Annelisa Weiland: 7de Laan’ se Hilda vier sewe dekades deur Christiaan J de Swart. Foto: SJ van Zyl van SJ Photography
Dis halfses in die oggend. Die selfoonwekker lui, maar die sluimerknoppie gun haar nog vyf minute se rus. Toe skakel sy die lig in haar kamer in die ruim, gerieflike huis in Auckland Park, Johannesburg, aan.
’n Buitengewoon klein vroutjie borsel haar tande en kyk in die spieël. Haar kort krulledos weier om elke dag dieselfde te lyk en wip vanoggend woes. Die kepe van die lewe wys om haar mondhoeke. Sy glimlag en haar sagte groen oë vonkel en versag die plooitjies om haar lippe. Sy het vrede gemaak met wat die spieël weerkaats. Sy tel haar seëninge.
Sy het onlangs haar sewentigste verjaardag gevier.
Haar boetie en ’n vriendin wat sy al oor die sestig jaar ken, noem haar Titte. Ander noem haar Annie (die Engelse uitspraak), Miss Wee en Wanna.
Maar die meeste mense ken haar die afgelope twintig jaar as een van die gewildste karakters op Suid-Afrikaanse televisie: Hilda de Kock (wat later Van Zyl geword het), Spinnekopvroutjie (soos Matrone haar noem) of My Nartjiepit en My Narsing van Saron (maar enkele van die gevleuelde troetelnaampies wat Oubaas haar gedoop het) in SABC2 se stersepie 7de Laan.
Sy is die aktrise Annelisa Dora Deborah Weiland.
Dis elke oggend haar taak om haar dierekinders te versorg; aandag te gee, te vertroetel en genoeg kos en water vir die dag uit te sit, want soms kom sy eers donker tuis.
“Die huis is heeltemal te groot vir een mens, maar my honde baljaar die huis vol. My huis is my toevlugsoord. Vreemd genoeg, wanneer ’n paar pelle kom kuier, sit ons altyd in die kombuis. Dis vir my lekker om saam met my honde op die rusbank in die sitkamer te verkeer. Ek’t ’n bruin weimaraner, Zara, en ’n wit standard-poedel, Jasper. Hulle is my hart se punt. Ek verkies nie diere bó mense nie, maar diere gee jou onvoorwaardelike liefde. Hulle is ingestel op elke nuanse en voel jou gemoedstoestand instinktief aan. Hulle veroordeel jou ook nie en hulle beskerm jou.”
Sy sê regmaak vir werk in die oggend is om soos kindertyd vir skool voor te berei. “My suitcase is al die vorige aand gepak: die teks – wat ek die vorige aand bestudeer en my woorde geleer het, en kén! – drinkgoed, kitshawermout en ’n paar vrugte vir energie.”
Sy trek die deur agter haar toe en vertrek met haar koffertjie ateljee toe.
Ons gesprek – ’n energieke tonikum vol verrassings – vind tussen dialoogrepetisies, stelplasings en sessies tussen grimeerkunstenaars, haarstileerders en garderobe-ontwerpers plaas.
Dié geliefde Hillside-karakter het 17 jaar lank dieselfde gelyk: stywe bollatjie of poniestert, gehekelde truitjies, verspotte serpies en dáái onvleiende deli-baadjie. Kwansuis preuts, maar sy hét geweet hoe om Oubaas met die seweserpedans te verlei! En hoe om boerewors te maak, met die vreemdste konkoksies resepte te bedink en geregte te belemmer – én om kuns uit takke en vere te skep!
Maar toe neem haar lewe ’n wending toe die vervaardigers besluit dit was tyd vir ’n radikale transformasie ná Oubaas (gespeel deur Pierre van Pletzen) haar met ’n ander vrou verneuk en letterlik uit die prentjie verdwyn.
“Ek dink Hilda het al die tyd eintlik maar in die skadu van Oubaas geleef. Die vervaardigers het slim gedink. As aktrise is jy uiteraard uitgelewer aan waarmee die draaiboekskrywers vorendag kom. Ek geniet die nuwe rigting met Hilda: minder eksentriek, innerlike emosionele groei en effe meer gesofistikeerd. Maar ek moet erken, ek mis haar koddige maniertjies en naïwiteit.”
