Altyd moeg? Dís dalk hoekom. Deur Leandri de Kock.
Wat is bloedarmoede?
Bloedarmoede is ’n toestand waarin die aantal rooibloedselle of die hemoglobienkonsentrasie laer as die norm is. Dit is ’n ernstige wêreldwye gesondheidsprobleem met een uit drie premenopousale vroue wat anemies is. Dit is selfs meer algemeen by swanger vroue en by kinders onder die ouderdom van vyf jaar.
Is daar verskillende tipes bloedarmoede en wat veroorsaak dit?
Dit kan vir jou dokter diagnosties nuttig wees om bloedarmoede ten opsigte van die oorheersende grootte van rooibloedselle; klein (mikrosities), normaal (normosities) of groot (makrosities) te klassifiseer. Bloedarmoede is nie ’n diagnose is nie, maar eerder ’n teken van ’n onderliggende siekte wat geïdentifiseer en hanteer moet word. Daar is talle oorsake wat kan wissel van relatief onskuldige toestande tot baie ernstige of lewensgevaarlike afwykings. Die algemeenste rede vir bloedarmoede is ’n ystertekort. Ander belangrike oorsake sluit in ’n vitamien B12-tekort, chroniese infeksies soos MIV, tuberkulose en parasitiese infeksies, outo-immuunsiektes en beenmurgsiektes soos leukemie of veelvuldige myeloom.
Die American Society of Hematology (www.hematology.org) klassifiseer verder die verskillende tipes van bloedarmoede só:
Ystertekort as gevolg van bloedverlies of swak opname van yster.
Pernisieuse anemie as gevolg van ’n vitamien B12- en/of foliensuurtekort.
Aplastiese anemie wat veroorsaak word deur die beenmurg wat nie genoeg bloedselle (wit, rooi en plaatjies) vervaardig nie.
Hemolitiese anemie vind plaas wanneer rooibloedselle in die bloedstroom of in die milt opgebreek word. Dit kan ook weens lekkende hartkleppe of aneurismes, infeksies, outo-immuunafwykings of aangebore abnormaliteite in die rooibloedsel wees.
Sekelselanemie is ‘n oorerflike hemolitiese anemie waarin die hemoglobienproteïen abnormaal is, wat veroorsaak dat die rooibloedselle “styf’” is en die sirkulasie verstop omdat hulle nie deur klein bloedvate kan vloei nie.
Hoe verskil die simptome?
Die simptome van bloedarmoede word grootliks bepaal deur die tempo waarteen dit ontwikkel. Bloedarmoede wat baie stadig ontwikkel sal simptome by ’n laer hemoglobienvlak tot gevolg hê, in vergelyking met bloedarmoede wat vinniger ontwikkel. Die liggaam het dus meer tyd om aan te pas en kompromieë aan te gaan (wanneer dit stadiger ontwikkel). Bejaardes of diegene met onderliggende hart- of longsiektes is minder in staat om aan te pas en kan ernstiger simptome as ’n jonger of gesonder mens ervaar. Daar kan bykomende simptome as gevolg van die bloedarmoede wees, soos hare wat verdun, konsentrasieprobleme of buierigheid in die geval van ystertekort.
Kan dit voorkom word?
Die risiko van bloedarmoede kan verminder word deur te verseker dat jou dieet genoeg yster en vitamien B12 bevat. Vegetariërs en veganiste loop ’n groter risiko vir ‘n tekort aan yster en vitamien B12 en moet seker maak dat hulle dieet genoeg plantgegronde yster bevat (soos lensies, kekerertjies, kasjoeneute, en verskeie sade) asook ’n B12-aanvulling neem. Vroue met oormatige menstruele bloedverlies loop ook ’n hoë risiko vir ystertekort en kan ’n ysteraanvulling oorweeg. Swanger vroue word aangeraai om ’n yster- en folaataanvulling te gebruik.
Lees nog: Hoekom antioksidante goed vir jou is, en in watter kosse jy hulle kan vind
Hoekom is dit meer algemeen by vroue en kinders?
Vroue het ’n hoër ysterbehoefte as gevolg van maandelikse ysterverlies tydens menstruasie en dan ook swangerskap en borsvoeding. Dit oorskry dikwels die liggaam se vermoë om dieetyster te absorbeer wat dan tot ’n tekort lei. Ma’s met ’n ystertekort tydens swangerskap dra dikwels die tekort na die baba oor, wie se enigste bron van yster dan borsmelk is. ’n Hoë inname van koeimelk verhoog die risiko van bloedarmoede by kinders en hulle is dan geneig tot wanvoeding en parasitiese infeksies. Malaria is ook ’n algemene rede vir bloedarmoede by kinders in Afrika.
Hoe kan dit behandel word?
Bloedarmoede word behandel deur die onderliggende oorsaak te identifiseer en te hanteer. In ernstige gevalle kan ‘n bloedoortapping nodig wees om simptome te verlig, maar dis ‘n tydelike oplossing, want die “oorgetapte” bloedselle kan net vir ‘n kort tydjie sirkuleer. Binneaarse ysterterapie is ‘n effektiewe en veilige behandeling vir ystertekort en geskik vir pasiënte met ernstige ystertekort en vir diegene wat nie binne ‘n paar maande op mondelinge ysteraanvullings reageer nie.
Bronne van yster:
Rooivleis en organe soos lewer
Hoender
Skulpvis
Eiers
Donkergroen groente soos spinasie en broccoli
Bone en lensies
Sade en neute soos pampoensade, pistasieneute, amandels en kasjoeneute
Tofu
Vrugte soos dadels, vye, pruime en rosyntjies
Bronne van vitamien B12:
Suiwelprodukte soos melk en jogurt
Versterkte ontbyt- en graankos
Eiers
Vis soos salm en tuna
Lewer en niertjies
Dr Perry Loebenberg het sy mediese graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en verder in interne geneeskunde aan die Universiteit van die Vrystaat gespesialiseer. Hy het sy opleiding in kliniese hematologie aan die Universiteit van Kaapstad in Mei 2021 voltooi en praktiseer tans hematologie by Constantiaberg Mediclinic. Dr Perry is ook ’n eredosent in die kliniese-hematologie-afdeling aan die Universiteit van Kaapstad.
Kenner – Dr Perry Loebenberg van Constantiaberg Haematology
Kontak via www.cbhaem.co.za of 021 761 6600
Kry ook hulp by:
Besoek www.sash.org.za (South African Society of Haematology)
Besoek www.haemteam.co.za (Clinical Haematology Medical Practice)
Besoek www.who.int/health-topics/anaemia (Wêreldgesondheidsorganisasie)
Hooffoto: Karolina Grabowska vir Pexels
Lees nog: Wat jy moet weet oor ystertekort