Anika de Beer: Onweerswolke stuit haar nie

Deur Rentia Mynhardt. Foto’s: Andrea Caldwell. Grimering: Karen Bezuidenhout

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Anika de Beer het in Pretoria en Potchefstroom as een van vier kinders grootgeword, en ruil haar kinderjare vir niks. Haar beste vakansies was op haar ouma-hulle se plaas waar al die niggies en nefies gekuier het. Hier kon hulle perdry, swem, huisies in die rantjies bou, in die moerbeibome klim en saam silo’s toe ry wanneer die mielies klaar gestroop is. Van kleins af was dit vir haar duidelik dat landbou en die weer onlosmaaklik van mekaar staan wanneer sy gehoor het hoe daar om die kombuistafel oor reën gesels is; soms met groot dankbaarheid, maar soms met ’n diepe bekommernis.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Vir haar is familie en vriende net so belangrik soos wat reën vir ’n boer is. Die weer het haar altyd gefassineer, maar dit was in graad 3 toe ’n juffrou vir hulle die fliek Twister gewys het dat sy al wat ’n      boek oor tornado’s begin verslind het en haar ma haar gereeld by die biblioteek moes gaan aflaai het. “Ek het eers al die beskikbare kinderboeke daaroor gelees, maar later nog boeke in die grootmensafdeling gaan soek. Ek wou ook storms vir ’n lewe najaag! Toe ek ’n bietjie later siklone ontdek, was daar geen keer aan my opgewondenheid nie.” Haar pa het gou besef dat hierdie nie net ’n kleindogtertjiedroom was, wat vinnig sou oorwaai nie, maar dat alles rakende weerpatrone iets is wat deel van Anika gaan bly. Hy het oor Tukkies se meteorologie-graad gelees en Anika daarvan vertel. “Al kon ek nog nie eens die woord behoorlik uitspreek nie, het ek net daar, van graad 4 af, vir almal vertel dat ek eendag ’n meteoroloog gaan word. Ek moes wel baie lief word vir wiskunde, want Calculus en fisika speel ’n groot rol as jy die weer wil ontleed. Dit is ’n uitdagende kursus waar net tien studente keuring kry, maar ek het deurgedruk omdat ek geweet het wat my einddoel was.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Ná afloop van haar honneursgraad het sy ’n diploma voltooi wat van haar ’n gekwalifiseerde weervoorspeller gemaak het. “My loopbaan het amptelik by OR Tambo-lughawe begin waar ek uit die kantoor wat op die aanloopbaan uitgekyk het, lugvaartweervoorspellings volgens internasionaal erkende kodes aan vlieëniers moes opstel. Dit was baie opwindend.”

In dieselfde tyd het Abri, haar skoolkys vandat hulle in graad 11 by dieselfde tafel in die wetenskapklas gesit het, haar gevra om te trou terwyl hulle na blomme in die Wes-Kaap gaan soek het. Aangesien blomseisoen eintlik al verby was, kon Abri se plan om die ring tussen Namakwaland se blomme uit sy sak te haal ná etlike kilometers se blomsoektog nie realiseer nie, en moes hy maar die groot, onverwagse vraag langs ’n waterval vra. “Ek het die wonderlikste man ooit! By hom voel ek kalm en veilig. Hy laat my lag en maak my só gelukkig,” vertel sy. Haar oë blink trots as sy vertel hoe hy twee meestersgrade op sy kerfstok het, as datawetenskaplike werk en boonop deeltyds boer. “Ons troudag in 2016 was perfek. Net mooi niks het skeefgeloop nie.” Anika, wat self ’n meestersgraad agter haar naam het, onthou hoe hulle saam nagte om aan hul skripsies gewerk het, maar deel ook dat hulle graag reis en die verskeidenheid wat Suid-Afrika se natuurskoon bied, geniet.

