Bemagtig jouself
– Dr. Stefanie Badenhorst, sielkundige
Hoewel afspraakverkragting met mans en vroue gebeur en selfs tussen lede van dieselfde geslag, het vroue ’n groter risiko om slagoffers te word. Vertrou jou instink en as jy onveilig voel, tree dadelik op.
– Marinda Kotzé, senior navorser by die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening
Wees oplettend hoe ander jou behandel. Wees versigtig vir:
• Mense wat nie “nee” vir ’n antwoord aanvaar nie.
• Iemand wat nie jou persoonlike ruimte respekteer nie.
• Iemand wat ’n negatiewe houding teenoor die teenoorgestelde geslag openbaar.
• Moenie jou drankie onder jou oë laat uitgaan nie. As jy het, kry eerder ’n ander een. Moenie dat iemand vir jou ’n drankie ingooi waar jy hulle nie kan sien nie. Let op na die kleur van jou drankie. Veral Rohypnol kan ongekleurde drankies ’n blou kleur gee, maar dis nie altyd sigbaar in ’n gekleurde drankie nie.
• Indien jy saam met iemand gaan wat jy nie goed ken nie, vertel ’n vertroueling daarvan en ook waarheen julle gaan. As jy skielik duiselig, naar, lighoofdig, moeg of vreemd begin voel, of selfs net ongemaklik, soek hulp. Bel iemand om jou te kom haal en probeer by ’n veilige plek uitkom sonder om jouself te isoleer en so meer kwetsbaar te maak.
• Kry mediese hulp om die gevolge van ’n besmette drankie of ’n oormaat alkohol te behandel.
• Onthou, as jy dink jou vriendin het ’n afspraakdwelmmiddel ingekry, soek hulp sonder om haar alleen te los.
Jane* was 15 toe sy die Verkragtingkrisislyn by Lifeline bel. Sy was die vorige aand op ’n partytjie waar baie drank was. Sy wou ’n ouer seun op wie sy verlief was, beïndruk en het saamgedrink. Sy onthou dat sy daarna anders gevoel het, gelukkig en sorgvry. Sy het Abel* gevra om te dans. Die volgende wat sy onthou, is dat sy in die tuin wakker geword het en naar was. Sy was sonder haar jeans en onderklere en in erge pyn. Daar was bloed aan haar geslagsdele.
Rozanne Ashworth, ’n traumaberader van Lifeline in Pretoria vertel dat sy aan diens was toe Jane bel.
“Die kind het gesê haar ma sou nie verstaan nie. Sy het nie geweet wat om te doen nie en om hulp gepleit. Uit die oproep het dit geblyk dat sy die vorige aand verkrag is.”
’n Nagmerrie. Maar wat as die ondenkbare gebeur en jy op ’n afspraak verkrag word? Wat presies is afspraakverkragting en hoe moet dit hanteer word?
Marinda Kotzé, senior navorser by die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening, sê afspraakverkragting is wanneer die persoon met wie jy op ’n romantiese afspraak uitgaan jou verkrag. Sy sê afspraakverkragters gebruik verskillende strategieë soos om drankies met Rohypnol en Gamma-hidroksiebottersuur (GHB) te dokter. Soms word die slagoffer gedreig of afgepers, ander laat die slagoffer skuldig voel omdat hulle al ’n geruime tyd uitgaan, of dat die oortreder vir al die drankies tydens die afspraak betaal het, en selfs deur valse beloftes te maak.
“Afspraakverkragting kan op die eerste afspraak of selfs ná talle afsprake voorkom en vroue en mans kan slagoffers van afspraakverkragting wees. Dié verkragtings is oor die algemeen minder gewelddadig as verkragting deur ’n vreemdeling. Maar die slagoffer is steeds diep getraumatiseer. Slagoffers is dikwels huiwerig om die saak by die polisie aan te meld omdat hulle geneig is om hulself te blameer, of die voorval nie as verkragting beskou nie.” Sy sê daar is ’n siening dat werklike verkragting slegs plaasvind wanneer ’n vreemdeling jou oorval.
Maar hoekom gebeur afspraakverkragting?
Kenners sê die antwoord is ingewikkeld. Oorsake sluit die siening in dat ’n vrou mans se besitting is, gebrekkige seksuele opvoeding, die media wat seksualiteit voorstel as ’n drang waaroor mense nie beheer het nie, asook slagoffers se weerloosheid. Wanaangepaste mense, of mense in ’n portuurgroep waar geweld goedgekeur word, sal hulle makliker aan afspraakverkragting skuldig maak. Daarby kom faktore soos woede, ’n magspel, sadisme of bloot net opportunisme.
Wat is die tekens van afspraakverkragting?
