Dis nie ’n mens se grootte wat saak maak nie – dis die grootte van sy persoonlikheid. Jy sou die 1,7 meter lange Al Pacino maklik in ’n vertrek vol mense kon miskyk, was dit nie vir sy persoonlikheid en daardie rasperstem wat alle aandag op hom vestig nie. Dié stem klink nou behoorlik asof hy ’n miljoen sigarette op ’n lekker partytjie gerook het. Jy sou nooit kon raai dat hy in April 75 jaar oud geword het nie. Sy oë blink ondeund en die energie van iemand wat al alles in die lewe gedoen en gesien het, straal uit hom. Sy fliekloopbaan sluit van die grootste flieks in wat tot nog toe gemaak is: Scarface, The Godfather, Scent of a Woman, Dog Day Afternoon
Danny klink na ’n interessante karakter?
Toe hy jonger was, het almal gedink hy gaan die volgende Bob Dylan wees maar kort voor lank is hy as ’n flash in the pan afgemaak. Net toe hy dink sy loopbaan is verby, kry hy ’n brief wat John Lennon veertig jaar tevore aan hom gestuur het maar nooit by hom uitgekom het nie. Die brief stel hom in staat om sy lewe en loopbaan op ’n positiewe manier te verander en ’n nuwe koers in te slaan.
Dit het gelyk of jy die rol geniet het.
Dit was ’n uitdaging, maar die draaiboek was so fantasties dat ek dit graag wou aanpak. Ek het dit geniet om vir ’n slag iets nuuts te doen. Ek het nog altyd vernuwing as ’n doelwit vir my loop-baan gestel.
Is toneelspel ’n integrale deel van jou identiteit?
Dit het beslis iets daarmee te doen. Toneelspel is anders as die speel van ’n musiekinstrument. Jý is die instrument. Alles hang van jou af. Dit word deel van jou identiteit. Jy leer mettertyd om daarvan afstand te doen, veral as jy ’n gesin en ander belang-stellings het. Toneelspeel is my loopbaan maar dit is nie al waarin ek belang stel nie.
In een toneel drink jy omtrent tien whiskeys. Hoeveel kan jy op ’n slag drink?
In die ou dae? Wie kan onthou (lag)? Ek drink nie meer so baie nie. In die ou dae het ek gedrink wat ek in die hande kon kry. Toe ek heelwat jonger was, kon ek nie whiskey bekostig nie maar ek hou net so baie van goeie wyn en martini’s.
Jou karakter het behoorlik vasgebyt om Annette Bening oor te haal om met hom uit te gaan. Hoe het jy in jou jongdae die vroue ge-woo?
Ek het gesê “woo!” (lag). As ek maar net geweet het. Ek het nog nooit daaroor gedink nie. Ek sal huis toe gaan en daaroor dink. As jy jou adres vir my gee, sal ek jou laat weet. Dís hoe ek dit doen! (lag)
In die fliek het jou karakter ’n weelderige leefstyl, private vliegtuie en duur motors. Weerspieël dit jou eie lewe?
Dit kom en gaan. Daar was ’n tydperk in my lewe toe ek so geleef het maar dis verby. ’n Mens moet heeltyd aanpas, veral as jy met die rolprentbesigheid begin, want jy moet leer om enigiets wat gebeur te kan hanteer. Sommige goed is makliker as ander. Mettertyd leer jy wat jy moet aanpak en wat om te vermy. Dit gaan oor oorlewing.
Wat is die beste advies wat jy gekry het?
Lee Strasberg, ’n fantastiese toneelspelafrigter wat ek geken het toe ek jonger was, het gesien my wêreld is baie vinnig aan die verander en ek weet nie hoe om dit te hanteer nie. Hy het met my kom praat. “Liefling,” het hy gesê, “jy moet eenvoudig aanpas.” Dit het ’n rukkie geneem, maar ek het na hom geluister.
Is daar steeds mense by wie jy kan gaan raad vra?
Nee, nie letterlik nie. Ek kom nou vinniger agter wanneer daar dinge is wat my beïnvloed. Ek het jong en ouer kinders en hulle beïnvloed my voortdurend.
In watter soort klere voel jy die gemaklikste?
Ek hou daarvan om gemaklik te wees. Wanneer jy mooi kyk, sal jy sien dat ek eintlik ’n tuxedo aanhet. Dis nie so opvallend nie, want ek dra dit saam met ander bykomstighede. Met al die geleenthede wat ek deur die jare moes bywoon, het ek al ’n verskeidenheid tuxedos bymekaar gemaak. Ek gooi hulle nie weg nie. Ek het elke dag ’n ander een aan (lag). Met verloop van tyd word dit al gemakliker. Ek dra ’n los, gemaklike hemp daarby.
Jy het ’n ongelooflike loopbaan. Wat is jou geheim, want die res van ons het almal maar iewers ’n loopbaanlaagtepunt?
