Toe ons die tweede keer op uitnodiging van die monnik Eujeoksa toe gaan, was dit ’n sprokieswêreld in wit sneeu waarin ons onsself bevind het. Onthou, die eerste keer wat ons by die klein tempel hoog in die berg was, was dit reeds donker en kon ons nie veel te siene kry nie. Die twee groot wit honde wat die alleen-monnik se enigste geselskap is, het ons aankoms luidkeels aangekondig en die monnik het uitgestap uit sy tempelhuisie en ons met ’n groot glimlag ingewag.
Via Mrs. Jeong het hy dadelik verskoning gemaak dat hy nie sy tradisionele monnikuitrusting dra nie maar vandag word daar gewerk aan die onderhoud van die tempel. Omdat die teedrink-vertrek in die hoofgebou nie verhit was nie het hy ons ingenooi in die heerlike knus vertrekkie in sy privaatkwartiere. Iets wat net familie en naby-vriende glo beskore is. Ons het dankbaar op die warm vloer om sy houtstomptafeltjie gaan sit om koppie na koppie tee met hom te deel.
Mrs. Jeong en haar man moes om die beurt my arsenaal van vrae en die monnik se non-spesifieke antwoorde vertaal omdat hy glad nie Engels praat nie. Omdat ek gefassineer is deur mense se vermoë om in die wêreld maar nie van die wêreld te wees nie, wou ek by hom weet hoe vereenselwig hy sy liefde vir mense met sy liefde vir sy alleenbestaan hier in die geïsoleerde sprokiestempel hoog in die berg. Sy antwoord was nie ’n antwoord soos ons dit ken nie maar eerder ’n opmerking wat my moes aanspoor om my eie antwoorde te formuleer. Tien jaar gelede was die hitte in die vloer onder ons ’n boom en daarom moet hy goeie dinge doen om te vergoed vir die boom wat vandag vir ons hitte gee, het hy gesê. Ook, die monnike van die groter tempels in die omgewing soos Daehungsa gee vir hom rys en hy moet goeie dinge doen om daarvoor te vergoed. Vir my maak dit sin dat mens ’n lewe van dankbaarheid moet leef en dat jy deur jou dade en woorde goed moet doen om jou dankbaarheid te wys en tasbaar te maak. Om bloot te betaal vir die gas of elektrisiteit is nie genoeg om te vergoed vir dit wat ons onsself toeëien uit die oorvloedige maar brose skatkis van Moeder Aarde nie.
Maar ek wou steeds weet of hy nie voel dat hy ook soos Moeder Teresa prakties en fisies goeie dinge vir ander moet doen nie. Hy het verduidelik dat hy wel in sy daaglikse lewe hier in die tempel dikwels deur mense besoek word wat hulp of advies of bystand kom vra. Hy het egter gekies om wysheid na te volg, vandaar sy lewe van isolasie en inkeer na binne hier in die berg.
Toe vertel hy vir ons die storie van die beroemde monnik wat so deur mense oorval was wat hom wou sien dat hy kans vir niks anders gekry het nie. Hy het toe vir mense gesê dat as hulle hom wil sien hulle in plaas van die driemaal buig voor die Boeddha as eerbetoon, 3 000 keer moes buig. Indien hulle dan steeds behoefte het om hom te sien, sou hy hulle sien. Vir my was dit ’n herinnering daaraan dat ons almal gemaak is met alles wat ons nodig het, ook al die wysheid, om hierdie lewe van ons te leef. Maar dan glo ek ook dat ons nie almal alleen iewers in ’n tempel hoog teen ’n berg hoef te gaan woon om hierdie wysheid waarmee ons binne onsself rondloop te ontgin nie. Party van ons leef binne ons gesinne of ons enkelbestaan in hierdie wêreld en ontdek daardie oeroue wysheid binne ons.
Wat ek ook geleer het, is dat ons elkeen op reis is en dat ons kan besluit hoe belangrik dit vir ons is om die wysheid binne ons te ontgin of nie. Niemand ken jou pad nie en daarom moet ons ook nie mekaar se paadjies kritiseer of beny nie.
Die monnik se blyplek by die tempelkompleks