Agt vrae oor natuurlike geboortekwessies deur Mariette Snyman. Foto: Unsplash
Agt vrae oor natuurlike geboortekwessies
Cozette Laubser, geboorte-opvoeder en Paramana-doula van Johannesburg, beantwoord agt vrae oor kwessies verbonde aan natuurlike geboorte.
1. Wat is natuurlike geboorte?
Vir my beteken natuurlike geboorte die kraamproses begin spontaan en eindig ná die spontane lewering van die plasenta, sonder die gebruik van enige medikasie of instrumente. Die proses word deur die ma en baba gelei. Die vrou kan geluide maak, eet en drink, en rondbeweeg soos sy verkies – kortliks, sy kan doen wat sy moet doen om in die proses haar eie ritme te vind. Sodra daar onnodige mediese ingrepe is, is ’n vaginale geboorte nie meer heeltemal natuurlik nie.
2. Jy praat van natuurlike geboorte as die biologiese norm. Verduidelik asseblief?
Die biologiese norm verwys na die norm wat die gunstigste is vir ’n spesie se voortbestaan, en natuurlike geboorte is ons spesie se biologiese norm vir voortbestaan. Sodra jy dele van hierdie proses onnodiglik aanpas of uitlaat, met ander woorde sonder ‘n ware mediese noodgeval ingryp, moet jy baie seker maak wat die gevolg daarvan is op die kort en die lang termyn in terme van immuniteit, gesondheid, geesteswelstand, fertiliteit, genetika, ensovoorts.
Tot nou was daar byvoorbeeld nie ’n enkele langtermyn studie wat bepaal wat die implikasie van elective caesareans – keisersnitte wat sonder ’n beduidende mediese rede uitgevoer word – op lewenslange gesondheid is nie. Ek is nie seker hoe eties dit is om iets as ’n roetineprosedure voor te skryf voor die uitkomste deeglik bepaal en geanaliseer is nie. Die Franse verloskundige en geboortespesialis Michel Odent se navorsingsdatabank, Primal Health Research Databank, is besig om interessante skakels tussen mediese intervensies wat met geboorte verbind word en siektes te maak, maar dis nog te vroeg om met duidelikheid en sekerheid te sê die een is beslis ’n gevolg van die ander.
Lees ook: Wat jy moet weet oor nageboortedepressie
3. Hoekom word ’n elektiewe keisersnit of keisersnit sonder ‘n beduidende mediese rede dikwels as veiliger as ’n natuurlike geboorte beskou, terwyl voorstanders van natuurlike geboorte nie saamstem dat dit altyd veiliger is nie?
Hierdie is ’n baie komplekse kwessie. As ons dit wil stel dat ’n natuurlike geboorte ’n veiliger roete is vir mamma en baba, moet ons praat oor verskeie studies wat in verskeie plekke van geboorte gedoen is. Hospitaalpersoneel is dikwels van mening dat natuurlike geboorte riskant en onvoorspelbaar is en baie keer buitendien intervensie nodig het of tot ’n keisersnit lei, en dis ongelukkig waar – binne ’n hospitaalkonteks.
Maar wat ons soms nalaat om te noem, is dat die prosedures tydens ’n hospitaalgeboorte anders lyk as ‘n geboortesentrum se prosedures, en weer eens anders as die prosedures by ’n tuisgeboorte. In ‘n hospitaalomgewing is induksie teen 39 of 40 weke meestal die norm. Wanneer ons induseer, forseer ons die kraamproses om te begin voor die mamma en baba vir die proses gereed is. Boonop plaas ons dan ’n vrou in kraam in ’n geboorteomgewing wat heeltemal in teenstelling is met wat ons spesie tydens kraam verlang – dit belemmer die hormoonvloei en onderdruk die natuurlike instinkte. Dan verbaas dit ons wanneer die proses nie natuurlik ontvou nie.
