Sedert sy as aanbieder op die kassie is, is haar hare weer koperrooi, haar natuurlike haarkleur. Dit pas haar perfek en komplementeer haar besonderse amberkleurige oë. Sy lyk sagter en jonger.
“Dis heerlik dat my haar-wortels nou nie meer elke drie weke rooi begin deurskyn nie,” sê sy. “Al het my rooi hare kleintyd vir oneindige probleme gesorg, het ek nog altyd daarvan gehou om ’n rooikop te wees.”
Deesdae lag sy lekker oor die keer toe ’n bekommerde kleuterskoolonderwyseres vir haar ma, Lynette, vertel het dat klein Angelique altyd eenkant sit en nie met die ander kinders speel nie. “Halló!” sê sy gemaak verontwaardig.
“Ek het nie met die ander kinders gespeel nie, want hulle wou nie met my speel nie: ‘Rooikoppe mag nie op die swaaie ry nie.’ ‘Geen rooikop in die sandput nie.’ ‘Ek wil nie met die rooikop kissing touches speel nie,’ en ‘Gooi water, gooi sand, Angelique Gerber is aan die brand,’ is dinge wat ek gereeld moes hoor.”
Sy was eintlik ’n baie skaam meisietjie, sê sy, maar danksy balletlesse het haar selfvertroue toegeneem. Toe sy boonop goed vaar, het sy ewe skielik ook die waagmoed gehad om ander dinge te probeer. Kort voor lank was sy nie net ’n talentvolle ballerina nie maar ook ’n presteerder op vele vlakke. Op skool het sy op akademiese gebied en sport uitgeblink, die een na die ander medalje by Eisteddfods ingeryg en Suid-Afrika in aërobiese gimnastiek verteenwoordig.
Sy ag haar as besonder geseënd. Haar geloof is vir haar ’n groot deel van wie sy is, en in alles wat met haar gebeur, sien sy die hand van God raak. Oor die toekoms is sy nog onseker, maar sy glo vas dat daar wonderlike dinge wag. Miskien maak Clara weer ’n draai in Hillside, of dalk is daar ’n geleentheid om in ’n ander sepie te speel. Natuurlik sal sy graag weer ’n keer die reeks wil aanbied, maar terselfdertyd hoop sy dat sy binnekort die kans sal kry om in ’n rolprent of ’n dramareeks te speel.
Toe sy gestudeer het, het sy ’n paar geleenthede gekry om in kort-prente te speel, en dis die genre in die vermaaklikheidsbedryf waarin sy die meeste belangstel.
“Die Here is vir my baie goed, en dis alles onverdiende genade.”
“Soms vra ek net en die Here gee dit vir my. Wanneer dinge nie so onmiddellik gebeur nie en eers later na my kant toe kom, sien ek gewoonlik hoekom Hy dit nie dadelik vir my gegee het nie. Ek sou dit op daardie tydstip net opgemors het. Natuurlik is daar ook tye wanneer ek gefrustreerd voel en soms vra: ‘Here, waar is U?’ Maar eintlik het ek soveel om voor dank-baar te wees.
“Ek het die ongelooflikste ma wat berge versit het om aan my elke moontlike geleentheid te bied. Daar is Ben-G wat die beste man is waarvoor enige vrou kan vra. Hy is my heel beste vriend en wanneer ek weg is, mis ek hom vreeslik. Voeg daarby my wonderlike vriende en al die basiese dinge soos ’n kar, ’n huis en klere om aan te trek, en jy kan verstaan waarom my dankbaarheid groot is.
“Dan is daar nog my werk waaroor ek besonder passievol is. Ek voel behoorlik soos ’n bedorwe brokkie. Wanneer ek vra: ‘Here, hoekom is U so goed vir my?’, kry ek altyd die antwoord: ‘Want Ek is lief vir jou.’ Vir my menslike verstand is dit moeilik om te begryp waarom God ’n sondaar soos ek so lief kan hê, maar Sy liefde waarmee Hy my omvou, maak my oneindig gelukkig.”