So hoekom sê hy niks? Eva vat-vat aan haar nuwe, kort kapsel. Dalk sien hy as sy vat. Dit werk nie. Weer niks. Maar eintlik, eintlik weet sy.
Sien, dié Adam, soos baie ander wat ek ken, hou van ’n vrou met lang hare. Ek kon dit nog nooit kleinkry nie. Dalk is dit die golwende lokke in die wind of visoene van vingers wat deur lang slierte vleg. Of die prentjie van ’n prettige poniestert. Ek weet nie.
Eva hét probeer. Wou die spulletjie al verskeie kere laat groei, maar as die kuif in haar oë begin hang, die slierte ongehoorsaam in rigtings begin krul, dit dubbeld so lank neem om soggens klaar te maak, skielik alle body verloor en sy moet stoei met rekkies, knippies en bande om dit min of meer in toom te hou, is die besluit op ’n dag maklik: knip. Kort.
Want kort is altyd netjies-blink, elke haar op sy plek, maklik en vinnig vir soggens se klaarmaak. Hoor jy, Adam? Adam swyg, Eva broei.
Groot haar-verligting dan as tydskrifvoorblaaie al om die ander seisoen basuin: die pixie is in, so-en-so spog met ’n nuwe, kort kapsel, Kyk hier, Adam, kyk! Adam swyg, Eva broei.
Eva gee later op, vergeet van die kapsel en gaan halsstarrig-onafhanklik haar eie, kortgeknipte gang. Dan dwing die soveelste operasie aan ’n geskeurde ligament haar dié week tot krukke, ’n bed en afhanklikheid. Adam?
Adam, kan jy asseblief? Adam, help asseblief? Dankie vir die koffie, Adam.
Adam swyg. Doen wat sy hand vind om te doen en dra vir sy Eva met die kortgeknipte kapsel bekersvol warm drinkgoed en bosse blomme aan. Hy pak woordeloos die skoolkosblikke, ry kinders op-en-af, koop laataand brood en melk by die kafee en bring vir Eva ’n onwettige sak sjokolade bed toe.
Gefrustreerd wonder Eva stilweg of sy weer vir Adam sy sin sal probeer gee en die lokke sal loslaat om te groei?
Nee, Eva, sê ek. Los vir Adam. Jou kortgeknipte kapsel is dalk nie vir hom voorbladnuus nie. Maar jy? Jy is.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za