Laurinda Hofmeyr en Schalk Joubert ontdek, saam met ’n wêreldklas-ensemble bestaande uit Wes-Afrikaanse sangers en musikante, ’n skatkis van Afrika-poësie vanuit Franssprekende lande soos Madagaskar, die Ivoorkus, Kameroen, Mauritanië, en Tsjaad, asook terug op eie bodem in die werke van Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Eugene Marais. Hierdie literêre fees word gekombineer met Afrika-geïnspireerde melodieë om ’n energieke, multi-media produksie, Afrique Mon Désir, voort te bring. Laurinda Hofmeyr het die toonsettings behartig.
Lees ook ons onderhoud met Laurinda Hofmeyr hier
Meesleurende animasies deur die gevierde Suid-Afrikaanse kunstenaar, Diek Grobler, vergesel die musiekuitvoering om dit ’n unieke, sensoriese oudio-visuele ervaring te maak. In hierdie veeltalige produksie word Frans en Afrikaans, asook Lingala, Swahili, Tshiluba en Kikongo gehoor.
Afrique mon désir ondersoek temas van verplasing en verlange, asook ’n diep gedeelde konneksie tussen die Afrika-kontinent en sy bewoners.
Hierdie produksie sal, na afloop van die opvoerings by die Woordfees en KKNK, ’n oorsese toer meemaak waar dit in Frankryk, Nederland en België aangebied sal word.
Verdere inligting
Naam van die produksie: Afrika My Verlange / Afrique Mon Désir
Regie: David Kramer
Musikante: Laurinda Hofmeyr, Schalk Joubert, Kevin Gibson, Malako Wekuna Soba, Yamamoto Bonkuta Loyeke, Kayembe Ilunga, Deodata (Dea) Kingzunga-Walo, Dylan Roman.
Animasie: Diek Grobler
Aangebied deur die Cape Town Music Academy (CTMA), ’n nie-vir-profyt maatskappy (NPC) wat daarna streef om geleenthede te ontwikkel vir plaaslike gevestigde en opkomende musikante en kunstenaars in die Wes-Kaap.
Stellenbosch Woordfees 2018:
Datums en tye:
Woensdag, 7 Maart om 20h30
Sondag, 11 Maart om 16h00
Bespreek by Computicket
KKNK Oudtshoorn 2018:
Datums en tye:
Maandag, 2 April om 18h00
Dinsdag, 3 April om 14h00
Bespreek by Computicket
Afrique Mon Désir album is beskikbaar aanlyn, en dit word ook vanaf Maart 2018 internasionaal deur die Franse maatskappy In Ouïe Distribution versprei.