Waarmee hou jy jou tans besig?” begin ek tastend my weg oopvoel na die mens voor my. Amalia Uys loer met groot blinkbruin oë na my oor haar warm sjokoladedrankie en lag onnutsig. “Niks!”
Maar eintlik skep sy net ’n slag asem, sê sy. Haar stem is sterk en warm, haar woorde geartikuleerd soos dit ’n aktrise betaam. “Ek het maar verlede week teruggevlieg uit Johannesburg waar ek weer ’n maand lank opnames vir Binnelanders gedoen het. En die afgelope internasionale advertensieseisoen was besiger en lekkerder as ooit. Omdat Kaapstad so ’n besonderse bestemming is en dit vir die internasionale advertensiemaatskappye soveel goedkoper is om hier te skiet, sak hulle deesdae in die somermaande op ons toe.”
Sy kruis haar bene in die nousluitende langbroek met die gate op die knieë. Alles deel van die dekor wat die fyne juffrou eksie-perfeksie komplementeer. Nie verniet die dogter van ’n man wat sê daar loop ’n dik stroom Piet Presies deur sy are nie. En tog begin sy vervaard keer as mense haar idealiseer. “Ek is baie bewus van my foute!”
Maar sy lyk en voel goed. Werksgewys bied die advertensies ook ’n finansiële buffer. “Dis ’n aspek van die bedryf wat maklik ’n mens se gemoedsrus en kreatiewe energie steel as jy dit nie reg bestuur nie. Ek bly darem ook tussendeur skryf en stoei met idees en projekte. Dan is jy eintlik nooit sonder werk nie.”
Maar geen nuwe rol kan haar oë so laat blink soos die vooruitsig om in Desember vanjaar mevrou Shaun Golding te word nie. Sy het haar kwota brouhoue gehad voor sy weer op die skoonveld beland het. “Ek was voorheen in ingewikkelde verhoudings wat my meer kwaad as goed gedoen het. Ander kan jou probeer waarsku teen sekere goed maar dit lyk my sekere lesse moet ’n mens maar self leer. Die een voordeel is dat hierdie ervarings my in staat gestel het om te weet dat hierdie verbintenis anders is. Dit laat my toe om myself te wees. ’n Mens moet soms gewoon sagter met jouself kan omgaan.”
Shaun se beste vriend en haar beste vriendin het hulle aan mekaar voorgestel. Toe hy haar ’n ruk later kontak, was sy gelukkig sonder enige verbintenis en weer in voeling met haarself. “Ek het weer ’n eie nes geskop, potte sop gekook en saans kerse gebrand,” spot sy oor hierdie fase in haar lewe.
“Ander kan jou probeer waarsku teen sekere goed maar dit lyk my sekere lesse moet ’n mens maar self leer”
Haar verloofde is ’n eerste generasie Suid-Afrikaner met ’n Britse pa en ’n Hollandse ma, ’n watertegnoloog wat onder meer met watersuiwering en groot verkoelingstelsels werk. “Jy sal nie glo hoeveel liters vars water gaan in die nywerheidsgebiede in dreine af nie,” vertel sy iets van die nuwe wêreld wat sy via hom betree het. “En tog het ons ondanks ons uiteenlopende aanlope op ’n vreemde manier net gepas.”
Haar suster Hermien is twee weke nadat hulle begin uitgaan het, op 36 oorlede. Sy was skisofrenies en in ’n tehuis. “Haar dood het my en Shaun gekonfronteer in ’n tyd toe ons eintlik blinkoog en verlief moes wees.”
Die feit dat sy in daardie tyd die karakter Margot wat met onstabiliteit sukkel in Binnelanders moes speel, het dinge nie makliker gemaak nie. “Ek het in trane by die skrywers gaan pleit om die teks te verander maar dit was reeds te ver gevorder.”
Shaun se nugter aanslag en ondersteuning kon ’n grondslag lê wat haar laat besef het dis ’n man met wie ’n vrou ’n pad kan stap. “Waar Hermien se siekte ’n groot invloed op ons huisgesin gehad het, kom hy uit ’n ongekompliseerde, gewone raamwerk.”
“Ek het in trane by die skrywers gaan pleit om die teks te verander maar dit was reeds te ver gevorder”
Verlede Desember het hy in die geheim vir haar mense wat op Port Owen aan die Weskus woon, gaan ouers vra. “Ek het hulle nogal die volgende dag op Stellenbosch gesien maar hulle sprak geen sprook nie.” Sy lag. “Ek het geweet hulle hoop ons wil aanstaltes maak maar het nog probeer waarsku dat hy eers sy eie onderneming behoorlik gevestig moet kry voordat daar sprake van trou kan wees.”
Sy het niks vermoed toe Shaun kort daarna tydens ’n kuier by haar ouers langs die see wou gaan stap nie. Haar gesig verlewendig by die herinnering. “My ma het verseg om saam te stap. Ek en hy het sommer oor ons verhouding loop en praat. My woorde ‘jis, ek is happy!’ was skaars koud toe hy die boksie uithaal. En dis toe nié die oorbelle wat ek gedink het dit sal wees nie!
“Alles was net so lekker ongekunsteld en eerlik. En sy ouers het die volgende dag gekom om dit saam met ons te vier.”
