Ons kom net gou ’n draai maak. Net om te kyk of jy oukei is.”
Ek onderdruk ’n sug. As Nosiswe op ’n ding besluit het, het sy besluit. En nou is Liané nog saam met haar in die motor ook. “Dit is reg. Gee maar ’n missed call wanneer julle hier is, dan maak ek oop.”
“Ek het versnaperinge gebring,” kondig Nosiswe aan toe ek die deur oopmaak. Die glimlag verdwyn toe sy my behoorlik bekyk. “Sista, hoeveel kilogram het jy verloor? Jy lyk soos die nag.”
Liané lig haar sonbril van haar oë af en knik bevestigend. “Dit is hoekom ek op pizza aangedring het, Nossie. Ek het vir jou ’n JobMail gebring en ek hoop jou iPad het data op. Annemieke, vanaand soek ons vir jou werk.”
Vindiesel-die-wolfhond is so bly om mense te sien dat hy half ongeskik teen Nosiswe opspring.
“Is it because I am black?” vra sy kamma geaffronteerd.
“Hy mis vir Cobus en nou spring hy teen enigiets op, moenie te gevlei voel nie.”
Liané rol haar oë. “Ek het hom vandag op facebook gaan beloer. Die ellendeling is jou wrintiewaar in Viëtnam.” Sy trek ’n gesig. “Jy kan jou sterre dank dat julle uitmekaar is voor hy daar was. Kan jy dink watter kaliber voëlgriep ’n man daar kan optel?”
Die kwalik bedekte insinuasie laat my darem lag. “Moet ek die pizza warm maak?”
“Kry eerder ys vir die wyn,” beveel Nosiswe. “Ek het ’n helse dag op kantoor gehad. Dis nie speletjies om vir die Staat te werk nie.”
Nosiswe is ’n staatsaanklaer en volgens haar is sy die enigste hardwerkende persoon buiten Gerrie Nel in die vervolgings-gesag.
“Ek sê al lankal jy moet ’n private praktyk begin. Maar dit is nie vanaand ons grootste probleem nie. Annemieke, is dit ABBA wat ek daar hoor?”
Ek knik. “Skuus, maar ek luister nou al twee weke lank aanmekaar na ‘The Winner Takes it All’ en jy beter dit nie afsit nie. Ek is nog nie uitgeluister nie.”
Twee uur later gee ons op. “Niemand gaan my aanstel nie. Ek is ’n grafiese ontwerper wat langer as ’n jaar uit die bedryf was. Ek sal waarskynlik my graad moet oordoen voordat ek weer ’n aanstelling kry.”
“Met daardie houding sou ek jou ook nie in diens neem nie,” verklaar Nosiswe hardvogtig. “Jy moet jouself bemark, girlfriend. Waarom koop almal Verimark-produkte? Want selfs Verimark glo in Verimark. So eenvoudig soos dit.”
Ek rol my oë om die weemoedigheid wat my beetpak te verbloem. “Ek is reg vir ’n ander liedjie. Solank dit ook Abba is.”
“Op een voorwaarde, ons trek soos dancing queens aan.” Liané spring op en verdwyn in die rigting van my slaapkamer. “Toe, ’n bietjie helder lipstiffie, so ja. Annemieke, hier is vir jou ’n vere-boa. Nossie, jy kry vanaand die sequin-serpie.”
’n Bietjie dronk en ’n bietjie laf sing en dans ons soos wafferse Meryl Streeps totdat Chiquita beter voel en Napoleon in Waterloo verslaan is.
“Wat was dit?” Ek spits my ore en luister so tussen die Mamma Mia’s deur of ek weer die geluid hoor.
“Ek dink dit was die deurklokkie.” Liané se asem jaag en haar tong het ’n verdagte slepie. Klink ek ook so? Hoe kon ons drie bottels wyn in so ’n kort tydjie die loef afsteek?
“Maak oop, dalk is dit ’n krisis iewers.” Nossie lyk belaglik met die blink serp om haar kop gedraai.
“Oukei, oukei. Ek is nou terug. Moenie die musiek afsit nie.”
Niemand lui ooit nege-uur in die aand die voordeurklokkie nie. Ek is darem nie alleen hier nie. Die loergaatjie help nie veel in my huidige toestand nie en ek maak maar die deur oop.
“Xander?”
“Annemieke, hoe … Pla ek?”
Daar staan ’n man met ’n reuse-bos blomme op my voorstoep. Die man is een van Cobus se goeie vriende.
“E, nee. Wel, ek … Ja. Eintlik. Waarmee kan ek help?”
Hy kyk klaarblyklik verby die skelpienk lipstiffie en die vere-boa om my nek, want sy glimlag groei.
“Ek het gehoor van die egskeiding. Dit is nou jammer, man.” Hy hou die blomme soos een of ander prys na my toe uit. “Ek wou hoor of jy nie lus is om iets te gaan eet nie?”
My mond was lank laas so vol tande. “Eet soos in … éét?”
Voordat hy kan antwoord en voordat die selfvoldane glimlag sy hele gesig oorneem, maak ek die deur in sy hoopvolle bakkies toe.