Allergies vir stofmyte? 14 plekke waar hulle in jou huis skuil deur Salomé Delport
Allergieë vir stofmyte
’n Allergie vir huismyt is een van die moeilikste allergieë om onder beheer te kry omdat hulle so alomteenwoordig is. Jy kan die lading van huismyt in jou huis tog baie verminder deur:
- die plekke waar huismyt die algemeenste voorkom gereeld skoon te maak of te was
- die items waarin hul leef gereeld te vervang met nuwes; en
- sekere dekortitems in jou huis te vervang met items wat minder huismyt trek.
Lees ook: Die bed waarin jy slaap: Hoe om jou matras skoon te maak om stofmyte te verminder
Bronne van huismyt in jou omgewing
Dit is waar hulle in jou huis skuil:
- Jou kussing: Ou kussings, kussings met sintetiese vulsels én verekussings is ’n groot bron van huismyte. Vervang hulle minstens elke twee jaar.
- ’n Ou matras: Gebruik ’n matrasskerm en was dit gereeld. ’n Goedkoop opsie is om drie paslakens oor mekaar oor jou matras te trek. Dit help deels dat minder huismyte in jou matras intrek. Was die paslakens weekliks.
- Beddegoed: Jou lakens, kussingslope en duvetoortreksels. Trek jou bed ten minste een keer per week skoon oor – en meer as jy uiters allergies vir huismyt is.
- Jou duvet en komberse: Was hulle ook gereeld en vervang hulle elke twee jaar.
- Jou klere en jou klerekas: Jy verloor elke oomblik van die dag klein bietjies vel, wat binne-in jou klere agterbly en as kos dien vir huismyte. Was dus alles wat jy dra. Moenie klere wat jy gedra het in jou klerekas terughang nie. Was dit eers.
- Was jou seisoensklere: Huismyt bou op in klere wat tot die volgende seisoen gestoor word. Was dit baie goed voor jy dit weer dra.
- Gordyne: Was hulle gereeld. Blindings is beter.
- Volvloermatte: Teëls, gelamineerde hout en houtvloere is baie beter vir mense met huismytallergie. Los matte moet gereeld goed gestofsuig word.
- Jou stofsuier: Maak jou stofsuier se filter en bak na elke gebruik silwerskoon. Anders raak jou stofsuier ’n bron van huismyt.
- Die verestoffer: Dit waai net stof en huismyte in die lug op en versprei hulle verder. Gebruik liewer ’n nat lap om die stof van alle oppervlaktes af te vee.
- Jou boekrak: Ou boeke en tydskrifte is stofvergaarders waarin huismyt floreer. Pak jou boekrak gereeld af en stofsuig al die hoekies.
- Jou kat en jou hond: Bad hulle weekliks en was hul beddegoed gereeld.
- Voëltjies in ’n hok: Maak gereeld die hok skoon.
- Huisornamente: Hoe minder hoe beter! Kussinkies, kleedjies en goedjies bied baie blyplek vir huismyte.
Lees ook: Nare bedmaats! Raad vir stofmyte
Lees ook: Stoor jou klere reg
Twee skoonmaakwenke vir stofmyte
Stofsuig
- Skaf ’n stofsuier met ’n HEPA-filter aan.
- Hoe meer gereeld jy stofsuig hoe beter.
- Stofsuig veral die slaapkamer van die allergiese persoon deeglik en gereeld – selfs daagliks.
- Onthou om die hoekies en vloerlyste met ’n nat lap af te vee.
Waswenk
- Stofmyte oorleef nie temperature bo 50-60°C nie. As jy wasgoed was om van hulle ontslae te raak kies ’n warm siklus wat die wasgoed by 60°C en warmer was.
Lees ook: Raak so ontslae van miere