Toe ek ’n inskrywing vir die TransCape gekry het, was ek in die sewende hemel. ’n Trajekren oor sewe dae in een van die mooiste gedeeltes van die land – van Knysna tot Franschhoek.
Ongeveer 750 km oor sewe dae in Februarie. Met die bonus dat jy die tentekamp systap en elke aand in ’n heerlike sagte bed in ’n gastehuis slaap, met kos uit die boonste rakke.
Een klein detail wat ek nie te hard aan die gawe mense van TransCape adverteer het nie is dat ek ’n ervare padfietsryer is, maar bitter min ervaring op ’n bergfiets het. My bergfiets is in ’n oomblik van blindelingse optimisme gekoop toe ek gehoop het ek en manlief gaan vele avontuurlustige ure op ons bergfietse deel. Die realititeit was dat hy naweke te besig was en ek het toe vele blitsige ure op my padfiets spandeer.
Maar hoe moeilik kan dit wees? Dit is na alles steeds ’n fiets met twee wiele. Weliswaar twee baie groot wiele, besluit ek toe ek op my 29ner bergfiets spring. Nie omdat ek so rats is nie, maar eerder omdat die gevaarte baie hoog bo die grond is.
Die volgende ding wat ek agterkom is dat alles fietse helaas nie dieselfde is nie. So tuis en vol selfvertroue soos ek op my padfiets was, so ongemaklik en groen voel ek op die bergfiets. Amper soos ’n kind wat vir die eerste keer fietsry.
Niks soos ’n nuwe uitdaging om jou nedering te laat voel nie, dink ek toe ek 6h30 op ’n Vrydagoggend regstaan by diePWC Bike Park in Bryanston vir my eerste vaardigheidsles wat Vrydagoggende gratis vir dames van die Cycle Lab fietsklub aangebied word.
Ek het heelwat in my eerste les geleer. Die opvallendste was hoe min ek weet. Tweedens het Nicole, ons baie kundige instrukteur, my fiets (’n ‘hardtail’ – dus ’n fiets wat net suspensie op sy voorwiel het) een kyk gegee toe sy hoor waarvoor ek oefen en met ’n fronsie verduidelik dat dit moontlik is om 750 km op ’n hardtail te doen, maar dat dit BAIE beslis nie LEKKER gaan wees nie.
Die prentjie in my kop waar ek met ’n salige glimlag deur pragtige gedeeltes van die Tuinroete ry en vriendelik vir mense in oulike klein dorpies waai, het skielik ’n lelike knou gekry. Ek het in ’n absolute paniek die vriendelike mense by Cycle Labgenader, wat onderneem het om ’n blinknuwe Scott Spark Contessa vir my te leen tot en met die wedren in Februarie.
Dit het ook geklink of hulle verwag dat ek elke kilometer van die wedren moet FIETSRY toe hulle my sagkens maar beslis oorreed om fietsryskoene te kies wat baie ongemaklik loop.
Lees volgende Vrydag hoe my kronkelpad van padfiets na bergfiets verloop.