Die goeie nuus is dat Anneli van Rooyen terug in die ateljee is. Ná agt jaar se stilte word nuwe liedjies van die “Ek Lewe”-ster opgeneem.
Die stilte was die gevolg van ’n mediese risotomie-prosedure wat verkeerd geloop het. Die operasie is destyds gedoen om die pyn van a-tipiese trigeminale neuralgie te verlig.
Die ander kant van die munt is dat sy nie haar sangloopbaan kan hervat nie. En as jy mooi kyk, sien jy lag en pyn in haar oë; stremming en swelling aan die regterkant van haar gesig; ’n regtermondhoek wat nie spontaan saamwerk nie; die oog wat mettertyd kleiner trek; spraak wat meer inspanning verg. Onder die vel verduur sy permanente pyn. Maar sy lewe.
Die heruitreiking van haar gospel-album, Seënbede, volg kort op haar verrassende optrede in Karen Zoid se Die Republiek van Zoid Afrika op kykNET. Anneli het vooraf vir Karen laat weet dit is buite die kwessie dat sy sal sing. Toe verras sy almal en haarself en sing!
“Die opnames beteken nie ek begin weer voltyds sing nie. Dit is nie ’n lang termyn ‘hier gaan ons weer’ nie. Dis ’n stelling van hoop en vertroue op die Here, en ’n bediening vir almal wat so seer het, almal wat swaarkry, vir almal wat hartseer, pyn, verdriet en ’n worsteling beleef. Vir elkeen van ons is daar hoop.”
Die verspreiding van Anneli se gospel-album Seënbede, wat in 2003 uitgereik is, sou laas jaar verstryk en sy wou vasstel of dit heruitgereik sal kan word. Haar bemarker van dertig jaar, Lydia Winchester, het by Danny Antill by Brettian Music navraag gedoen en ’n vergadering is belê.
Met ’n heruitreiking neem die kunstenaar altyd ’n paar nuwe liedjies op om die album stukrag te gee.
“Ons het dit bespreek en in die lig van die pyn wat ek elke dag het, het almal gewonder of ek dit sou kon doen. Van die mense op die vergadering is na aan my en weet wat dit van my sou verg. Ek het so na hulle sit en luister en toe dink ek, maar Anneli, jou stembande leef nog! Ek het gedink aan die spiere wat in chroniese spasmas is, maar toe sê ek: ‘Ja, ek sal dit doen!’ Dit was ’n tree in die rigting van die onmoontlike, want ek weet die pyn sal dinge kompliseer. Ek het dadelik gedink: Wat het ek nou gesê? Wat is ek besig om te doen?”
Sy sê daardie kentering van “ja” sê vir iets wat byna onmoontlik is, het haar weer ’n liedjie laat skryf.
“Ons vat dit stadig. Ons weet nie wanneer ek wat gaan regkry nie. Dit is soos om by ’n karnaval pot luck te vat.”
Om saam met Danny te werk is ’n gawe op sigself. Hy en Anneli kom ’n lang pad en hy verstaan haar situasie. Sy het al ’n paar keer by die ateljee opgedaag en kon weens die verlammende pyn niks uitrig nie.
“Ons het begin werk aan ’n paar goed en een liedjie het ’n paar liedjies geword. Die proses vorder baie stadig en ek is nie aldag seker of ek nie ’n te wilde perd opgesaal het nie.”
Anneli sê sy is op ’n brose groeiplek in haar lewe.
“Daar is heelwat geskroeide blare, maar vanuit ’n verskroeide ding kan daar groei kom.”
Sy ervaar dat sy haarself heeltyd probeer uitdaag om haar nuwe werklikheid te bestuur.
“Ek is deur ses prosedures, waarvan vier oop chirurgie was, in ’n poging om 23 Oktober 2007 se katastrofale gevolge te beredder. Ons het alles probeer. Die senuweeskade en anesthesia dolorosa kan nie herstel word nie en ek moet daarmee probeer vrede maak.”