Annelisa sê haar hare was in 25 jaar nog nooit só kort nie! “In die verlede, wanneer ek daardie bollatjie losgemaak het en die deli-baadjie uitgetrek het en huis toe is, het minder mense my herken, want my hare het wild gewapper!”
Die nuwe Hilda dra nou ’n kapsel wat kort op haar ore gesny is, sagte grimering en stylvolle klere. “Die rigting wat die nuwe 7de Laan inslaan, ontstel dalk sommige mense, maar dit is nodig. Voorheen was dit meestal goedvoel-ontvlugting. Nou word werklike kwessies aangespreek – en die werklikheid het nie altyd ’n sprokieseinde nie.”
In die werklike lewe het Annelisa ook al trauma, teleurstelling en uitdagings ervaar.
Haar pa, Ewald, was net 23 toe hy per skip van Duitsland hier aangekom het om tekstielmasjinerie te installeer. Hy is terug Duitsland toe, maar het op Suid-Afrika verlief geraak en besluit om hom in Kaapstad te kom vestig.
Dis hier waar hy Stienie (’n nooi Goosen en nege jaar jonger as hy) ontmoet het. Uit dié huwelik is ’n seun, Ewald, en ’n dogter, Annelisa, in Seepunt gebore. Ma Stienie is in 1996 oorlede en pa Ewald in 2007 op die ouderdom van 98.
“Ek was ’n sieklike kind en is ’n paar keer byna dood aan asma. Ek is vol kortisoon gepomp en ek glo dis hoekom ek nooit behoorlik gegroei en ontwikkel het nie. Ek het gesonder geword toe ons van Pinelands na Durbanville toe getrek het. Daar het ek en my broer, Ewald – vier jaar jonger as ek, maar seker drie keer groter! – ’n gelukkige lewe gehad met ’n swembad, ’n koei en eendjies.”
Kom groet gerus in die straat en gee maar ’n liefderyke drukkie. Maar moet asseblief net nie soen nie; veral nie oopbek nie!’ – Annelisa Weiland
Ná matriek het Annelisa drama aan die Universiteit van Kaapstad studeer en haar graad in 1972 verwerf. Sy het al in professionele stukke opgetree toe sy nog ’n student was.
Maar sy wou eers oorsee gaan … En dit was ’n episode in ’n sepie! “Ek is Duitsland toe en het as kelnerin gewerk. Groot was my verbasing oor die ingewikkelde opleiding daar. Die kelnerinwerk was senutergend en ek was ’n wrak. Ek het die moeilike en streng stelsel gehaat. Dit was ’n geskarrel tussen kelnerinne om soveel mense so vinnig moontlik te bedien en om die meeste
fooitjies te verdien. Ek moes borde kos op my kort armpies probeer dra … Dit was ’n senutergende ervaring!”
Terug in Suid-Afrika is Annelisa in 1973 by die destydse kunsteraad Truk aangestel en spog met amper veertig uiteenlopende rolle in teater, op TV en in rolprente. “Ek is mal oor klassieke werk, want die groot dramaturge was eintlik filosowe,” sê sy. “Ek sal nooit ’n karakter wat ek vertolk, oordeel nie, of dit ’n moordenaar of ’n engel is. Die karakter verdien jou respek as aktrise. Teater is ’n ontdekkingsreis. Spel vir die skerm verg ander tegnieke en dis hengse veeleisende werk.”
Tussen Annelisa se teaterhoogtepunte is Shakespeare se Hamlet, met regie deur Robert Mohr. Sy was Ophelia. ’n Ander hoogtepunt was Dieter Reible se produksie Titus Andronicus. “Dit was baanbrekerswerk. Die bloed het op die verhoog gevloei en teatergangers het flou geword. Dit was die begin van skokteater,” onthou sy.
In die beginjare van televisie was Annelisa die stem van Heidi in die oorgeklankte weergawe. Sy het in talle reekse gespeel, maar sonder die regisseur Stephan Bouwer se pretreekse Drama Drama en Dokter Dokter uit. Sy is veral trots op haar spel in die klassieke enkeldramas Liesbet slaap uit en Die Koster.
Op haar rolprentkerfstok is Die Sonvreter (1973), Boetie op Maneuvers (1985) en verlede jaar se Susters. Sy is sedert 2000 heeltyds onder kontrak by 7de Laan. “Die vervaardigers van
7de Laan is toegeeflik en is bereid om die storielyn aan te pas en ons die geleentheid te bied om in ander genres te werk – meestal teater, wat ’n aangename voedingsbron vir kreatiwiteit is.”
