Min mense maak so ’n indruk op ’n mens soos Angelina Jolie, en die woord “mooi” skiet ver tekort om haar te beskryf. Sy moes die afgelope paar jaar verskeie terugslae hanteer, soos haar ma se dood in 2007, ’n dubbele mastektomie, asook haar stryd met Bell-paralise.
Sy werk hard om die probleme van Derdewêreldlande, waarvan die meeste mense al vergeet het, aan die lig te bring, soos in haar eerste fliek in ’n ander taal, In the Land of Blood and Honey.
Almal het gedink haar huwelik met Brad Pitt lyk soos die perfekte Hollywood-sprokie, en die aankondiging van die egskeiding ná ’n onderonsie op ’n private vliegtuig het skokgolwe deur die wêreld gestuur. Brad het in ’n onderhoud aan GQ erken dat hy sedert Augustus 2017 nie meer drink nie. Die egskeiding is vir eers uitgestel. Tydens die promosie-onderhoude vir haar jongste fliek, First They Killed My Father, het Angelina haar trane weggesluk toe joernaliste haar vra hoe dit met haar gaan.
Lees ook: Brangelina – aan of af?
Dit kan seker nie maklik wees om in hierdie stadium van jou lewe in die kollig te wees nie?
(Sy kyk weg, en haar oë skiet vol trane.) Ek is oukei. Dit is moeilik. Dis die eerste keer in ’n lang ruk dat ek weer onderhoude moet doen en dis nie maklik nie. Ek voel op die oomblik ’n bietjie kamera-sku omdat ek nie so sterk soos gewoonlik voel nie.
Wat dink jy beteken dit om iemand te vergewe?
Ek glo aan geregtigheid, en dat daar eers ’n vorm van geregtigheid moet geskied voordat jy kan vergewe. Ek sê altyd vir die kinders dat jy nie bitter teenoor ander mense moet voel nie. Moenie haat saamdra nie, want dit kan jou vernietig. Maar daar is iets soos reg en verkeerd. Daar is geregtigheid en kriminele gedrag en wreedheid en ’n mens moet daarteen opstaan. Maar om op ’n plek van vrede en vergifnis te kom moet die ongeregtigheid oopgevlek word en daar moet verantwoordelikheid daarvoor geneem word. En jy moet seker wees die kriminele gedrag sal nie herhaal word nie.
Deur jou werk vir die Verenigde Nasies word jy aan die slegste kant van die mensdom blootgestel. In drie van die flieks waarvan jy die regisseur was, het jy van hierdie gruweldade aan die lig gebring. Hoekom het jy ’n kreatiewe drang om hierdie gebeure te ondersoek?
Omdat ek aan so baie van hierdie lande blootgestel was, wou ek gebeure soos die oorlog in Bosnië beter verstaan en dieper ondersoek. Veral ook die Kambodjaanse volksmoord. Ek het heelwat navorsing daaroor gedoen omdat my seun Max daarvandaan kom. Ek het besef daar word nie in Kambodja daaroor gepraat nie, veral nie op ’n manier wat kinders sou verstaan nie. Ek wou hê Max moet meer van hierdie geskiedenis weet, en het gedink dis iets wat ons saam kon doen. Ek het besluit om die storie deur die oë van ’n dogtertjie, Loung, te vertel (Loung het die boek geskryf waarop die fliek gegrond is); om te sien wat dit aan ’n jong kind se lewe doen en hoe kragtig propaganda kan wees, en hoe so iets kan gebeur. Wat weet ons regtig van die lewe? Ons verstaan eintlik baie min. Hierdie mense is deur die ergste dinge wat met ’n mens kan gebeur, en hulle het dit oorleef en sterker anderkant uitgekom. Ek wou in haar skoene staan en leer, en hopelik my kinders iets leer.
“Wat weet ons regtig van die lewe? Ons verstaan eintlik baie min”
Jou seun Maddox was die uitvoerende vervaardiger van die fliek.
Ja, hy is nou 16.
Hoe was dit om saam met hom te werk, veral op so ’n persoonlike vlak omdat hy van Kambodja af kom?
Max ken Loung se storie, en Loung ken Max al haar lewe lank. Ek het vir Max gesê hy moet vir my sê wanneer hy gereed is om eendag meer oor sy land te leer. Ek het vir hom verduidelik dat dit iets is wat ons saam moet doen, dat hy elke dag aan my sy moes wees én dat ek geen verskonings, soos “Ek is moeg” wil hoor nie. Eendag het hy gesê: “Ek is gereed”. Hy het baie hard gewerk en baie navorsing gedoen. Dit was ook goed om ’n jonger mens op stel te hê wat kan sê wanneer iets gebeur wat hy nie verstaan nie, of as dit nie sy aandag hou nie.
Wat kry jy uit regie wat toneelspel jou nie bied nie?
Nogal baie. Wanneer jy ’n akteur is, is jy ’n karakter. Jy is deel van ’n groter storie en jy help om die verhaal te vertel. Maar jy is nie in beheer van die wyse waarop die finale storie gestalte kry nie. As jy nie op jou eie al die stukkies bymekaar kan sit nie, vertel jy nie die hele storie nie, net jou karakter se deel van die storie. Dis baie, baie anders om aan die stuur te wees van die hele proses – van die musiek tot die rolverdeling. Die produksie verg natuurlik ook baie meer van jou, want dit kan tot ’n jaar en ’n half uit jou lewe neem om so iets gedoen te kry.
Wanneer jy ’n akteur is, hoef jy dalk net twee maande daaraan te werk en dis die einde daarvan. Ek kan net die regisseur wees as dit iets is waaroor ek baie sterk voel, want ek weet dit gaan my lewe oorneem.
Jy is ook nou ’n professor aan die London School of Economics?