Die toestel en kragbron wat in 2012 ingeplant is as ’n laaste uitweg om haar pyn te verlig, is laas jaar uitgehaal, hoewel die elektrode op haar brein agtergebly het om nog ’n breinoperasie te vermy.
“Dit was ’n finaliteit. Ons het die einde van die pad bereik. Net destruktiewe prosedures bly oor en daar is nie ’n manier dat ek die kans gaan waag om nog meer pyn te verduur nie.”
Sy moes opnuut begin definieer. Daar was nie meer keuses nie. Sy het besef sy is nou net in die hand van die Here.
“’n Mens moet besluit wat jy met jou situasie maak. Dit is ’n kartelende roete. Die pyn gaan nie ophou nie. Elke liewe ding wat ek nie kan doen nie, of wat pyn vererger, is ’n soort afskeid van ’n stuk hoop dat ons met hierdie ding kan onderhandel. Ek het besef ek kan nie daarmee onderhandel nie. Dan sit jy jouself stuk vir stuk weer bymekaar. Dis dikwels een tree vorentoe en twee terug. Dit is soos om elke keer ’n berg met duisend heuwels te klim.”
Die pyn het haar nie net van haar loopbaan en inkomste beroof nie, maar ook van haar selfvertroue
Niemand het verwag Anneli sou in Augustus op Karen Zoid se program sing nie. Sy het die afgelope jare soos ’n kluisenaar geleef en baie keer nie kans gesien om afsprake te maak nie. Die pyn het haar nie net van haar loopbaan en inkomste beroof nie, maar ook van haar selfvertroue.
Die oproep van Karen Zoid vroeg vanjaar om op haar program op te tree, het Anneli verras.
“My binnekring het my raad gegee om dit nie te doen nie, want dit sou ’n vlug na Kaapstad en die onderhoud in die ateljee behels.”
As sy sou gaan, was daar die moontlikheid dat sy op die dag te veel pyn sou verduur om op te tree.
“Terwyl ek na almal se redenasies sit en luister, het iets in my gees net ‘ja!’ gesê. Almal het my met verbystering aangekyk asof hulle wonder wat my besiel het.”
Sy het Lydia gevra om saam te gaan en haar by te staan. Deel van die spanning was dat sy nie geweet het wat om te verwag nie.
“Maar toe ek eers die bod toegestaan het en die ratwerk aan die gang was, moes ek my instel om vir die onderhoud voor te berei.”
Vele oproepe is voor die program gemaak om seker te maak Karen weet Anneli sal nie sing nie. Sy gaan net gesels en kuier.
“Soos die dag by die ateljee gevorder het, het ek rustig geraak met die proses van grimering en voorberei-ding. Die middag voor die opname het hulle my geroep en gesê Karen gaan “Ek Lewe” sing, ek moet kom luister, en ek kan saamsing as ek so voel.”
‘Dis dikwels een tree vorentoe en twee terug, soos om elke keer ’n berg met duisend heuwels te klim’
Sy beskryf Karen se span en orkes as “meesterlik” en waardeer die manier waarop hulle haar met deernis betrek het. “Mense se reaksie is oorweldigend. Ek is Karen my hele hart se dank verskuldig.
“Die atmosfeer op stel was so gemaklik dat ek ingestem het. Ek kon nie glo toe ek myself hoor sê ‘Ja, Karen, kom ons doen dit!’ nie. Ek het my vrees weggesluk. Daar is elke dag vrese wat my oorkom. Seker een van die grootstes is om in lewende lywe in die openbaar te sing. En nogal op so ’n platform!”
Toe die werklike opname later die middag gedoen is, was sy merkwaardig kalm.
“Ek dink dit is omdat ek nie vooraf tyd gehad het om ’n string paniekgedagtes te kry nie.”
Sy weet nie of sy dit weer sal kan doen nie. Sy is te bang om te sê sy sal.
“Dan gaan ek die kans kry om benoud te word. Ek moet myself so min moontlik kans gee om bang te word.”