Tussendeur haar bedrywige loopbaan het die lewe ook gebeur.
Annelisa het betekenisvolle verhoudings ervaar. “Ek verkies nou om op my eie te wees. Die huwelik en moederskap was my bloot nie beskore nie, maar dit laat nie ’n leemte in my nie. Ek weet regtig nie hóé ’n ma ek sou wees nie. Ek is oorbeskermend en selfs neuroties oor my hondekinders. Ek moes my wonderlike hond, Seun, ’n rottweiler wat my bure verwaarloos het en ek op vyf aangeneem het, op 13 laat uitsit. My geliefde weimaraner, Lolita, is amper drie jaar gelede oorlede. Sy’t ’n breingewas gehad. Dit het my hart gebreek; sy was nie eens vyf jaar oud nie.
Ek weet nie of ek die dood van kinders van my bloed sou kon verwerk nie.”
Deur die jare het sy spesiale mense bymekaargemaak. En dié wat nog lewe het haar sewentigste verjaardag op 15 Februarie saam met haar gevier. “My ouers was destyds vriende met ’n Switserse egpaar, Den Hartog, en ons was bure in Durbanville. Hulle is terug Switserland toe weens die Sharpeville-gebeure. Ek en hul dogter, Helen, het kontak behou. Sy het as student in ’n stadium by my ouers gewoon en ons was soos susters. Sy het deur die jare gereeld kom kuier.”
Annelisa se huis is vroeër vanjaar in ’n paartiehuis omskep. “Helen het aangebied om vir die paartie te betaal – en ek kon ’n spysenier huur! Al wat van my verwag is, is om te ontspan, wyn te drink en te kuier. En ek hét!”
Op dié spesiale dag het Annelisa haar nie met kollegas, glanssterre of invloedryke agente omring nie, maar met die mense met wie sy deur jare opregte vriendskappe gesmee het, insluitende haar broer, Ewald, en sy vrou, Michèle. “Ek is so dankbaar vir hulle. Ewald het vroeër vanjaar ’n driedubbele hartomleiding ondergaan, maar hy sterk fris aan,” sê sy met deernis.
En toe is Annelisa en haar vriendinne ’n week lank Nature’s Valley toe: Ingrid Mignon Sue (van Johannesburg) en die drie vroue van Zürich: Helen, Karin en Lize (’n Amerikaner).
“Ek het vir my shorts gaan koop – nogal in die kinderafdeling van die klerewinkel! – vir dié wegbreek. Ek weet ’n vrou van my ouderdom is seker nie veronderstel om haar bene te wys nie, maar ek wou! Ek hou van optert en mooi aantrek wanneer ek uitgaan, maar andersins is ek gelukkig in jeans en fleezy jakkies.”
Annelisa sê sy kan erg oor haar gevoelens wroeg. “Die kop en die hart is gedurig in ’n stryd; soms selfs obsessief-kompulsief.”
Sy put vervulling en tevredenheid uit ’n boek wat ’n mens laat nadink, ’n rolprent wat indruk maak, musiek met betekenis, verrassings en die talle seëninge van die lewe.
Ons voltooi dié gesprek skuins ná sewe die aand. Sy het pas tuisgekom; heelwat vroeër as gewoonlik. “Ek is moeg. Ek het gou ’n paar lengtes gaan swem. Ek skink nou ’n halwe wyntjie om te ontlaai. My Woolies-ete is gereed – net hoender, neute en ’n slaai. Dan gaan ek slaap.”
Annelisa besef as Hilda is sy volksbesit. Sy waardeer ondersteuners se bewondering, maar sy ag privaatheid hoog. “Kom groet gerus in die straat en gee maar ’n liefderyke drukkie. Maar moet asseblief net nie soen nie; veral nie oopbek nie!”
7 dinge wat jy dalk nie van Annelisa Weiland geweet het nie
- Ek’t ’n Duitse paspoort.
- Ek het artritis in my hande, maar speel steeds klavier (net nie meer só goed nie).
- Ek vloek baie.
- Ek kan die slap koejawel doen.
- Ek’t nog al my eie tande (party van hulle ook maar net-net).
- Ek dans soms op my eie (dit verwar die honde!).
- Partykeer ontstel klassieke musiek my.