In 2017 het hierdie donkerkop met die mooi glimlag die uitsaaiwese betree toe sy ’n pos in Kaapstad as weervoorspeller by eNCA aanvaar het. “Hierdie pos, en ook later die pos by ontbytSAKE waarby ek nou byna ’n jaar betrokke is, het dit vir my moontlik gemaak om twee van my grootste passies te kombineer: my liefde vir weersake en my liefde vir gesels!” Anika benadruk dat sy eers seker gemaak het dat sy nie net bloot ’n weervoorspelling gaan aflees nie, maar dit ook self sou saamstel. “Dis vir my belangrik om kennis oor te dra sodat mense werklik weerstoestande verstaan, want dit is soveel meer as net minimum- en maksimumtemperature.”

Ten spyte daarvan dat sy heeltemal kalm voor die kameras lyk, sê sy dat die vlinders in haar maag voor ’n  regstreekse uitsending seker altyd daar sal wees. Wat wel vir haar die heel slegste van ’n TV-aanbieding is, is dat sy nooit genoeg tyd het om alles te sê wat sy wil nie!

Haar pad het in 2019 met Restore Africa Funds gekruis waar sy sedertdien direk by herlewings- en bewaringslandbou betrokke is en boere in haar hoedanigheid as ESG-ontleder bystaan. “Ons kyk hoe ons vir die natuur én vir mense goed kan wees. Hoe gesonder jou grond, hoe minder chemiese produkte hoef jy te gebruik. As jy nie ploeg nie, stel die grond nie koolstof vry nie, maar hou dit eerder soos ’n spons binne. Koolstof in die atmosfeer is nie goed nie, terwyl koolstof in die grond fantasties is en die grond se waterbergingsvermoë verhoog.” Haar betrokkenheid by hierdie organisasie maak dit vir Anika moontlik om nie net as meteoroloog die probleme van klimaatsverandering raak te sien nie, maar ook om aktief betrokke te wees om die probleem aan te spreek en landbou meer volhoubaar te probeer maak.

Anika se lewe het sedert 2019 ’n drastiese wending geneem toe eNCA met ’n afleggingsproses van weervoorspellers begin het. “In daardie stadium het ek gedink dit is iets baie groots om te hanteer. Min het ek geweet dat ek twee jaar later ’n veel groter uitdaging in die gesig sou staar toe ek op 29 met kanker gediagnoseer is. Die een oomblik het ek net ’n moesie op my skouer laat verwyder, en die volgende oomblik was ek regtig siek met fase drie-melanoomkanker wat reeds na my limfstelsel versprei het.”

Vir iemand wat haar lewe lank blakend gesond was en vir wie dit nog altyd baie maklik was om positief te wees, was dit verpletterende nuus. “Ek en Abri was flenters, en is skielik gekonfronteer met iets wat ons nooit sou kon voorspel nie.” Binne ’n paar dae is daar geweldig baie toetse gedoen, en is die eerste kliere verwyder.  Daarna het die gesprek oor haar behandeling ná die operasie gevolg. “Ons het sommer dadelik moed geskep toe ons van ’n wonderlike nuwe tipe immunoterapie vertel is, net om in die sin daarna te hoor dat een behandeling ons meer as R20 000 uit die sak gaan jaag. Ek sou waarskynlik rondom 20 behandelings moes kry,” onthou sy dit soos gister.

“Ek het gedink ek gaan in daai stoel wegsmelt. Ek en Abri het albei goeie werke gehad, maar daardie tipe geld het ons beslis nie gehad nie.” Die eerste weke ná haar diagnose was vir hulle ’n donker tyd, maar ook ’n tyd waarin hulle die werklikheid van wonderwerke ervaar het.

“Ons familie en vriende het ons werklik gedra. Ek en Abri het net ná ons troue elkeen gevreesdesiektedekking uitgeneem, wat dit moontlik gemaak het om met my behandeling te begin, maar nie naastenby genoeg was om die behandeling vol te hou nie.” Hul vriende het in die geheim ’n      BackaBuddy-fonds gestig waarmee hulle uiteindelik rondom R200 000 ingesamel het. “Toe ons vir die eerste keer daarvan uitvind, was ons verstom. Ons het sedertdien regtig beleef hoe die Here net keer op keer voorsien wanneer ons nie meer geweet het hóé verder nie. Daar sal nooit genoeg woorde wees wat ons dankbaarheid kan uitdruk vir al die liefde wat ons ervaar het nie; van geliefdes en van totale vreemdelinge.”