Dis ’n uitstekende skool. Ek voel so geëerd om met die studente te praat en boonop leer ek terselfdertyd iets by hulle. Ek wil weet wat hierdie generasie se kwessies is, waaroor praat hulle, watter vrae het hulle, wat is hul doelwitte en wat sien hulle raak? Ek sien uit na my volgende klas. Sover het ek nog net een groot klas gegee en ons het goeie gesprekke gehad. Ek het baie gefokus op die foute wat ek in my werk vir die Verenigde Nasies gemaak het, want ’n mens verwag dat jy die wêreld oornag gaan verander, maar dinge gebeur baie stadig en jy moet geduldig wees. Ek is baie opgewonde oor die vroueregteprogram en dat jy nou ’n meestersgraad daarin kan doen. Daar behoort meer sulke kursusse wees.
Lees ook: Vriendinne met Angelina Jolie
Waar kry jy die tyd en die krag om al hierdie goed aan te pak?
Die afgelope jaar was moeilik – ek het eintlik net my werk in Nairobi gedoen en klas gegee. Die meeste van die tyd was ek voluit met die kinders besig. Hopelik sal daar mettertyd weer balans in my lewe kom sodat ek meer tyd en aandag aan my werk kan afstaan. Dit kan dalk lyk of ek baie balle in die lug het en dat ek dit regkry om almal te vang, maar eintlik probeer ek net om deur elke dag te kom. Maar as jy jou werk geniet, gee dit jou die energie wat jy nodig het.
“Hopelik sal daar mettertyd weer balans in my lewe kom sodat ek meer tyd en aandag aan my werk kan afstaan”
Hoe sien jy na jouself om?
Ek dink elke ma weet dis moeilik … Ek weet nie regtig nie. Almal sê gereeld vir my dat ek meer tyd vir myself moet maak, maar ek is mal daaroor om ’n ma te wees.
Geniet jy dit om enkellopend te wees?
Nee, glad nie. Dis nie iets wat ek ooit sou wou gehad het nie.
Is daar geen positiewe aspekte daaraan verbonde nie?
Nee, daar is niks positiefs nie. Dis net moeilik.
Tog is jy dapper genoeg om op te staan en jou persoonlike kwessies met ander vroue te deel. Hoekom?
Toe ek my ma verloor het, wou ek ander vroue help wat dieselfde paadjie moes loop. Ek het ’n sterk band met hierdie vroue gehad. Dis my voorreg. Ek glo daaraan dat ons almal meer met mekaar moet kommunikeer.
Maar dit het ook ’n prys …
Dit het seker, maar daar is ook ’n prys wanneer jy stilbly en weet dat ander vroue ook ly. Ons is almal in dieselfde bootjie. Hoe meer ons met mekaar daaroor kan praat, hoe sterker maak dit ons. Wanneer ek saans gaan slaap, wil ek weet dat ek alles om die regte redes en na my beste vermoë gedoen het. Enigiets anders is ongesond. En ons almal weet dit. Wanneer ons iemand sien wat sterk en dapper is, laat dit ons beter voel. Ons is almal net mense, maar soms vergeet ons dit en ons kan baie ongenaakbaar met onsself en ander wees.
“Ons is almal net mense, maar soms vergeet ons dit en ons kan baie ongenaakbaar met onsself en ander wees”
Ek het gehoor jy neem kookklasse?
Ja, maar ek weet nie hoe goed ek daarmee is nie. Ek is baie ongeduldig en wispelturig – dis vir my moeilik om in die kombuis stil te staan. Ek raak darem nou gewoond daaraan. Ek probeer baie hard (lag)! Dis boonop iets wat ek en die kinders saam kan doen en geniet. Hulle neem partykeer die kosmakery by my oor en vertel my gou dat hulle dit beter as ek kan doen. Ek dink soms dis slim om te sê ek kan nie kook nie sodat iemand anders die werk kan doen. Maar eintlik is hulle regtig beter kokke as ek.
Wat is jou gunstelingresep?
Ek het nie een nie. Soms doen ek per ongeluk iets reg, of dit werk toevallig en dan raak ek regtig baie opgewonde. Ek kan nie resepte volg nie. Ek hou nie van reëls nie.
Waar sien jy jouself oor tien jaar en hoe sou jy die vraag tien jaar gelede geantwoord het?
Ek sou nie tien jaar gelede kon droom dat ek kon wees waar ek vandag is nie. Ek het baie anders oor my gesin, my huwelik en my loopbaan gedink. Ek sou nooit kon dink dat ek ’n regisseur kon wees nie. Ek sou die kinders, my werk en al my reise kon sien … maar dis al. En ek dink oor nog tien jaar sou ek net gesond wou wees (lag). Ek hoop ek kan steeds kreatief wees. Max sal dan 26 wees. Al my kinders sal uit die huis uit wees. Ek sal seker steeds agter hulle aanhardloop … en hopelik nog geen kleinkinders hê nie (lag).
Daar is twee Angelina Jolies. Die een van twintig jaar gelede en die een van vandag. Hoe voel jy oor waar jy vandag is?
Ek dink daar is omtrent twaalf Angelina Jolies (lag)! Ek dink ek moet eintlik weer my oorspronklike self herontdek … my sin vir vreugde en pret. Ek dink wanneer die wêreld te oorweldigend word, vergeet ’n mens mettertyd wie jy regtig is. Daar het so baie dinge die afgelope paar jaar gebeur. Dit was ’n goeie tyd vir groei, maar daar was baie om te verwerk. Wanneer jy jong kinders in die huis het, moet jy soms jou eie sin vir pret opsy skuif. Noudat hulle hul tienerfase ingaan, sal daar hopelik weer tyd vir my wees om my prettige kant te herontdek. Ek dink dis tyd.