Onthou jy nog die ongelooflike toneelspel van Meryl Streep in die 2008-film Mamma Mia? En die musiek! Dié eerste aflewering het gehandel oor ’n bruid wat ’n plan beraam om uit te vind wie haar pa is … deur al drie die kandidate na haar troue in Griekeland te nooi.
Resensente het gemengde gevoelens oor die fliek gehad, soos die geval met die meeste flieks, maar ten spyte daarvan het Mamma Mia baie geld gemaak – niks minder nie as ’n beraamde $600 miljoen wêreldwyd.
En nou is dit tyd vir die opvolg. Die beste van als is dat die rolverdeling al die oorspronklike akteurs sal bevat. Meryl Streep, Amanda Seyfried, Pierce Brosnan en Colin Firth is weer terug om hul oorspronklike rolle te vertolk.
Benny Andersson en Björn Ulvaeus van die oorspronklike ABBA-musiekgroep sal as uitvoerende vervaardigers van die fliek optree en die liedjies van ABBA sal weer ’n prominente rol speel, het BBC News berig.
Hou die Mamma Mia Facebookblad dop vir inligting oor die fliek.