Teen die einde van 2021 het die skandering gewys dat daar nog kwaadaardige kliere was wat dadelik verwyder moes word. Die 16 kliere wat in totaal uitgesny is, het veroorsaak dat sy limfedeem ontwikkel het, ’n permanente toestand wat sy met die dra van ’n kompressiemou en fisioterapie onder beheer kan hou. “Die kompressiemou wat baie styf om my arm sit, herinner my daagliks daaraan dat tyd kosbaar is,” sê sy.

In 2022 is sy vir ’n ooraktiewe skildklier behandel wat as gevolg van die langdurige kankerbehandeling ontwikkel het. Sedert haar diagnose in Mei 2021 het sy al vier keer op die operasietafel beland weens kanker wat op nuwe plekke uitgekom het.

“Ek is elke keer ’n wrak voor ’n PET-skandering, want daar gaan so baie dinge deur jou kop,” vertel sy. ’n  Ander (aansienlik duurder) tipe immunoterapie is voorgestel waarvan sy vier behandelings moes kry. Die newe-effekte daarvan het Anika baie hard getref: Hoofpyn, koors, naarheid. Haar medikasie was op maksimum vlakke. “Abri was regdeur die proses nog net ongelooflik. Hy het in ’n stadium die wekker vir elke 40 minute gestel om my koors te meet en koue lappe op my lyf en oë te sit.”

Anika sal nog vir ’n geruime tyd behandeling in die vorm van pille kry, maar sy bly positief en kies om haar droom ten spyte van al die onsekerheid te leef. “Ons sal baie graag met ’n familie wil begin, maar vir die oomblik moet ons dit nog uitstel. Kanker is ’n enorme geveg binne jou wat jou lewe op sy kop draai. Ons geloof en die mense wat vir ons omgee dra ons hierdeur. Tyd is kosbaar. Jy moet doen waarvan jy hou en jou drome najaag. Wees lief vir jou mense en fokus eerder op die Here in plaas van op die vrees van kanker.”

Anika kon dalk nie haar huidige situasie soos die weer voorspel nie, maar sy en Abri het besluit om nie traag te word nie en aan te hou leef in alle fasette van hul lewe. Sy ontwikkel webtuistes in haar vrye tyd en neem foto’s van natuurtonele met haar hommeltuig. “Ons het onlangs ons eerste huis gekoop en dis vir ons só lekker om alles reg te kry en te onthaal. As Abri visvang of gholf speel, bak ek, ry fiets of doen naaldwerk.” Hulle stap ook graag saam met hul geliefde Franse bulhonde.

Anika de Beer is ’n tornado in ’n porseleinkoppie; sy mag dalk fyn en broos voorkom, maar inherent hanteer sy elke slaggat wat oor haar pad kom trompop, en gryp sy steeds die lewe met gretige hande aan.

Kyk saam met ons:

rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.

Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.

Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.

Lees ook: Is jy ’n perfeksionis? Hoe vind jy balans?

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

5 maniere om meer selfvertroue te hê

Ons wil almal die soort vrou wees wat ’n kamer binnestap en selfvertroue uitstraal. Gebruik…

12 hours Gelede

‘n Velsorggids vir elke ouderdom

Soos ‘n mens ouer word, raak dit moeiliker om die sigbare tekens van elke verbygaande…

13 hours Gelede

Karamelspringmielies-en-mout-koekies

Gebruik ons resep vir basiese soetkoekies en maak hierdie lieflike karamelspringmielies-en-mout-koekies. Die koekieblik sal nie…

16 hours Gelede

Vanaand op ‘Een keer om die son’

Een keer om die son, volg die lief en leed van een familie oor die…

17 hours Gelede

Suidooster: Vyf stormagtige kinkels wag op kykers in Julie

’n Tornado van drama gaan glo Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel, dié…

2 days Gelede

Maklike resepte vir ’n maand

Hierdie gesonde, smaaklike etes is die ideale uitweg vir almal wie se dae te vol…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.