Ons het vir Errieda du Toit bietjie uitgevra oor die werkinge agter die skerms van MasterChef SA.
Deelnemers mag nie sjefs wees of ’n kulinêre skool bygewoon het nie, en beoordelaars het gekyk na hul benadering tot Suid-Afrikaanse erfeniskos en plaaslike produkte. Hulle is gekeur op grond van ’n passie vir kos, ’n duidelike kosdroom, talent en baie persoonlikheid.
Errieda du Toit is die reeks se inhoudsvervaardiger. Errieda is ’n bekende koskommentator, kookboekskrywer (sy het tien van haar eie kookboeke op haar boekrak). Sy is ook die mentor wat na die emosionele welstand van die deelnemers omsien en hul MasterChef-ma word.
Ons het vir Errieda du Toit bietjie uitgevra oor die werkinge agter die skerms van MasterChef SA.
MasterChef het sekerlik ’n baie streng lys regulasies waarvolgens alle lande moet werk. Hoe kon jy dit aanpas om dit spesifiek Suid-Afrikaans te maak?
As ’n internasionale reeks met ’n gedetailleerde reeks-Bybel wat getrou gevolg moet word, werk MasterChef SA op dieselfde manier as in enige ander land. Die enigste formaatverskil hierdie seisoen is dat daar geen MasterChefBootcamp was nie, as gevolg van Covid-beperkings.
Ons kon die reeks aanpas deur die unieke Suid-Afrikaanse karakter waaraan daar deurgaans voldoen is. Erfeniskos, inheemse bestanddele en Suid-Afrikaanse tradisies is nie net tot een episode beperk nie, maar die vertrekpunt vir elke episode. Ons het werklik baie vryheid gehad en aanmoediging gekry om ’n eg-Suid-Afrikaanse kosstorie van 20 Suid-Afrikaanse kokke te vertel, elkeen verskillend en verteenwoordigend van ’n wonderlike vermenging koskulture
Die stel en ateljee is asemrowend, vertel ons meer daarvan?
Al 20 episodes is by Makers Landing by die V&A Waterfront in Kaapstad, een van die wêreld se toptoeristebestemmings, geskiet. Ons het die voordeel gehad om met drievoudige volumeruimtes te werk, en het ‘n wonderlike ontwerp, met kokerbome wat wagstaan, die indrukwekkende kombuis volledig toegerus deur @HOME en die ongelooflike Pick ‘n Pay-spens met sy verstommende verskeidenheid produkte, tot ons beskikking gehad.
Watter produkte moes vir jou in die rakke wees wat dalk nie in ander MasterChef-spense gevind sal word nie?
Ons was baie beslis dat produkte plaaslik en verteenwoordigend van die koskulture van die deelnemers moet wees. Halaal-opsies moes ook ten alle tye in die spens wees. Ons het die deelnemers gevra wat hulle in hul kultuur gebruik, soos spesifieke afvalsnitte, verskillende vorms van lensies (dhal), piesangblare, amadumbi, sorghum en bambara-neute, maroelasade, tamaryn en fenugreek sade. Dan ook fynbos – ons het die wêreld se rykste flora hier aan die Kaap, so fynbos in al sy vorme; rooibos in verskillende vorms (nie net die tee nie, maar ook sade en in sy groen vorm).
Vir byvoorbeeld die lamsepisode waar ons die Karoo-tjop die held maak, is baie moeite gedoen om die spesifieke Karoobossies te kry wat as kruie gebruik kon word. Om ’n idee te gee, geen ander spens het kapokbos en boegoekaroo nie!
Watter drama van MasterChef SA sal jy vir ’n lang tyd onthou?
Ek onthou elke uitstem as ’n drama, want ek moes die uitgestemde deelnemer troos! Ek dink dit was egter vir almal ’n baie groot skok toe drie mense in die eerste episode uitgestem is.
Die “mystery boxes” sorg altyd vir drama, soos die kameelmelk in die heuningepisode.
Dit het ook vir verdere drama gesorg toe die deelnemers op die gantry die mense wat moes kook met goeie bedoelings verkeerd ingelig het dat hulle die hibachi-roosters moes gebruik. Daar was toe kokke wat die arme delikate forel aan flarde verbrand het.
Die oomblik wat Jan-Hendrik die mielieblare van sy haute-tert aan die brand gesteek het – en selfs die beoordelaars verstom was – was een van my gunsteling- dramatiese oomblikke.