Daar is vroedvroue soos die bekende Ina May Gaskin, wat selfs nog in die 21ste eeu aan persoonlike diens glo, die geboorteomgewing so natuurlik moontlik en huislik hou, en die vrou in kraam fisiek en emosioneel tydens die geboorteproses ondersteun. In sulke gevalle is die statistiek ongelooflik goed: by The Farm Midwives-sentrum in die VSA was daar tydens 3000 geboortes die volgende statistiek: Keisersnitte 1.7%, die gebruik van instrumente 0.8%, sterftesyfer onder moeders 0%, en neonatale sterftesyfer 0%. Besoek gerus www.thefarmmidwives.org/ vir meer inligting.
Ek wil dus vra dat lesers krities kyk na navorsing en statistiek, en hoe uitkomste lyk wanneer ons so min as moontlik inmeng en die natuur sy gang laat gaan. Natuurlik verwys ons hier na ma’s en babas wat lae risiko en goeie kandidate vir natuurlike geboorte is.
4. Kan iets gedoen word om ’n keisersnit hopelik onnodig te maak wanneer ’n baba in die brugposisie lê?
Gelukkig, ja! Die brugposisie – boudjies ondertoe – beteken die koppie kom nie eerste uit tydens geboorte nie, maar die boudjies. Dis nie ideaal nie, want die koppie is die kleinste dimensie en help ook met drukking op die serviks om ontsluiting moontlik te maak. Die persepsie is dat bruggeboortes gevaarliker is en nie so goed vorder nie; in ekstreme gevalle gaan babas dood. Die meeste medici, en dit sluit vroedvroue in, sien vaginale geboorte nie as ’n opsie tensy die baba koppie ondertoe draai nie.
Dit het vir my ’n nuwe wêreld oopgemaak toe ek besef jy kan iets doen om jou baba te help roteer. Gail Tully, die Amerikaanse stigter van Spinning Babies, is ’n vroedvrou en doula met ’n agtergrond in fisioterapie. Sy het ’n reeks oefeninge vir verwagtende vroue ontwerp. Van hierdie oefeninge oorvleuel met jogaposisies. Dis eenvoudige oefeninge; die ma lê bv. op haar sy, of staan kop-onderstebo, soortgelyk aan die jogaposisie downward dog. Die doel van die oefeninge is om meer spasie te skep in die uterus sodat die baba die nodige ruimte het om te roteer van boudjies ondertoe na koppie ondertoe.
Baie van ons wat bv. rekenaarwerk doen, is geneig om ons bene te kruis. Tipies gooi dit die harmonie tussen die ligamente in jou uterus uit. Dit beteken die een ligament van jou pelvis na jou uterus is dikwels langer as of korter as aan die ander kant. Sodra die vorm van die uterus uitgegooi word, is daar minder spasie vir die baba om te roteer.
Wanneer moet ’n baba roteer?
Daar is ’n breë vensterperiode. Dit raak moeiliker na 34 weke, want die baba raak al hoe groter en die spasie minder. Ma’s wat op hierdie punt sou dink hulle het geen beheer oor hul geboortekeuse nie en is verplig om ’n keisersnit te skeduleer, kan vir ’n week of twee die oefeninge probeer. Die suksessyfer met hierdie tegenieke is tot 85% en die intervensie is eintlik baie min.
Ons het nog nie van hierdie instrukteurs in Suid-Afrika nie, maar hulle het aanlynvideo’s wat baie omskrywend is. Die oefeninge is so eenvoudig – jy kan letterlik ’n artikel lees en dit tuis doen. My vriendin het haar baba binne twee dae so gedraai. Dit werk regtig: www.spinningbabies.com
5. Wat van die vrees vir ’n naelstring om ’n baba se nek tydens geboorte?
Die vrees is dikwels vir verwurging en dood, of dat die naelstring sal knoop en na ’n suurstoftekort en moontlike breinskade sal lei. Die aard van die naelstring is egter dat dit drukking en knope kan hanteer sonder om bloed- of suurstoftoevloei te beperk. ’n Naelstring om die nek kom in werklikheid by een uit drie geboortes voor, en in sommige gevalle is dit sommer twee of drie keer om die nek gedraai en steeds beteken dit nie noodwendig daar is nood nie. Vroedvroue is opgelei om die naelstring om die nek te verwyder voor die baba se koppie by die geboortekanaal uitkom. Naelstringe se lengte wissel van 24 cm tot 124 cm; daar is ’n groot variasie in wat as normaal bestempel word.
