kategorieë: Leef gesondGesondheid

Alternatiewe terapieë

Jy kan vas of dagga gebruik of gaan vir limfdreinering, reiki of koppieterapie. Of detoks of jou kolon laat spoel. En so aan. En so aan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die vraag is: werk hulle?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Vir elke pasiënt wat hoog en laag sweer dit werk, is daar een wat skouers optrek en sê nee wat, ek het my geld en tyd gemors. Ons het ’n paar van die gewildste en jongste giere ondersoek om te kyk of ons sin daarvan kan maak.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Koppieterapie (cupping)

Met “cupping” word silikonkoppies van verskillende groottes op jou lyf geplaas, die lug word uitgedruk sodat daar ’n vakuum ontstaan wat die weefsel onder die koppie stimuleer, vertel die Amerikaner, Anita Shannon, ’n internasionale kenner van koppieterapie. Sy het onlangs werkkursusse in die Kaap aangebied. Volgens haar en Mira, wat haar koppies verskaf, kan koppieterapie help vir van selluliet tot hoofpyn, migraine, fibriomialgie, onvrugbaarheid, rumatiek, spierpyn tot edeem (waterterughouding).

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Werk dit?

Dit kom neer op limfdreinering en/of massering. Altwee word wyd deur fisioterapeute gebruik om onder meer edeem en spierpyn te verlig.

Volgens die Cochrane Reviews het ondersoeke getoon dat limfdreinering deur massering nie juis suksesvol was vir vroue ná borskanker nie. Daarteenoor verlig die spesiale verbandtegniek en kompressie-armkouse wat dikwels ook gebruik word, swelling met 30-40%.

Soos massering, behoort koppieterapie sinus- en spierpyn matig te verlig maar die kans dat dit vir ernstige toestande soos rumatiek, sinusinfeksie en onvrugbaarheid sal werk, is klein. As jy van massering hou, kan koppieterapie net lekker wees.

Die “detoks”

Detoksifisering is ’n ontgiftingsproses wat al dekades lank as gesondheidsjiek beskou word. As jy aan die alternatiewe kant was, het jy ’n gereelde “detoks” aanbeveel en gedoen. Die jongste siening hieroor het ons verras …

Dis ’n baie ou terapie en ’n staatmaker-komponent van Ajurvediese en tradisionele Chinese geneeskunde. Die proses het ’n magdom moderne voorstanders, soos die Britse voedingkenner Patrick Holford.

Die konsep agter die proses is dat gifstowwe uit die omgewing en uit ons kos in ons liggame opbou en siekte en veroudering veroorsaak. In ’n ontgiftingsbehandeling raak jou liggaam van hierdie gifstowwe ontslae en voorkom en/of genees van kanker tot allergie, asma, fibromialgie, chroniese moegheid, depressie, diabetes, hoofpyne, hardlywigheid, swak spysvertering, breindofheid, inflammatoriese siektes soos artritis en chroniese infeksies.

Die behandeling vereis dat jy vir ’n paar dae – meestal ’n week of twee – kos vermy wat besoedel kan wees en/of “swaar” is en moeilik verteer, soos suiker, gebak, koffie, vleis, vette, koeldranke, alkohol, suiwel en koringprodukte soos brood en beskuit, en vanselfsprekend eet en drink jy geen kitskos soos burgers, skyfies, pizza, gaskoeldranke of skommels nie.

In die ou Ajurvediese behandeling het jy net water gedrink terwyl die moderne detoks eerder ’n kwaai dieet met bitter min van alles is – min kilojoules, min vet, min vleis en min stysel. Jy eet ligte kos, soos gestoomde vis en groente sonder stysel (dink slaai en komkommer).

Maar toe sê die wetenskaplik gegronde kenners, soos dieetkundiges, dat jou lewer jou liggaam help om élke dag van al daardie gifstowwe ontslae te raak. Dus sien die ingeligtes detoks deesdae as ’n randterapie in dieselfde kategorie as fratsdiëte – ’n hoogs verdagte, onbewese en onlogiese terapie wat jy net doen as jy naïef is en/of nie van beter weet nie.

Daardie berugte detoks-hoofpyn wat veronderstel is om ’n teken te wees dat die gifstowwe uitgeskei word, is niks anders as ’n teken van lae bloedsuiker nie.

Eintlik befoeter jy net jou bloedsuiker en metabolisme, veral as jy weke aanmekaar detoks. Ten beste sny jy vir ’n paar dae gemorskos uit.

Maar toe ontplof navorsing oor hoë ouderdom.

Van muise tot wurms leef langer as hulle minder eet. En nou lyk dit sowaar asof daar iets in steek, veral ’n gereelde vas van 24-48 uur een tot twee keer per week wat jou, soos vir die antieke vas-praktyk, net water met of sonder suurle-moensap toelaat.

Een van die belangrikste navorsers op die gebied van veroudering, dr. Valter Longo van die Davis School of Gerontology aan die Universiteit van Suid-Kalifornië, verduidelik dat jy binne 12-24 uur nádat jy begin vas het, al jou glukosereserwes gebruik het.