Dr. Stefanie Badenhorst, ’n sielkundige, sê soms kan die slagoffer onbewus wees van die omvang van wat gebeur het omdat sy/hy onder die invloed van een of ander middel was. “Geheueverlies kan ook voorkom weens die trauma of die skok en omdat die slagoffer dit nie wíl onthou nie. Skuldgevoelens is algemeen – slagoffers neem hulself kwalik omdat hulle onder die invloed was of nie voorkomend opgetree het nie. Daar kan ook fisieke tekens of letsels wees soos krapmerke, kneusing of bloeding.”
Is daar ’n oplossing?
Minnie Loubser, ’n kliniese sielkundige, sê daar is nie ’n eenvoudige oplossing nie omdat gemeenskappe en kulture so baie verskil. Gemeenskappe moet opgevoed en mense bemagtig word om selfgeldend te wees en hul verwagtings en behoeftes duidelik te verwoord.
“Onkunde is ’n groot probleem. In die meeste kulture in ons land is vroue tradisioneel grootgemaak om toegeeflik te wees en om ‘vroulik, sag en die minste’ te wees en hulle nie te sterk uit te spreek nie. Vroue kan leer om meer selfgeldend te wees en hoe om hulself fisiek te verdedig. Hulle moet weet wat die invloed van te veel alkohol of ander dwelms of pille op hulle kan wees.”
Dr. Badenhorst sê dit is belangrik dat mense voorkomend optree. “Indien dit gebeur het, is dit noodsaaklik om ’n klag by die polisie te lê. Ongelukkig kan dit nog meer traumaties wees omdat bewyse beperk is. Die saak kan ook die trauma vererger omdat die slagoffer blootgestel word en as ’n leuenaar uitgemaak kan word, of as iemand wat die situasie uitgelok het. Kry professionele advies en ’n goeie regsverteenwoordiger wat bekend is met dié soort sake.”
Marinda sê mense moet geleer word “nee” beteken “nee” en nie dalk later “ja” nie. Kinders moet van jongs af geleer word om empatie met ander te hê.
Rozanne glo dis belangrik dat kinders van jongs af geleer word om grense te stel in verhoudings, sowel as om duidelik te kommunikeer en konflik te hanteer.
Raad aan slagoffers
Rozanne:
• Baklei terug teen die nagevolge. Dis nie nodig om ’n slagoffermentaliteit aan te neem nie. So neem jy beheer terug en laat nie toe dat die verkragter jou beheer nie.
• Wees sag met jouself. Genesing neem tyd. Gee een tree, een dag op ’n slag.
• Neem beheer van jou lewe en besluit om te doen waarvan jy hou en te sosialiseer met wie jy wil.
• Moenie lewensbelangrike besluite neem terwyl jy besig is om innerlik te genees nie.
Marinda:
• Of jy fisiek beseer is of nie, dis steeds belangrik om na jou plaaslike kliniek, hospitaal of Thuthuzela-sorgsentrum te gaan vir ’n mediese ondersoek. Die ondersoek sal deur ’n dokter of forensiese verpleegster gedoen word. Die mediese ondersoek is ontsettend belangrik, omdat enige fisieke bewyse wat die verkragter agtergelaat het, aangeteken en vasgelê moet word vir verdere forensiese ondersoek. Dwelmondersoeke is nie altyd standaardpraktyk nie. Sê vir die dokter of verpleegster as jy vermoed die verkragter het jou bedwelm. Hoe langer jy wag om ’n mediese ondersoek te ondergaan, hoe groter is die kans dat die fisieke bewyse verdwyn het. Hierdie stap is ook belangrik omdat jy ’n spesiale kombinasie antiretrovirale middels kan kry wat MIV-besmetting, asook besmetting met ander seksueel oordraagbare siektes en swangerskap kan voorkom. Hierdie middels is op hul doeltreffendste binne die eerste ses tot agt uur ná die verkragting.
• Meld die verkragting by die polisie aan. Onthou, die ondersoek en hofsaak kan uitgerek word. Moenie moed verloor nie en baklei terug.
• Omring jou met mense wat jou ondersteun.
Minnie:
• Kry professionele hulp, spesifiek by iemand wat in traumaberading opgelei is. Slagoffers van verkragting is dikwels onseker oor hul reg om daaroor te praat. Vroue ervaar soms dat hulle vir die situasie verkwalik word, daarom bly hulle eerder stil. Dis belangrik om te praat en die soort hulp te kry wat jou liggaam en siel kan help om die trauma te verwerk.
Stefanie:
• Dit kan nuttig wees om by ’n ondersteuningsgroep in te skakel.
Ken jou regte
Rozanne:
Ingevolge die Menseregtehandves maak verkragting inbreuk op mense se basiese menseregte: die reg op lewe, vryheid, persoonlike veiligheid, waardigheid, toegang tot howe en gesondheidsorg, die reg om nie gemartel te word nie, asook die reg op ’n gesonde omgewing. Verkragting raak nie net die slagoffer nie, maar ook hul vriende, familie en die gemeenskap.
Kontakbesonderhede
• Minnie Loubser: [email protected]
• Dr. Stefanie Badenhorst: [email protected]
• Lifeline: 012 804 1853
• Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening: www.csvr.org.za