Sy trek haar baadjie uit en ’n geblomde vintage hemp, een van die tweedehandse vondste wat vir haar soveel genot verskaf, maak sy buiging. Amalia is van kleins af dol daarop om onverwagse dinge bymekaar te klits en haar klerekas te laat práát. Sy en haar ma, Celia, is voëls van eenderse vere as dit by aantrek kom. Albei verstaan hoe om jouself raak te vat en te poets as dit moet. “Soos in die teater toor kuns mos goud uit die gewone,” verklaar sy.
Sy het haar ook al as kostuumbestuurder op ’n stel bewys, die soort mens wat, afhangend van die geleentheid, vat en voel aan teksture en put daaruit. “Ag, die lewe bied eintlik so ’n rykdom om te ontgin en te ontdek,” sê sy. “Ek doen graag dinge soos kursusse in fotografie of navorsing oor skryfkuns, alles goed wat jou opskerp om meer bewustelik te leef.”
Die afgelope tyd was sy besig met ’n kortfilmkonsep oor geestesgesondheid. “Dis my poging om wanpersepsies oor sogenaamde ‘mal’ mense te help bestry. Skisofrenie is iets waaraan een uit elke honderd mense ly. Dis mense met ’n interne wêreld wat hulself nie eens kan begryp nie en waaroor daar soveel onkunde bestaan.
“Die manier waarop dit in rolprente en televisie uitgebeeld word, vestig net die aandag op die onstabiliteit terwyl daar soveel ander, mensliker dimensies is. Ja, my suster het ons laat skrik, maar sy was ook liefdevol – sy het dikwels gelag oor die vreemde goed wat sy aangevang het.”
Op 32 geniet Amalia dit om haar op verskillende gebiede te begewe. Dit bied ook kontak met gelykgestemdes wat soos sy kyk, dink en voel.
Sy was medevervaardiger van Jagveld, Deon Meyer se skop-skiet-en-donder-fliek wat vanjaar uitgereik is, en op die KKNK was sy te sien in die Noorse dramaturg Henrik Ibsen se laat-Romantiese meesterwerk Die Vrou uit die See. Hierdie liefdesverhaal met Jana Strydom in die hoofrol was verlede jaar een van die sterkste debuutproduksies by Innibos.
Lees ook: Ons is opgewonde oor Jagveld
Daar bestaan eintlik geen “klein” rolle by Ibsen nie en haar rol van Bolette het haar weer op ’n nuwe emosionele verkenningstog gedwing omdat die karakter so anders is as wat sy is.
“Sy beweeg in reguit lyne en is gegrond; ek is meer van ’n dromer en het ook ’n emosionele verbintenis met die see soos Jana se karakter. Maar dis ’n ongelooflike leerskool om met die regisseur Henry Mylne te werk. Hy lééf vir die teater en het soveel kennis. Ek is nog in ’n verkennende fase maar sou ook graag eendag regtig ’n deskundige op een of ander gebied wou wees.”
Haar kinderjare in Pretoria was goed maar agterna gesien dink sy haar ouers en hul hegte gesinslewe het ’n groter invloed as die buitewêreld op haar gehad. “Ek en my ma kon ure om die kombuistafel sit en gesels en filosofeer. Ek het my kunssinnigheid en liefde vir letterkunde van haar gekry. My pa se leergierigheid, daardie amper gulsigheid om te weet hoe dinge werk en inmekaarsteek, het ook ’n groot invloed op my gehad. Ek delf en deurgrond graag. Of dit nou is oor waar ons vandaan kom, of oor ander kulture, of die geskiedenis.”
Amalia is so sensitief as wat sy fyn van gestalte is. Dit sou haar ’n papierskuitjie op die stormwaters van die teaterwêreld kon maak. Maar haar delikaatheid maak beslis nie van haar ’n poppie nie. Haar jare se balletdissipline wys. ’n Mens bespeur die toewyding, die dans deur die pyn heen en die vasberadenheid om weer op jou tone te land al kantel die lewe jou soms.
Sy het vroeër dinge soos sielkunde, regte en spraakterapie oorweeg. Maar sy berou dit nie dat die kunstenaar in haar gehoor gegee het aan dit wat met haar binneste resoneer nie. Die opgedamde skeppingslus moes iewers ’n uitloop kry. Haar hare moes loskom uit die stywe bollatjie.
Die troue
Amalia is opgewonde oor haar troue wat hulle vir Desember vanjaar beplan.
“Maar terselfdertyd gelukkig heel ontspanne. Ná my vuurdoop as medevervaardiger van Jagveld vermoed ek dit gaan makliker wees om ’n troue aanmekaar te slaan!
“Ons het reeds ’n ideale plek op ’n plaas langs ’n rivier gekry. Dis mooi rustig en landelik en ons gaste sal die opsie hê om allerlei aktiwiteite van stap tot swem te doen terwyl ons die naweek saamkuier. Dit gaan beslis so ’n bietjie boheems wees. Baie blomme en blare, dinge waarvan ek hou.
“Ek wil dit net geniet. Die rede hoekom ons trou, mag nie ondergeskik raak aan ’n gedoente rondom die troudag nie.”