kategorieë: Leef gesondGesondheid

Alzheimersiekte: Kan jy dit keer?

Deur Salomé Delport. Foto: Steven HWG vir Unsplash

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Jy vra …

Ek sit by my pa. Eens was hy so ’n slim man. Vandag is daar net ’n skaduwee van hom oor. Ek probeer sy kop wakker ruk deur uit te vra oor evolusie, sy gunstelingonderwerp van vroeër jare.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Gondwanaland? Is dit in Afrika?” antwoord hy. Hy wat hom so verlustig het in die wetenskappe onthou nie. Al kon hy moeiteloos koershou deur die vlaktes van ons vasteland verdwaal hy nou op pad bed toe. Alzheimersiekte het sy eens kristalhelder brein in duisend stukkies laat spat. Onheelbaar. Die helder oomblikke raak al minder. Is dit my toekoms ook? Kan ek my daarvoor laat toets?

Kan ek iets doen om Alzheimersiekte te vermy?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Anzette, 43

Wat ons nou weet …

Jou kanse is kleiner as wat jy dink

Volgens Alzheimer Suid-Afrika is daar 750 000 mense met Alzheimersiekte (AS) in ons land. Soos dit die afgelope dekades toeneem, gaan die getal teen 2030 verdubbel. Jou kans op AS is dus nie onbenullig nie. Nogtans is dit is darem ook nie ’n uitgemaakte saak dat jy AS gaan kry nie, sê die Internasionale Alzheimer-organisasie. Al neem getalle skerp toe, is dit nie ’n onvermydelike deel van veroudering nie. Net 10% van mense bo sewentig het beduidende geheueverlies. Net die helfte van hulle het AS.

Dit is so dat verreweg die meeste bejaardes AS vryspring – en jy dus potensieel ook.

Die groot vrae bly of jy die siekte kan keer, en hoe?

Diabetes verhoog jou kanse

Een van die jongste bevindings is dat diabetes jou AS-risiko opstoot – veral as jy ’n vrou is.

’n 2016-artikel in Diabetes Care, joernaal van die Amerikaanse Diabetesvereniging, wys diabete se kans op AS is ’n yslike 40% hoër as nie-diabete s’n, terwyl hul kans op demensie ’n volle 60% groter is. Vroue-diabete se risiko is ’n bykomende 20% groter as mans s’n. Dié afleidings is nie sommer uit die lug gepluk nie. Dit is gegrond op gesamentlike data van 14 groot ondersoeke op meer as twee miljoen mense met diabetes en 102 000 mense met demensie.

Al is dit slegte nuus vir diabete, bied dit hulle – en ons almal – darem ook uitkomkans. Ons kan immers ons bloedsuikervlakke deur oefening, dieet en medikasie beheer. Nog beter vir dié sonder diabetes: as jy soms te lui is vir ’n vinnige twintig minute se stap ná jy fluks aan die soetgoedjies weggelê het, dink net hoeveel ’n bietjie oefening en baie groente op die lang duur vir jou brein beteken.

Dit loop nié in families nie tensy …

Wat as jy ’n ouer met Alzheimersiekte het? Is daar iets soos Alzheimergene wat jy kan oorerf? Daar ís en jy kán. Jou kans op AS kan tot 80% wees as gene soos PSENS1, PSENS2 of APP en nog sowat twintig ander in jou familie voorkom. Gelukkig is hierdie gene bitter skaars, en saam is hulle by net een in tien mense met AS oorsaaklik.

En sou jy een van hierdie gene erf, is dit nie te sê jy sál AS ontwikkel nie, skryf prof. Kristel Sleegers van die Departement van Molekulêre Genetika aan die Universiteit van Antwerpen in Nederland in ’n 2016-oorsigartikel in die spesialistydskrif Genetics in Medicine. Hier is die hoofpunte: 1 Sowat 80% van mense met hierdie gene ontwikkel AS – sommige selfs op dertig. 2 Maar báie dikwels ontwikkel hulle AS eers ná tagtig, wanneer dit in elk geval meer algemeen is onder mense sónder enige van hierdie gene. 3 Sowat 20% van hulle sal AS vryspring, hul gene ten spyt.

Die APO-toets is onbetroubaar.

Maar daar is nog ’n geen wat aan AS gekoppel word: die APOE4-variant van die APO-geen. Volgens prof. Sleegers dra sowat 20%-25% van die bevolking hom, terwyl tot meer as dubbel soveel (40%-65%) van mense met AS dit dra.

Dit is maklik om vir APOE4 te toets. Daarom is dit tans een van die gewildste nuwe voorspellers vir AS … en skrikwekkend baie van ons toets positief.

Prof. Dirk Blom, hoof van lipidologie aan die Universiteit van Kaapstad, sê dit beteken nie daar is ’n direkte verband nie. “Al is daar ’n hoër voorkoms hiervan onder mense met AS, is daar nie ’n direkte verband nie. Die hoogste voorkoms van APOE4 kom onder Nigeriërs voor, maar hulle het die laagste voorkoms van AS. Ons weet regtig nie wat die verband tussen APOE4 en AS is nie.”

Hoeveel maak APOE4 jou risiko groter?

Frieda Loubser, genetiese berader van Kaapstad, sê party ondersoeke wys dat APOE4-draers se kans op AS 25% is. Mense daarsonder se risiko is sowat 10%.

“Voor jy skrik: onthou, al dra jy die APOE4-geen het jy ’n 75%-kans om nié AS te kry nie. Die meerderheid APOE4-draers ontwikkel nooit AS nie. Nog ’n manier om die statistiek te lees: vier tot ses uit elke tien mense met AS dra nié APOE4 nie.

