My oë kam weer oor die syfers op die spreiblad voor my. Cobus betaal vir ’n jaar onderhoud. Ek het darem as ’n gemoedstrelertjie die stasiewa gekry waarin Cobus se drie toekomstige kinders sou ry. Die huis word volgende maand in die mark gesit. Ek kry die helfte van die paaiemente wat reeds afbetaal is.
Excel moet blitsvinnig plek maak vir facebook. Search. Cobus Mentz. Asof iemand my (nou) in my eie huis afloer, kyk ek oor my skouer. Dan terug na die skerm. Die foto van Cobus in strandplakkies en ’n monnikjurk trek my soos ’n magneet. Is dit spiere wat onder die materiaal bult? Cobus het nooit eintlik spiere gehad nie. Waarom kan ’n mens foto’s op facebook net like? Wat van dislike? Dan kan Cobus soos volg in kennis gestel word:
“A photo recently shared by you was disliked by Annemieke Mentz. Of dalk: A life event reported by you recently disgusted Annemieke Mentz?
Waarom kan ’n mens foto’s op facebook net like? Wat van dislike?
Voor ek facebook van my epifanie in kennis kan stel, lui my foon. Barend. “Hoor ek reg? ’n Man, wag eers, ’n hot man het jou genooi vir ete en toe maak jy die deur in sy gesig toe? Jy moes net gegaan het, Anna!”
“Barend, Liané en Nozzie moet leer om nie my sake aan die wêreld uit te basuin nie. Buitendien, dit sal voel na verneuk.”
My gay hartsvriend klik sy tong oorverdowend. Ek kan sommer hoor hoe hy sy oë rol.“Van wanneer af is ek deel van die mense? Julle hou lekker pity parties sonder my, onthou maar net, karma is altyd aan my kant. En jy het ’n paar sessies by een of ander kopdokter nodig om jou misplaaste lojaliteitsgevoel uit te sorteer. Jy ly aan ghost-spouse syndrome, Annemieke.”
Ek sug. “Ek werk aan my psige, oukei. En ek kan die oënskynlike hot man se nommer vir jou kry as jy dit beter kan benut.”
“Ek bel eintlik oor werk, Anna-Kepanna. Jy gaan nie vir altyd van Cobus se vrygewige spene kan drink nie.”
“Gross.” Kan Barend gedagtes lees? Of loer hy my regtig af? Ek kyk sommer weer oor my skouer.
“Ek het vir jou ’n onderhoud gereël. ’n Pel van my kort dringend nog ’n grafiese ontwerper vir sy span en ek het jou verkoop soos slush puppy aan ’n eskimo. Ek vermoed dat hy dink jy het gehelp om die Mona Lisa te teken.”
My keel trek toe. “Is dit Liané wat jou opgesteek het? Kan julle my nie net vir ’n ruk uitlos nie, Barend? Ek het ’n verskriklike tyd agter die rug”
“Suster, jy gaan deur nog ’n verskrikliker tyd gaan as jy weer by jou ma’le moet intrek. So ek meng in omdat ek vir jou omgee. Kry nou end met hierdie probleemkind-houding.”
En hier sit ek op ’n skelpienk kantoorstoel met tien kopieë van my CV, die beste tien werke uit my portefeulje en my hart in my keel voor drie maer, bebaarde en bebrilde hipsters.
“Ek waardeer jou kuns, A,” sê Baard-Bril Een. “Dit is terselfdertyd aggressief en sensitief.”
Ek dink ek kry ’n glimlag uit. “Julle doen hoofsaaklik tekstiel-ontwerp vir groot hotelgroepe, nè?”
Baard-Bril Twee knik. “Ja. Ons werk saam met ’n paar argitekfirmas. Jy sal baie moet reis vir jou werk. Sal jy bereid wees om dit te doen?”
Ek knik en sluk. “Ek het niks wat my bind nie. Behalwe ’n hond. Ek het ’n hond. Sy naam is Vindiesel.”
Baard-Bril Drie glimlag. “Dit is darem net so een of twee dae op ’n slag. Dit pla my net dat jy nog nooit regtig in tekstiel gewerk het nie.”
Ek voel my oë vernou. “Wel, ek kan mos leer. En as julle van my ontwerpe hou, is dit vir seker die moeite werd om in my opleiding te belê .” Wat? Is dit aangename Annemieke wat haar so kan opruk?
Die Baard-Brille kyk beïndruk na mekaar. “Ons hou van ’n vuurvreter.” Hulle begin papiere bymekaarmaak. Beduie dat ek maar kan opstaan.
“Ons sal jou bel sodra ons ’n besluit geneem het, Annemieke. Maar ons hou van wat ons sien. Ongelukkig is die salaris maar klein, maar ons groei. Dit sal ná ses maande aangepas word.”
Ek sweef by die ou huis in Brooklyn uit. Die Baard-Brille het prima-eiendom vir hul kantoor gekies.
Ses missed calls van my ma? Vreemd.
“Annemieke! Waar ís jy? Jy moet dadelik hierheen kom! Gaan trek eers iets mooi aan. Of nee, kom net!”
“Ma, wat gaan aan?”
“Cobus is hier, kind!”