Ek hoor die gesels gang-af aankom. Dit kwetter en klets. Vrolik, dringend, met meer energie as wat ek so vroeg op dié koue Kaapse oggend het. Ek’s nuuskierig en strompel gang-af om te kyk wat hier onder my dak gebeur.
Dáár kry ek hulle. Stewig geplant aan weerskante van my eetkamertafel, elkeen met ’n stuk koerant in die een hand en ’n stomende koppie koffie in die ander.
Sarah en Bettie.
Ek vlieg om. “Sit net so, ek wil julle afneem.” Want dié prentjie wil ek nog lank bêre.
Sommiges praat politiek-korrek van huiswerkers, ander is ghrênd en praat graag oor hul huishoudsters, of selfs die dubbeldoor huishoudster-aupair. Dan kry jy dié wat dit waag op die grens en besitlik praat van “my huishulp”, “my char” of, erger nog, “my bediende”.
Maar Sarah en Bettie? Nie een van dié titels werk nie. Hulle is my ankervroue. My regter- én linkerhand. Méér as my kinders se ma, en baie ander s’n.
My spruite weet en glo: Tannie Sarah en Tannie Bettie se woord is wet. Nie net sorg hulle vir skoon klere en skoon beddens nie, maar hulle is dáár (dadelik daar) as Mamma en Pappa nie kan nie. Hulle kyk graag geduldig na Tom en Jerry se manewales, los Wiskunde-probleme op as dit moet, speel wegkruipertjie in die huis en tuin, dra hotdogs en yoghurt aan vir eet op ’n piekniekkombers voor die TV as Ma nie kyk nie en het altyd, altyd troos vir trane.
Sarah is nie sommer-net Sarah van Springbok nie. Sy is immers die vrou wat self op ’n Olimpiese prestasie of twee kan aanspraak maak. Want sien, onder Sarah se hand het die Olimpiese swemmer Marianne Kriel jare lank grootgeword. Vir Marianne is onse Sarah Saartjie – en vandag nog, as die een oor die ander praat of Marianne verjaardag en Kerstyd uit Amerika bel, hoor jy die liefde wat kleintyd dáár gebroei het. Dieselfde liefde wat my kinders nou ken.
Bettie pas die gastehuis op. Met sorg kyk sy na elke gas, so asof ander se kinders haar eie is. Op ’n Saterdagoggend in die winter kry jy haar in die kooi, daar waar sy ingekruip onder manlief se arm skuil teen die strome water wat voor hul huis opdam. Bettie kla nooit en lag haar pad deur die lewe oop. Saam voer ons ’n stryd teen die skaal en lag skuldig-lekker-luid as ons na die vakansie “dik en met ronde boude” aan die werk spring.
Maar dis dié week, op die vlug terug na ’n week se kuier, wat ek weer weet: sonder my ankervroue is ek niks. Na al die uiteet en rondloop sê my jongste: “Ek wil Tannie Sarah se kos hê. Regte kos.” En troos sy haar broer: “Tannie Bettie kyk na Pappa as Tannie Sarah vakansie hou en ons weg is.”
Ek kyk weer vir die twee vroue by die eetkamertafel. Weet: huiswerkers, huishoudsters, huishoudster-aupairs, huishulpe, chars, bediendes is hulle nie. Só lyk ankervroue.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za