“En al toets jy negatief vir APOE4 kan jy AS om ánder redes kry waarvoor ons nog nie kan toets nie. Die APOE4-toets is nie betroubaar nie.

“Wat ons eintlik weet, is dat die meeste APOE4-draers AS systap of ten minste die aktivering daarvan uitstel.”

Hoe kry hulle dit reg?

“Niemand weet nie. Dalk dra hulle ’n beskermende faktor soos ander gene wat APOE4 in toom hou.

“Dit het vermoedelik met die penetrasievermoë van APOE4 te make. Waar die ander AS-gene ’n hoë penetrasie het – met ander woorde ’n baie groot kans het om hulself uit te druk – is APOE4 ’n lae-penetrasiegeen. Baie ander faktore modifiseer dit. Dus druk dit meestal nie uit nie. Jou leefstyl – dieet, stres en oefening – kan moontlik ’n uitwerking hê.”

Volgens dr. Sleegers speel jou ouderdom ook ’n rol: jou APOE4-gebaseerde risiko begin eintlik eers rondom sewentig inskop. Die gemiddelde ouderdom vir die begin van AS by mense met twee APOE4’s (wat as die hoogste risiko beskou word) is 68, en 84 as jy net een APOE4-alleel het.

Realisties gesien ontwikkel die meeste mense met die APOE-4-geen nooit AS nie, en dié wat wel AS kry, ontwikkel dit meestal eers baie laat in hul lewe.

Afrikaanses het nie ’n groter risiko nie

Dieselfde cholesterol wat in jou are aanpak, is noodsaaklik vir jou brein. Sowat 25% van jou cholesterol word in jou brein ingespan in die prosesse van leer en onthou … wat ’n mens laat wonder oor AS en bloedcholesterol.

Daarby is daar ’n verband tussen cholesterol en die APO-geen: dit is betrokke by die vervoer en afbreek van cholesterol in jou brein. Mense met ’n APOE-4-alleel vervoer dit nie baie goed nie, wat vermoedelik daartoe lei dat ’n proteïen, wat beta amiloïed genoem word, in die brein neerslaan – die berugte plaak wat kenmerkend van AS-breine is.

APOE4 word ook aan hoër bloedcholesterol gekoppel, en draers het ’n 10% groter kans op hartsiektes.

Dit laat mense verder gis oor die soort hipercholesterolemie wat in Afrikaanse families voorkom. Hoë cholesterol is baie meer algemeen onder ons as onder ander etniese groepe plaaslik en selfs wêreldwyd. Beteken dit dat jy ’n groter kans op AS het as jy ’n familiegeskiedenis van hoë cholesterol het?

Prof. Blom sê nee, dit is onwaarskynlik. “Die genetiese fout by Afrikaanses met familiële hipercholesterolemie lê op ’n ander plek, spesifiek by hul LDL-reseptors, en het dus nie met die APOE4-alleel te doen nie.

“Baie draers van die APOE4-geen het normale en selfs laer bloedvlakke van cholesterol. Die brein maak sy eie cholesterol. Hy kry dit nie van die liggaam nie. Verder werk cholesterol in die brein onafhanklik van cholesterol in die liggaam, via APO. Dus weet ons nie of daar werklik ’n verband tussen hoë bloedcholesterol soos dit betrekking het op die liggaam en AS is nie.”

Aluminium is oukei

Aluminiumpotte en -panne – die doodgewone blink dunboomsoort en daardie pragtige spogstukke in al die kleure van die reënboog – is heeltemal veilig, sê die Internasionale Alzheimervereniging. So ook koeldrank uit blikkies, tinfoelie, sooibrandmiddels en sweetweerders. Hoewel aluminium in die vorige eeu as ’n risiko beskou is, kon dit nog nooit met enige navorsing bevestig word nie. Dit word vandag glad nie meer as ’n risiko aanvaar nie.

Speel dieet ’n rol?

Beslis. Navorsing wys die MIND-dieet verminder die voorkoms van AS met 53% as jy getrou daarby bly, en met 35% as jy dit net min of meer volg.

Kortliks:

Eet elke dag
• 3 of meer porsies graan
• een of meer porsies blaargroente soos kool, slaai of spinasie
• nog een of meer porsies groente.

Sluit elke week in
• 3 porsies bone
• 1 porsie vis
• 2 porsies bessies of aarbeie
• 5 porsies neute en
• 2 porsies hoender.

Sny drankies tot een per dag, of geen
• rooivleis tot 4 porsies per week
• kaas tot een porsie per week en
• snoepgoed met suiker tot 5 porsies per week.
• Gebruik olyfolie as jou basiese olie, met nog sowat 12 g botter of sagte margarien per dag.
• Beperk roerbraai en kitskos tot een keer per week.
• Oefen. Dit verlaag jou bloedsuiker.
• Oefen jou brein ook – gebruik hom, of verloor hom!
• Bly in ’n gesonde slaaproetine sodat jou brein kans kry om te regenereer.

Lees ook: Volledige koslys vir die Alzheimer MIND-dieet

Lees ook: 5 maklike veranderinge wat jy tydens Hartbewustheidsmaand kan maak om jou gesondheid te verbeter

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

MSI Vakansieverkope: Maak die Perfekte Geskenk Oop Hierdie Seisoen!

MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…

1 week Gelede

Maak vanjaar jou beste jaar

Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…

2 weeks Gelede

Skoonheidsprodukte: foute wat almal maak

Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…

2 weeks Gelede

Maklike gemmerbier – sonder gis

Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.

2 weeks Gelede

Ken jou vonkelwyn

Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…

2 weeks Gelede

5 maniere om jou dag reg te begin

Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…

2 weeks Gelede