so waarmee begin ek?”
Ek voel soos ’n skooldogtertjie in graad een. Sê nou ek verstaan glad nie die tekstielbedryf nie? Ontwerp is een ding, maar materiaal, weeftegnieke, digtheidstoetse – daarvan weet ek niks.
“Henk gaan jou eerste onder sy vlerk neem.” Dewald kyk streng na Henk, díe was tot dusver grafstil en kyk my uitdrukkingloos aan. “Hy gaan vandag kliënte spreek oor die matte, gordyne en muurpapier van ’n nuwe hotelgroep.”
“O?” Ek kyk na Henk. Beslis die moeilikste van die baard-brille. “Watter groep?”
“Paradise Hotels. En vergeet sommer nou van palmbome. Ek doen nie palmbome nie,” antwoord Henk nukkerig en kyk op sy indrukwekkende horlosie. “Jy kan jou goedjies neersit en gaan pieps, ons ry oor vyftien minute. Die kliënt is in Johannesburg en ek stop nie langs die pad nie.”
Waarin het ek my begewe? Wie praat so met ander mense? Maar ek dink aan my afspraak met die eiendomsagent later vanmiddag en glimlag asof my ablusiegewoontes elke dag aan my voorgeskryf word. Ek kort blyplek, ’n mediese fonds en moderne werksklere. Ek het hierdie betrekking nodig. “Ek sal gereed wees.”
Waarin het ek my begewe? Wie praat so met ander mense?
“Barend, ek weet nie of die werk vir my is nie.” Ek snuif en vee lastige trane af terwyl ons na ’n meenthuiskompleks in die Ooste van die Ooste van Pretoria soek. Ek wou nooit in meenthuis-manie woon nie, nou weet ek nie eens of ek dit sal kan bekostig om hier te woon nie.
“Is dit nou net omdat Henk mislik is? Ek sê mos vir jou, hy is ongeskik met almal.”
“En hy bestuur soos ’n maniak.”
“Ry volgende keer met jou eie kar. Jy chicken nie uit voordat jy jou eerste mat-gordyn-muurpapier trio ontwerp het nie, gehoor?”
“Ja, Baas Barend,” antwoord ek suur. “Ons moet nou naby wees. Die prentjie van die woonstel was ook so Toskaanserig.”
Hy ril. “Daar is darem net iets vreeslik grillerigs aan nuwe geld. Kyk daardie kitsch mansions op die bult.”
“Barend, ek kan nie bekostig om snobisties te wees nie. En ek het nie eens nuwe geld nie. Ek het eintlik geen geld nie.”
“Oukei, ontspan die boude. Ons is nou hier. Nogal St Tropez. Hierdie spul was duidelik nog nooit oorsee nie.”
Ek maak weer groot oë en sit toe maar voet aan wal by St Tropez, Oos van Pretoria Oos.
“Baie goeie koop,” draal Huibrie-die-agent. “Die eienaars sluit die gordyne by die koopprys in. Dit is pragtig, sjiffon en tafsy.”
“Klink byna soos ’n matriekafskeidrok,” merk Barend droog op.
“Twee slaapkamers, elk met ’n en-suite badkamer.” Huibrie kyk tersluiks na my linkerhand. “Gaan jy alleen hier woon of is julle … ”
“Ons is lewensmaats met ’n oop verhouding, die spaarkamer gaan dus goed te pas kom,” sê Barend asof botter nie in sy mond kan smelt nie.
“O, goed. Wel, die kliënte se behoeftes is bo. Ek het ook ’n eiendom met vier slaapkamers as julle dalk liewer … ”
“Dankie Huibrie,” onderbreek ek vriendelik. “Ek, e, hou van wat ek sien, maar ek wil my pa ook bring om te kom kyk.”
“Dis terrible,” verklaar Barend toe ons weer in sy motor sit. “Jy kan nie hier bly nie. Dit is ’n dagreis van enige ordentlike mall af en almal ry met Fortuners.”
“Ontspan die boude,” tart ek hom. “Gaan jy my nie vra oor my date met Xander nie?”
“O! Vertel! Het hy met sy toorstokkie elke gedagte aan Cobus uitgewis?”
“Barend! Natuurlik nie. Ons het gaan eet.” Ek voel hoe my keel dik word. “En toe bars ek met die wynbestellery in trane uit. Cobus het altyd wyn bestel. Ek kan nie hierdie dating-ding doen nie.”
“Hemele help ons. Kyk daar op my selfoon. Stuur my kopdokter se nommer na jou foon toe – kyk by Kop Dokter. Hy is fantasties. En ’n catch.”