Ek het ’n tannie wat altyd waarsku dat ’n mens versigtig moet wees waarvoor jy vrees, want voor jy jou kom kry, wórd jy jou vrees. Sy was reg. Ek is 33, werkloos, die primêre versorger van ’n wolfhond en geskei. Ek is geskei. Ek is pas geskei. Om die waarheid te sê, ek het pas uit die hof gestap, so vars geskei is ek.
“Koffie?” My ma se onderlip bewe terwyl sy praat.
Ek skud my kop. “Wyn. En baie daarvan.”
Liané knik. “Kom ons kom net uit die middestad uit, ’n rooftog sal vandag jou einde beteken.”
Ek snork onvroulik en rol my oë.
“Annemieke! ’n Dame maak nie so nie.”
Pretoria is warm. Te warm. Ons sit by die Country Club se restaurantjie. Liané ondersteun die plek getrou ná sy haar huidige vlam hier raak ge-putt het. Cobus was my eerste ernstige kêrel. Waar gaan ek ooit ’n vlam, of ’n stukkie, of ’n gelukkie optel? Nevermaaind waar, hóé?
Die kelner skink koue witwyn elfuur die oggend sonder om te blik of te bloos. My ma se gesnik is ook klaarblyklik nie vir hom vreemd nie.
“Ek weet nog nie eens of Pappa die troue afbetaal het nie, Annemieke, en nou is die huwelik al op die rotse.”
Ek sug. “Ma, die huwelik het die rotse heeltemal gemis. Die bootjie het sommer net gesink.”
Liané skud haar kop. “Dit bly bitter vreemd. Kyk, ek doen baie egskeidings, dit is alledaags. Maar daar is altyd derde partye, of iemand spring uit ’n kas uit, of iemand kyk elke aand diep in ’n bottel. Maar sommer so? Om geen rede nie?” Sy kyk die soveelste keer vraend na my en ek vertel die hele ou storie weer.
My ma snuit haar neus, skud haar kop en neem ’n groot sluk wyn. “Die kind moet gay wees. Hy het waarskynlik iemand ontmoet en nou eers besef dat hy van mans eerder as van vroue hou. Kon hy nie vroeër gepraat het nie?”
“Het hy nie dalk by een of ander weird kerkgroep aangesluit nie? Hulle plant soms sulke bisarre idees in mense se koppe,” vra Liané.
Ek skud my kop ontkennend. “Nee. Alles was normaal tot twee maande gelede. En Cobus is nie gay nie. Ek behoort dit darem te weet.”
“Was julle, eh, slaapkamersake reg, en so?” vra my ma versigtig. “As daar duwweltjies in die bed is, is daar jakkalsies in die wingerd.”
“Wel, Ma, ná nege jaar saam is ’n mens mos nou maar gewoond aan mekaar. Alles was maar soos dit altyd was.”
“Ek en jou pa is al byna 35 … ”
“Hy was verveeld,” keer Liané net betyds.
Ek rol my oë. “Hy is ’n aktuaris, Liané, verveeld is vir hom die toppunt van opwinding. Tog, die man het in soveel woorde vir my gesê dat hy soos ’n suster oor my voel. En nie die tipe in uniform nie, soos oor ’n bloedsuster.” Ek sug swaar. “Dalk was ons albei verveeld? Maar ek het daarvan gehou. Ek is ’n gemaksone-dier. Kan ons nou asseblief op die wyn pleks van my huidige penarie fokus?”
“Wat gaan jy doen?” ignoreer my ma my versoek.
“Ek sal moet werk soek. Begin pak. Sodra Cobus terugkom van sy Eat, Pray, Love-vakansie in die Midde-Ooste sal ons die huis in die mark moet sit.” My keel word dik. “Ek weet nie hoe ek dit gaan doen nie. Ek het eintlik beplan om hierdie maand ons wittebrood-album te maak.”
“Wel, jy is daardie moeite gespaar. Nou kan jy die foto’s weggooi of uitvee as dit digitaal is,” sê Liané prakties.
“Dalk moet ek Kaap toe trek? Mense trek graag Kaap toe ná sulke traumas.” Ek soek na bevestiging op die twee gesigte oorkant my, maar hulle kyk net effe verslae na mekaar en toe na my.
“Jy moet nou eers kalmeer, Sussie. Dalk moet jy sommer vanaand nog terugtrek huis toe, dan is jy darem by my en Pappa, en so.”
Ek sluk benoud. “Eh, dankie, Ma, maar ek is nog nie heeltemal reg om uit ons huis te trek nie.” As ek vanaand in my dogtertjie-kamer moet slaap, versmoor ek myself met ’n pienk kontinentale kussing.
My selfoon vibreer. Liané. Ek kyk tersluiks na my vriendin en toe na die boodskap: Vanaand verf ons die dorp rooi. Ek laat die girls weet.