Dit dwing jou liggaam om die ketogeniese metaboliese roete te gebruik – daardie een van die Banting-dieet. Dit verlaag onder meer jou IGF-1-vlak, met allerlei voordele.

Van die vernaamstes is dat dit jou leptien-vlakke verlaag, wat inflammasie en oksidatiewe skade aan jou DNA en ander liggaamsweefsel verminder; al die trigliseriede (vette) in jou bloed word ’n slag opgebruik, wat jou kans op hartsiektes en beroerte verminder; jou immuunstelsel word regenereer en verfris en werk beter daarna, wat die kans op kankers verminder en selfs jou breinfunksie word opgeskerp.

Baie van die navorsing is nog net op muise gedoen.

Werk dit vir óns?

Blykbaar. Die bietjie navorsing wat op mense – meestal net op menslike selle – gedoen is, bevestig die muisnavorsing. Ons lewensduur strek, helaas, oor sestig tot honderd jaar en maak navorsing hieroor prakties onmoontlik.

Dit lyk asof ’n onderbroke vas (intermittent fasting) – jy vas elke tweede dag, of jy vas twee afsonderlike dae per week, waarin jy net water, of water met ’n bietjie suurlemoensap drink – die beste resultate lewer.

Maar navorsing toon dat mense wat vas om gewig te verloor en/of hongerly, hulself net benadeel. Jy moet steeds seker maak dat wanneer jy eet jy al jou voedingstowwe inkry en genoeg eet.

Vas is ook nie vir mense wat nog groei nie (jy is eers teen sowat 28 werklik klaar gegroei), of vir bejaardes, swanger vroue en diabete nie.

Lees ’n lekker oorsig hier.

Werk dit?

Dit lyk of ’n vas iets vir jou kan doen. ’n Detoks blykbaar nie.

IV-terapie

Verskillende middels word toegedien waarvan die gewildstes waterstofperoksied, vitamien C (vloeibaar maar eintlik dieselfde as ’n vitamien C-aanvuller in pilvorm), cheleerders, stamselle, plaatjieryke plasma (PRP) en glukose (suiker) is, sê dr. Priscilla Rowan, ’n mediese dokter van Edenvale, Johannesburg, en lid van SASIM (SA Society for Integrative Medicine), wat op alternatiewe terapie fokus. Hier is iets oor elkeen:

Waterstofperoksied word natuurlik deur jou liggaam gevorm om infeksies teë te werk. Jy help dus deur ekstra peroksied te voorsien. Tweedens kan baie soorte kieme en kankerselle nie in suurstofryke omgewings oorleef nie. Waterstofperoksied stoot die suurstofvlakke in jou weefsel op.

Werk dit?

Die American Cancer Society sê daar is geen bewyse dat waterstofperoksied werk nie. Die probleem is dat waterstofperoksied gesonde selle én kieme doodmaak. Jou liggaam vorm wel waterstofperoksied maar doen dit deur die sel eers te isoleer en dan ’n baie klein bietjie peroksied te vorm. Dit kom dus nie met die res van jou selle in kontak nie. IV-peroksied bring veel groter dosisse direk na jou weefsel, sonder enige afskerming, waar dit beslis skade doen.

Vitamien C
Dosisse van 5 g en meer gee die meeste mense diarree. Maar as jy dit binneaars inneem, kan jy baie groter dosisse verdra, sê dr. Rowan.

Patrick Holford, Matthias Rath en Linus Pauling is groot voorstanders van megadossisse om vigs en kanker te genees.

Dit is wel bevind dat dit kankergroei in diere onderdruk maar die Mayo Clinic het in drie afsonderlike ondersoeke geen teken gevind dat mense by groot dosisse baat vind nie. Dit is ook bekend dat diere baie meer vitamien C as mense benodig.

Daar is ook ’n goeie kans dat dit jou kan skade doen, veral as jy een van die 400 miljoen mense wêreldwyd is wat sonder die ensiem G6PD gebore is. Dit is een van die algemeenste genetiese afwykings ter wêreld.

Dit is meestal ’n voordeel omdat dit met weerstandigheid teen malaria verband hou, maar daarsonder kan groot dosisse vitamien C jou rooibloedselle laat opbreek en ’n spesifieke soort hemolitiese anemie veroorsaak.

Werk dit?

Konvensionele medici dink nie so nie. Bly maar liewer by matige hoeveelhede vitamien C, met lemoene in die winter en aarbeie in die somer, of gewone aanvulling.

Chelasie
Chelasieterapie is ’n gevestigde mediese terapie om mense met swaarmetaalvergiftiging soos lood of kwik te behandel.

Alternatiewe terapeute gebruik dit ook hiervoor. Maar dokters en alternatiewe terapeute verskil drasties oor wat metaalvergiftiging behels.

Volgens die alternatiewe terapeute ly mense met gewone amalgaam-tandstopsels (die silwerkleurige stopsels) dikwels aan kwikvergiftiging, terwyl al die vooraanstaande tandheelkundige verenigings wêreldwyd sê navorsing wys dat kwik in dié stopsels stabiel is en nie “uitlek” nie.

