Ek dink jy is baie kortsigtig.” My ma klits die pannekoekdeeg baie langer as wat S.J.A. de Villiers sou gelukkig maak.
“Los die kind, Annemarie.” My pa laat sak sy koerant en kyk na my. “Jy vat nie vir Cobus terug as jy nie wil nie, Annemieke. As ’n man ’n streep het, het hy ’n streep.”
“Sjt! Hy gaan jou hoor, Michiel.”
“Hy stort, Ma.” Ek kou aan my onderlip en vat nog ’n soetkoekie om in my tee te doop. “Ek dink nie hy wil my terughê nie, Pa.”
Die klitser se spoed word nóg opgedraai. “Waarom anders is hy hier!” bulder my ma oor die oorverdowende gezjoer.
“Ma, hy het net gevra of hy vir die volgende maand in die huis kan bly tot ons moet uittrek.”
“En toe sê jy nee!” Sy skakel die klitser beslis af. “Dit was nou die ideale kans om hom te herinner aan die redes waarom hy in die eerste plek met jou getrou het. En dan kan jy aangaan met die lewe wat vir jou bedoel … ”
“Môre, Ma,” groet die nuwe, gespierde, bruingebrande Cobus Mentz. “Anna, Pa.”
Het hy sy tande laat wit maak? Ek voel my oë vernou terwyl ek hom bekyk. Pierewaaier. Ek vertrou hom so ver ek kan spoeg, en dit is nie baie ver nie. “Môre. Ek het jou laaste klere gebring. Dit is nog in die kar, ons kan dit nou gaan haal.”
Die kalm uitdrukking wat die boeddhas op Cobus se gesig geplak het, verstrak nie. “Ek wil jou help om die huis op te pak, Anna. Ons kan behoorlik mediteer oor ons lewe saam. Die goeie dinge herleef. Ons moet afsluiting kry voor ’n nuwe begin.”
Voor ek kon keer, rol ek my oë. “Spaar my jou nuutgevonde insigte, Cobus. Alles in die huis is so te sê opgepak.” Ek staan op, die soetkoekie skoon vergete. “Julle sal my moet verskoon. Ek begin oormôre werk en ek het nog ’n paar goedjies om te doen.”
“Wat verwag hy?” tier Liané. “Dat jy hom met ope arms en wyd gespreide bene gaan verwelkom?” Dit voel asof die hele Capital Craft vir ’n oomblik ophou asemhaal om na ons te kyk.
Barend lag so dat hy aan sy bier stik. “Onthou asseblief dat ek in prentjies dink, Liané.” Dan fokus hy op my. “Verstaan ek reg? Het hy die afgelope tyd by jou ma’le gebly?”
Ek knik en skud my kop. “My pa was natuurlik gereed om hom met die vuiste by te dam, maar my ma hoop desperaat dat ons ons louwarm liefde hervat en dat die vernedering van die egskeiding alles net ’n leuen was.”
“No ways vat jy daai man terug,” gooi Nosiswe ’n stuiwer in die armbeurs. “Dit sal wees soos om nou vir jou ’n Ford Kuga te gaan koop.”
“Ek dink regtig nie dat hy my wil terughê nie, hoor. Hy wou maar net die paar sent spaar wat ’n gastehuis hom sou kos.”
“Well, the man is fearless. Is hy nie bang jou pa gooi Domestos in sy kos of iets nie?”
Ek hoor myself lag. Iets wat ek deesdae al meer doen. “My pa is ’n praktiese man. As Cobus siek is, sal hy nie kan werk nie en as hy nie werk nie, sal hy nie die onderhoud kan betaal nie.”
Barend maak groot oë. “Wat word van die wêreld, meisies?”
Iemand tik op my skouer en ek draai om. “Xander?” Klap-deur-in-gesig-toe-Xander. Cobus-se-vriend-Xander. Nee. Aarde sluk my in.
“Haai, Annemieke. Ek, wel, ek wou maar net hoor of jy al gedink het oor die uitnodiging? Ek weet ek en Cobus is pêlle, maar ek het hom gebel en gevra of hy ’n probleem daarmee sal hê as ek jou uitneem. En … ”
Liané klap haar hande triomfantlik saam. “En toe kom hy heelpad van die verre Ooste af om Annemieke terug te wen.” Sy kyk op na Xander. “Baie dankie Xander, ons verstaan nou almal die situasie baie beter. En Annemieke het nou net vir my gesê dat sy baie graag saam met jou sal wil gaan eet, nè Anna?”
Ek gaap soos ’n vis op droë grond. Ek kyk om my rond. Capital Craft voel skielik soos Alcatraz, geen uitkomkans nie. Xander kyk na my met hoop in sy oë. “E, oukei?” kwaak ek.
“Afgespreek! Môreaand? Ek kom laai jou so sewe-uur op.”