Die dag toe ek besef hulle is ‘n eie spesie, was ons in die Nico Malan-teater in Kaapstad vir die opening van ‘n konferensie vir raadgewende ingenieurs. Met die uitloopslag raak ek my man kwyt. Op die trappe buite die saal draai ek om en soek hom tussen die aanstromende kongresgangers, en ‘n surrealistiese oomblik lank voel dit kompleet of ek droom. Toe hy jonk was, kon ek hom met een oogopslag tussen ‘n skare eien (hoeveel mense het nou rooi hare en sproete?) Dié keer sien ek hom glad nie, hy is perfek gekamoefleer. Ál die ingenieurs lyk eenders! Middeljarig tot ouer-jarig, blesserige voorkop, metaalraambril, ingetoë pak klere, rooierige of blouerige strepiesdas. En elkeen straal dieselfde onverstoorbare vertroue in sy beheer oor die natuurlike wêreld uit.
Sedertdien het ‘n paar goed verander. Daar’s nou vroueingenieurs in besigheidspakkies. Die gesigte by konferensies is lank nie meer almal wit nie. Daar is ingenieurs wat nie das werk toe dra nie en wat goed kan dans. Maar wanneer ingenieursvrouens kuier, hoor jy steeds dieselfde vrolike geskater as hulle ‘n bietjie in hul mans se karakters inklim en ondanks die menigte verskille, die gemene delers ontdek.
Ingenieurs ken ‘n beter pad om te ry as jy (dit wil sê, ‘n korter pad.) Hulle erken nie as hulle verdwaal nie. Hulle lees nooit aanwysings nie. Wanneer hulle iets uitmekaar gehaal en weer aanmekaargesit het, is daar altyd deeltjies oor, maar die ding werk. Hulle láát nie goed doen nie, hulle doen verkieslik self. Ons vriend Thian het eers ‘n flenters tekenbord gerestoureer, toe sy huisplan (self) daarop geteken, daarna ‘n half-vergane betonmenger uit die dode opgewek om sy betonblaaie (self) te gooi. Ingenieurs koop net onder dwang klere en hulle maak nie geliefde baadjies weg nie, al skif dit op die elmboë en fraiing dit om die polse. Hulle dra hul swart trouskoene twintig jaar later nog kerk toe.
Feitlik alle ingenieurs het een en dieselfde stokperdjie: hul werk. Toe my man eendag ‘n bietjie laat op kantoor aankom en die vriend wat hy daar raakloop, hom grappenderwys aanvat oor ‘n sogenaamde luilekkerlewe, was sy antwoord: “Nee, man, ek hét al vanoggend gewerk, maar dit was voor ek gaan slaap het.”
Ingenieurs het ‘n eie taal. Hulle gebruik woorde soos “uit die aard van die saak”, let iemand op. Toe ek eendag my man en seun vir tee roep waar hulle sommer dwars op ‘n bed in diepe gesprek sit-lê, hoor ek: “Wag nou, ons is in ‘n vergadering.”
Die volgende storie het ek uit die betrokke vrou se eie mond gehoor. Sy moes een oggend vroeg uitgaan en sy het die ontbytgoed reggesit waar haar man dit nie dadelik kon raaksien nie. Later is sy kommentaar: “Ek dink ons moet ‘n werksessie hou oor die prosedure met ontbyt.” (Maar ek weet natuurlik ook van ’n onderwyseres wat vir haar man gesê het: “Wag! Sit nou! Luister!”)
Wat “luister” betref: dis ’n gebied waarop ingenieurs juis deur een van hul grootste deugde gekelder word, naamlik hul ingesteldheid dat enigiets wat nie werk nie, dadelik reggemaak moet word (die woord “gefieks” staan nie in die HAT nie.) Wanneer ’n vrou maar net ’n simpatieke oor soek sodat sy ’n bietjie kan ontlaai, waarna sy weer goed kans sal sien vir die aansprake op haar en al die ingewikkelde menslike situasies in haar lewe, aanvaar haar welmenende, hulpvaardige man sy is besig om sy raad te vra. Haar reaksie hierop is vir hom duister. Hy het sulke goeie oplossings en planne voorgestel, hoe kan sy móóntlik daarmee (en met hom) ’n probleem hê?
In hul rol as kêrels en eggenote is ingenieurs gewoonlik ook nie te wonderlik met geskenke nie. My eerste verjaardaggeskenk ná ons troue, ‘n tydklokkie vir die kombuis, het my in droefheid gedompel (ter verdediging: ek was romanties en 23 jaar oud). My arme nuwe man was ingenome met sy vindingrykheid, en hy was verslae. Nog minder kon hy die tranedal begryp toe hy eindelik die lig sien en liefdevol sy oordeelsfoutjie probeer regstel deur te vra: “Wil jy blommetjies hê?” Vanselfsprekend het ek “nee” gesê, en omdat daar by hóm geen skaduwee van voorgee of bedrog bestaan nie, het hy dit wragtig geglo. Sedertdien het hy slimmer geword, en ek het sy taal ook leer verstaan.
Die ingenieurs wat ek ken, is prakties, nugter, rasioneel en standvastig. My buurvrou het op ‘n keer ‘n bietjie in ‘n bloemistewinkel uitgehelp. Eendag stap ‘n stralende vrou in en koop ‘n pragbos lelies en rose. ‘n Kaartjie? Nee, dis nie vir iemand anders nie, sê sy. Haar eerste man het haar met geskenke bederf en haar gekul. Nou is sy weer getroud. Dié man dink nooit aan blomme nie, maar hy gun haar die son wat op haar skyn en die ruimte om haarself te wees. As emosies haar rondruk, bly hy kalm. As sy wil sink en haar hand uitsteek, is daar altyd iets solieds om op te druk. Daarom koop sy met ‘n blye hart élke week vir haarself ‘n bos blomme.