1 Voorverhit die oond tot 160 °C en spuit 3 groot bakplate met kleefwerende kossproei. 2 Klop die botter en suiker saam tot lig en romerig. Voeg die kondensmelk by en klop tot glad. 3 Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam en gooi by die bottermengsel. 4 Meng goed tot ’n deeg vorm. 5 Verdeel in 3 dele en draai in kleefplastiek toe. Laat rus vir 20 min. of tot ferm in die yskas. 6 Werk met 500 g deeg op ’n slag en vries die res. Laat oornag in die yskas ontdooi wanneer benodig. 7 Rol die deeg 5 mm dik uit op ’n skoon, meelbestrooide werkvlak. 8 Druk ’n vorm van jou keuse uit en sit op die bakplate. 9 Bak vir 10-15 min. of tot ligbruin.
Allerfraaiste teetydkoekies
Met 500 g van die basiese koekiedeeg het ons 20 teetydkoekies gemaak
1 Voorverhit die oond tot 160 °C en spuit ’n groot bakplaat met kleefwerende kossproei. 2 Rol 500 g van die basiese koekiedeeg 5 mm dik uit op ’n skoon, meelbestrooide werkvlak. 3 Druk koekies met ’n deursnee van 7 cm uit die deeg en pak op die bakplaat. 4 Bak vir 10-15 min. tot goudbruin.
Versier die koekies só
5 Verdeel 500 g plastiekversiersel in 3 dele en kleur elk met ’n ander jel-voedselkleursel. 6 Strooi mielieblom op ’n skoon werkvlak en rol die versiersel dun daarop uit. 7 Druk sirkels net kleiner as die koekies uit en ook klein sirkeltjies vir die middel van die koekies. 8 Smeer van die basiese Royal-versiersel op elke koekie en plak die sirkels vas. 9 Tooi die koekies met fyn suikerblommetjies.
Basiese Royal-versiersel
Meng 1 eierwit en 250 ml (1 k) gesifte versiersuiker tot glad.