6. Wat is die beste manier om die due date te benader?
Weereens word hierdie vraag beantwoord met die aanname dat die ma en baba albei gesond en lae risiko is. Laat die baba besluit wanneer hy of sy gereed is. Daar is ’n uitstekende kommunikasiestelsel tussen Baba en Mamma se lyf wat bepaal wanneer dit optimaal is dat die geboorteproses begin. Sodra ’n ma spontaan in kraam gaan, dui dit daarop dat ’n reeks faktore in plek is, soos die volwassenheid van die baba se longetjies, die rypheid van die ma se serviks wat ontsluiting moontlik maak, ensovoorts.
As ons die ma en baba prematuur forseer om in kraam te gaan, is daar dikwels verdere intervensie nodig omdat belangrike aspekte van die proses nie in plek was nie. Tipiese intervensies wat met induksie verband hou is gereelde vaginale ondersoeke, ’n epiduraal, ’n tang- of vakuumverlossing, of ’n episiotomie (snit). Dit lei gewoonlik tot ’n minder bevredigende of selfs traumatiese geboorte-ervaring.
Voltermyn wissel gewoonlik van 37 tot 42 weke. Verskillende kenners het verskillende definisies van overdue. Baie ginekoloë beskou 40 weke as die afsnypunt vir spontane geboorte, terwyl baie vroedvroue dit as 41 tot 42 weke sien. Dan word induksie-opsies bespreek. Ek sou ’n ma aanraai om reeds by die eerste ontmoeting vir jou geboortespan te vra hoe hulle overdue en induksie benader.
Lees ook: Swangerskap, stres en jou werk
7. Die natuurlike geboorteproses kan vergelyk word met ’n marathon of ander langafstandsportaktiwiteit. Hoe berei jy jou hierop voor?
Soos vir enige ander fisiese uitdaging kan jy
- emosioneel voorberei deur ingelig te wees, rustig te wees, en jouself met mense te omring wat positief en aanmoedigend oor die onderwerp gesels
- fisiek voorberei deur aktief te wees – swangerskapjoga, langafstande stap en swem is alles wonderlike liggaamlike voorbereiding vir geboorte. Onthou, jou spiere gaan ure lank moet werk, hulle moet sterk én soepel wees! Fisieke voorbereiding beteken ook jy drink en eet ooreenstemmend met dit wat sterk spiere en ’n soepel vel nodig het.
- Rus jou toe met leesstof, verkieslik voor swangerskap of in die eerste trimester, wanneer jy nog in die posisie is om jou geboortespan, plek van geboorte, ensovoorts te kies. Later in jou swangerskap kan hierdie inligting en besluite wat geneem moet word oorweldigend wees en meer spanning bring – wat nie ideaal is nie. Elke geboortekenner waarmee jy praat gaan vir jou ander antwoorde gee, dus moet jy regtig verantwoordelikheid neem om jou eie navorsing te doen en jou eie opinie te vorm.
- Vir my was Michel Odent, Ina May Gaskin en Penny Simkin se leesstof geweldig goed nagevors en tog so eenvoudig en natuurlik – dit het tot my mammahart gespreek.
8. Kan jou bekken ‘te klein’ wees vir natuurlike geboorte?
In uitsonderlike gevalle is ’n vrou se bekken nie geskik vir vaginale geboorte nie. Die toestand word kefalopelviese disproporsie genoem, maar dit kan nie gediagnoseer word voor die geboorteproses begin nie. Iemand wat vooraf sê die bekken is te klein of die baba te groot, raai. Die bekken het verskeie gedeeltes wat met ligamente verbind word. Die hormoon relaxin word al vroeg in swangerskap afgeskei om die ligamente te verslap. Dit beteken dat ‘n bekken, al vertoon dit klein, steeds die vermoë het om te vergroot om die babatjie deur te laat.
Lees ook: Swanger bo 40