Sy het ’n groot dankbaarheid oor die plek waar haar lewe nou is.
“My hart is by ’n dankstasie. Ek het weer aan my seëninge begin tel. ’n Mens begin by klein dingetjies, soos om dankbaar te wees vir die wonderwerk van water. Ek gee babatreetjies.”
Sy vertel hoe sy die “hoop kabels” wat agtergebly het ná die rampspoedige operasie van 23 Oktober 2007 probeer ontknoop.
“Daardie oggend kon ek nog my mond oopmaak en sing. ’n Paar uur later was my lewe soos ek dit geken het, verby. Ek het by die operasiesaal uitgekom met die ergste moontlike uitkoms: trigeminale anesthesia dolorosa, onomkeerbare skade van die senuwee, wat my mond – waar ek nooit voorheen pyn beleef het nie – insluit. Daarby was my regterkaakgewrig se meniskus ontwrig sodat ek nie my mond kon oopmaak nie.”
Haar loopbaan was tot niet. Alle vooruitsigte verdoof.
“Die regterkant van my mond was lawa, met ’n elektriese geknetter wat aan my tong, tandvleis, onderlip, ken en wang vasgesmelt het. Erger, breër pyn teen my gesig en wang op en ’n siedende strook oor my oog tot by my neusbrug. Spiere in bondels spasma rondom die ontwrigte kaakgewrig.”
Sy kon nie glo dit het haar getref nie.
“Ek wat vrolik gemaak en gelaat staan was? My blymoedige, hoopvolle gees, alles Genade van Bo, het geknak toe dit ná maande duidelik word dat daar geen prognose vir uitkoms gegee kon word nie. My mond – my lewe – was weg.”
E-posse het begin instroom en sy het gehoor van talle mense wat worstel en leef met verterende pyn.
“Toe ek lees van mense wat onder meer hul sig en gehoor verloor het met dieselfde prosedure wat my verniel het, het ek begin verstaan dat ek nie verlate was op die operasietafel, soos wat ek gevrees het nie.”
Toe sy nege was, het ’n geweldige val van haar perd Sixpence haar met 11% gehoor in haar linkeroor gelaat.
“Die Here het my ’n ganse sangloopbaan gegee sonder om Hom vir een oomblik daaraan te steur dat Hy ’n een oor die wêreld van klank instuur. Ek het sorgeloos die pad geloop wat Hy vir my voorsien het.”
Ná die operasie het sy besef dat die gehoor in haar regteroor op ’n haarbreedte gespaar is en dat haar sig behoue gebly het. “Ek het gawes oorgehou wat geld nie kan koop nie.”
Sy sê sy het die Slagofferstasie agtergelaat en voetjie vir voetjie haar weg na die Dankstasie teruggevind.
“My dankbaarheidstasie is vir my ’n bekende plek. My hele lewe is hier. Alles wat ek is en dink en leef, is ingerig onder die vaandel van Genade, geloof en dankbaarheid.”
Die lang maande wat sy weggeruk was, was sy soos ’n vreemdeling vir haarself: ontnugter, geskok, diep getraumatiseerd.
Vrees was nie voorheen deel van my dink nie, maar dit het ingesypel terwyl die verlies aan my loopbaan, my inkomste en my toekomsverwagting my wapenrusting laat verkrummel het.”
Haar ouers is die konstante wat haar lewe letterlik en figuurlik red. Haar klein kringetjie, haar dapper assistent wat deur dik en dun by haar staan, en jarelange vriende hou haar regop. Sy vertel hoe sy in haar loopbaan sélf die meters kabels op die verhoog in netjiese bane geplak het en daarop aangedring het dat dit ná die tyd behoorlik opgerol word.
“My span het my goedig geterg daaroor en gesê ek bou snelweë, afritte en fly-overs. Nou is dit presies wat ek met my lewe doen. Dit is asof al my kabels op ’n deurmekaar hoop lê en ek dit een vir een ontrafel om die goue draad van my lewe terug te kry.”