In watter uitdaging het die deelnemers jou die meeste verbaas?
Ek was verbaas dat nie een span ’n ordentlike pot sop in die agste episode kon kook nie.
Is daar ’n bestanddeel of dis wat vir jou uitstaan van hierdie reeks en wat ware erfeniskos is?
Elke episode het sy eie erfenisjuwele ingehou en die spens was gelaai met Suid-Afrikaanse bestanddele.
Emosie en herinneringe is ook bestanddele: Die episode wat gewy is aan die nalatenskap van Dorah Sitole, wat weens Covid gesterf het, het aan almal se erfenis-snare geraak, want hulle kon uit hul hart huiskos maak. Dit het hulle almal aan hulle persoonlike erfenis laat dink het, aan hul eie oumas en ma’s en kon dit in hul disse inwerk. Dit het nie oor stilering en mooi kos of finesse gegaan nie, maar suiwer nostalgie.
Wat bring die beoordelaars na die program?
Justine Drake, Zola Nene en Gregory Czarnecki is hierdie seisoen se beoordelaars. Suid-Afrika is een van omtrent net vier lande is waar daar twee vroue op die paneel is. Dit beteken baie vir ons kosbedryf waar vroue nog maar moet terugstaan vir die mans.
Justine se hart is baie klein, Zola is streng en Greg dwing baie gesag af. Greg het ook die internasionale koswêreld verteenwoordig, want hy het al in sy geboorteland, Frankryk, in Michelin-ster restaurante gewerk, was SA se topbekroonde sjef, en het al regoor die wêreld gewerk.
Wat soek jy persoonlik in die wenner van MasterChef SA en wat is jou droom vir daardie wenner?
Dat die persoon passievol is oor Suid-Afrikaanse kos en ’n groot bydrae moet lewer om ons land se kos te bevorder. Dat hy of sy die op hul louere rus nie, en die eer en voorregte wat saam met die titel kom, vir ’n groter saak as net hul eie belang gebruik.
Lees ook: Sjef Mynhardt se eie kookboek
Hoe het jy verseker dis eg Suid-Afrikaans?
Hierdie seisoen van MasterChef SA vier werklik ons wonderlike kulinêre kulture – van die bestanddele wat gebruik word om erfeniskos in die kollig te plaas, tot die deelnemers se vertolking daarvan.
Ons het dit reggekry om iets te vervaardig wat nie ’n kloon of tweederangse namaaksel is van ’n ander oorsese reeks nie. Dit was nodig om uit mens se eie kokon te kom – my persoonlike koserfenis is nie dieselfde as my medeburger s’n nie – daar is nie net een definieerbare koskultuur in ons land nie: boerekos vat hande met Kaaps-Maleise kos, Kwa-Zulu se kerries word op Vrystaat mieliepap geskep, ons eet Indies en Engels, vetkoek en igwinya; ons ontdek en vier die raakpunte tussen ons kulture en respekteer die verskille. Die dae is verby wat bobotie as die nasionale gereg uitgesonder word – ons het ’n veel groter gedekte erfenistafel, met ’n kleurvolle, geurige magdom kontreigeregte, tradisiegeregte en herinneringskos.
Wat mag jy oor die laaste week verklap waarna lesers en kykers kan uitsien?
Die finale week begin met ’n skok wat die deelnemers nie verwag het nie. Ons kyk in die laaste episodes na neigings en tradisie, na familie-reünies en feestelike Sondagkos, en ook wat op die voorpunt van gastronomie is. Die moeilikheidsgraad van die uitdagings is die hoogste nog, die uitdagings vol interessanthede om die kreatiewe sappe te laat vloei. Die kykers gaan aan nog ’n paar Suid-Afrikaanse koshelde bekendgestel word, ervaar dat vegankos verleidelik kan wees en sien watter kulinêre wonderlikhede in ’n druiwekorrel skuil.
In Episode 20 is dit die finale transformasie van die groentjies wat as entoesiastiese stokperdjiekokke die kombuis betree het en anderkant uitkom met hul sjefsbaadjies aan. Al val hul gunsteling dalk uit, is daar die lekkerte om te sien dat die vreugde van kos uiteindelik seëvier.
• Wees deel van die gesprek met #MasterChefSA en volg MasterChef SA op Twitter @MasterChef_SA, Instagram masterchef_sa of MasterChefSA se Facebookblad @MasterChefSA.
Lees ook: Silwerskermfees in volle swang in Kampsbaai