Ek het aanvanklik probeer om rolle te speel waarmee ek my kan vereenselwig maar later begin besef hoe belangrik dit is dat jy dit ook moet waag om nuwe goed te doen. Nou weet ek ook dat jy moet weier om die dinge te doen waarvoor jy nie lus is nie, of waarvoor jy nie tyd het nie. Die afgelope 15 jaar het my kinders my doen en late dikteer. Namate hulle groter geword het, het ek gouer agtergekom in watter rigting dinge begin beweeg en sedertdien doen ek nie meer iets wanneer ek nie lus daarvoor is nie. Dis belangrik dat jy daar- die standpunt moet inneem, hoewel daar soms goed is wat jy eenvoudig ter wille van oorlewing moet doen, of jy nou wil of nie.
Hoe voel dit om oral herken te word?
Dis iets waaraan ’n mens gewoond moet raak. Ek hou daarvan om te hoor wat mense van my werk dink en ek stuur sommer gou die gesprek in daardie rigting. My kinders sukkel meer daarmee, want die aandag maak dit vir hulle moeilik om saam met my uit te gaan. Hulle het al selfs vir my gesê: “Pa, bly liewer by die huis!” Die dinamika verander wanneer ek saam met hulle is. Ek het nog nooit probeer om myself te vermom wanneer ek uitgaan nie, maar ek sal dit oorweeg wanneer hulle saamgaan.
Ek het iewers gehoor dat jy niks van die jare sewentig kan onthou nie?
Ek kan dele daarvan onthou. Dit was ’n wilde tyd (lag); amper soos ’n soort ontploffing. My herinneringe daaraan is baie vaag. En dis al wat ek daaroor sal sê (lag). Maar soos jy kan sien, is ek nou heelwat beter (lag). Ek het dit oorleef. As ek ’n boek oor my lewe wou skryf, sal dit ’n pro-
bleem wees – iemand sal my met daardie tydperk moet help (lag).
Iemand het gesê wanneer jy die jare sestig kan onthou, was jy nie regtig daar nie.
Wel, om een of ander rede kan ek wel daardie tyd onthou (lag). Die ding met die sewentigs is dat dit vir my gevoel het asof ek uit ’n kanon geskiet is. Ek het in ’n baie kort tydperk baie bekend geword, of dis hoe dit vir my gevoel het. Dit was ’n reuse-skok en ek was glad nie daarop voorbereid nie. Ek dink dis wat daardie tydperk vir my so moeilik gemaak het.
Wat is jou grootste vrees?
’n Mens is altyd oor jou kinders bekommerd. Dis my grootste vrees. Maar ek is gelukkig om jonger kinders te hê. Hulle hou my jonk.
Kry jy ooit nagmerries oor jou werk?
Gereeld. Gewoonlik is ek op die verhoog en ek dink ek ken my woorde, en daar het ek dit vergeet. Dit het al in die werklikheid ook met my gebeur. Ek was besig met ’n Shakespeare-stuk en in die middel daarvan besef ek skielik dat dit dialoog uit ’n ander Shakespeare-drama is wat by my mond uitkom. Ek was eintlik besig met Hamlet en daar kom Julius Caesar se woorde by my mond uit. In die ou dae het hulle vir jou ses of agt reëls gegee om te memoriseer. Wanneer jy iets vergeet het, moes jy voor begin totdat jy weer terug is waar jy wil wees. Dit was vreesaanjaend (lag).
Wat kan jy sê oor die pragtige, jong meisie in jou lewe?
Daar is heelwat wat ek kan sê. Ons is al sewe jaar saam. Ons het al baie goed saam beleef en daar is baie dinge wat ons bymekaar hou. Ek is baie bly dat sy in my lewe is. Dit werk.
Jou oudste dogter, Julie, is ook in die bedryf. Wat doen sy?
Sy maak flieks. Dis haar passie. Sy is eintlik ’n skrywer. Ek wou altyd gehad het sy moes ook ’n akteur word, want toe sy jonger was, kon ek al sien hoe talentvol sy is. Maar dit lyk asof sy meer op skryfwerk fokus. Sy bly in New York, en is besig om deur die proses van loopbaanontwikkeling te gaan.
Dink jy dis waar dat akteurs alleen gelaat wil word, maar terselfder-tyd raakgesien wil word?
Ek dink nie akteurs wil raakgesien word nie. Ek dink akteurs verwag dit as hulle bekend is. Dit word deel van hul lewe. Iemand het my eenkeer op straat gevra: “Is jy Al Pacino?”. Toe ek ja sê, was sy antwoord: “Geluk, jy lyk soos jy veronderstel is om te lyk.” (lag). In die verlede was ek altyd verras wanneer mense my herken, maar noudat ek daaraan gewoond is, verstaan ek dit. Wanneer mense met my praat, is dit omdat hulle my flieks gesien het, nie omdat ek spesiaal is nie. rr