Dokters laat gewoonlik eers bloedtoetse doen om metaal-vergiftiging te bevestig, en gewoonlik eers as daar goeie rede daarvoor is, soos dat jy by jou werk aan swaar metale soos lood blootgestel is.
Daar is in elk geval maar min kwik in een of twee stopsels – te min om kwikvergiftiging te veroorsaak, al sou dit lek.

Alternatiewe terapeute beveel ook chelasieterapie aan vir outisme, hartskade en om die uitwerking van tiomersalaat (die preserveermiddel waarmee vaksiene tevore gepreserveer is maar dekades lank al nie meer gebruik word nie) teë te werk.

Maar daar is min bewyse dat dit vir enige hiervan werk. Die NIH het chelasieterapie vir hartskade ondersoek en bevind dat dit net effens beter vaar as plasebo-tegnieke (fopbehandeling).
Die groot kommer is dat chelasieterapie die dood kan veroorsaak – ’n hele paar gevalle is aangeteken – omdat te vinnige toediening jou lewer en niere kan beskadig en jou bloeddruk drasties kan laat val. Daarom neem dokters mense in die hospitaal op voor hulle chelasieterapie uitvoer sodat jy heeltyd gemonitor word. As die terapie te lig is, doen dit in elk geval nie veel om metale te verwyder nie.

Werk dit?

Maak maar eers seker of jy werklik swaarmetaalvergiftiging het voor jy jouself sommer laat behandel. En kies maar eerder die mediese roete as dit nodig is. Vir jou hart of om ander redes lyk dit nie voordelig nie.

PRP (platelet-rich plasma)
Plaatjieryke plasma word veral vir osteoartritis (verwering van jou gewrigte namate jy ouer word) en sportbeserings gebruik, deur dokters sowel as alternatiewe terapeute.

Daar word sowat ’n kwart koppie van jou eie bloed getrek en dan gespin om die serum te kry, verduidelik dr. Rowan. Serum bevat 3-9 keer meer groeifaktore as bloed. Dit word in die beseerde gedeelte ingespuit waar die groeifaktore die weefsel help herstel.

Werk dit?

Die Cochrane Reviews wat navorsing oor onderwerpe saamvoeg om perspektief te kry, sê die resultate is wissel-vallig – van sukses vir 70-80 persent mense tot geen sukses nie. Vermoedelik het die tegnieke wat gebruik word ’n groot invloed: bloed kan een of twee keer gespin word, of in vinniger of stadiger sentrifuges gespin word, of met lasers behandel word of nie.

Hoe ook al, daar ís ondersoeke wat wys dit werk. Jy kan óf jou geld mors óf regtig daarby baat vind. Kyk of jy ’n persoonlike verwysing na ’n praktisyn kan kry van mense wat sê wie se PRP-inspuiting het hulle gehelp.

Glukose
Dié terapie is glo baie gewild onder die Chinese vir ’n vinnige opkikkering wanneer jy baie moeg en uitgeput is. Jy ontvang bloot ’n dosis glukose. Dit staan ook bekend as “ringer”-terapie – moontlik vernoem na Ringer’s Solution, bestaande uit water en minerale soos natrium, kalium en kalsium wat dikwels ná ernstige bloedverlies vir mense gegee word.

Werk dit?

Wel, sekerlik. Glukose is energiebrandstof vir jou liggaam.

Maar jy kon maar net sowel ’n koppie suikerwater, gaskoeldrank of gewone vrugtesap gedrink het. Hulle sal jou bloedsuiker binne twintig minute opstoot – baie gouer as wat dit neem om tot by die terapeut te kom.

Jy spaar ook nie kilojoules nie, want glukose deur ’n drup en glukose deur soet kossoorte bevat ewe veel.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Skop Swart Vrydag sterk af met MSI se beste aanbiedinge: Skootrekenaars vir speel en werk teen ongelooflike pryse!

Of jy op soek is na ’n kragtige skootrekenaar om meer as een taak mee…

9 hours Gelede

7 dinge wat jy moet weet om die regte matras te koop

Om ’n matras aan te skaf is een van die duurste beleggings wat jy sal…

11 hours Gelede

Blitsige roomys

Bestanddele   500 ml (2 k) gevriesde bessies 500 ml (2 k) volroom- Griekse jogurt…

12 hours Gelede

Ontmoet Herman Bosman – ‘Wie word ’n miljoenêr’ se heel eerste miljoenêr!

Iemand het uiteindelik kykNET se miljoenrandvraag op die gewilde vasvraprogram Wie word ’n miljoenêr? beantwoord.  …

13 hours Gelede

4 dapper stappe wat jy nou kan neem om gelukkiger te wees

Maak werk van dié kwessies en kry weer woema terug! #rrTussenOns

1 day Gelede

Mia le Roux onthul hoe vertigo haar deelname aan Mej. Heelal gefnuik het

Die huidige Mej. Suid-Afrika, Mia le Roux, het vandag in ’n video op sosiale media…

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.