Die Proteakaptein (tot onlangs), AB de Villiers (32), het op Bela-Bela grootgeword, maar het sy hoërskoolloopbaan aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria voltooi. “Ek het twee ouer broers, en ek was seker so agt toe ek gaan kyk het hoe my middelbroer vir ’n Affies-rugbyspan uitdraf. Net daar het ek verlief geraak op die idee om ook Affies toe te gaan.”
AB se pa is die afgelope 35 jaar al ’n mediese dokter op Bela-Bela. “My ma, Millie, is ’n entrepreneur wat al ’n paar dinge aangepak het, en sy het ook jare lank tennis op die dorp afgerig.”
Sy ouers het sy liefde vir sport aangevuur. “Ons drie seuns het nooit stilgesit nie – ons het alle sportsoorte beoefen waaraan jy kan dink. My broers, Jan (40) en Wessels (38), is ook talentvolle sportmanne. Ons speel graag saam gholf wanneer ons die kans kry.”
Watter soort kind was jy?
Baie besig en vir seker ’n bietjie stout! Maar ek was ’n skaam seuntjie – eintlik is ek steeds (lag.) Niks het verander nie.
Waar kom die belangstelling in sport vandaan?
My ouers was sportmal en albei baie sportief. Hulle het tennis gespeel toe ons klein was, en baie gholf. My pa was ook ’n kranige rugbyspeler en het vir Tukkies se eerste span gespeel. My ma is die mees kompeterende mens wat ek ken. Ons was een van daardie gesinne wat drie-uur soggens opgestaan het om te kyk as die Springbokke iewers oorsee speel.
Hoe word jy toe ’n professionele sportman?
Ek het altyd gevoel iets groots kan gebeur as ek aanhou werk aan my sport. Ek het vir Affies se eerste rugbyspan gespeel en was ook lid van die Noord-Transvaalse Cravenweekspan. Maar krieket was eintlik my sport vandat ek 16 was. Ek was in graad 11 en 12 in die Suid-Afrikaanse skolekrieketspan. Toe gaan swot ek sportwetenskap aan Tuks. Ek het net een van my agt vakke geniet, te veel gekuier en nie eens vir Tuks se eerste span krieket gespeel nie. Toe bel die bekende krieketafrigter Dave Nosworthy my en spreek my ’n bietjie aan omdat ek nie die eerste span haal nie. Hy sê toe hy het plek vir my in sy span, en ná ses maande op universiteit het ek opgeskop en voltyds begin krieket speel.
Wat anders sou jy graag wou wees?
Seker ’n dokter, soos my pa. Ek was die eerste keer saam met hom in ’n teater toe ek nege was. Dit het my dadelik gefassineer, en biologie was ’n gunstelingvak. Anatomie was al vak wat ek op universiteit geniet het.
Wat is die grootste uitdaging van ’n sportloopbaan?
Om aan te hou goed speel. Dis nie maklik om ’n ster te word nie, maar dis nog moeiliker om jaar na jaar gedrewe te bly om uit te blink. Nou, met die operasie aan my elmboog, moes ek vrede maak daarmee dat ek ’n ruk lank op die kantlyn sal moet sit. Dit help nie jy baklei daarteen nie. Ek moet die arm twee maande laat rus, maar dan sal ek weer hard werk aan ’n terugkeer.
Wat is die lekkerste van jou werk?
Soos met enige werk is daar goeie en slegte dinge. Die lekkerte is dat dit ’n droomlewe bly. Dit was van kleins af my droom om mense te vermaak en voor groot skares krieket te speel. Daar is natuurlik ook minder lekker dinge, soos lang tye weg van die huis af. Ek mis my familie en al die huishoudelike dinge. Soms wens ek selfs ek kan my eie gras sny! (lag). Maar die laaste ruk toer my vrou en seuntjie gereeld saam. Ons het ’n reël gemaak dat ons mekaar elke tien dae moet sien. Klein AB is nou 14 maande oud, en het al meer as sestig keer in sy kort lewetjie gevlieg.
Daar is ’n rits krieketrekords agter jou naam. Hoe voel jy daaroor?
Dis baie lekker! ’n Mens is trots daarop om te weet jy het dit bereik, maar dis nie iets waaroor ek loop en spog nie. Dit was nog altyd my droom om baie te bereik. Ek is baie dankbaar vir die Hemelse Vader vir my talent en vir wat ek alles bereik het. Geloof is my en my familie se anker. Daarsonder is ons leeg.
Is daar enigiets in jou loopbaan waaroor jy spyt is?
Nee. Ek het baie foute gemaak, maar beskou dit as deel van die lewe.
Hoe ontspan jy?
Ek kuier graag saam met my familie. Ek hou van gholf en braai, en is dol op ’n goeie fliek. Met springmielies! Ek het ’n bergfiets, maar ry glad nie genoeg nie. Ek hou ook baie van tennis, hoewel ek lank laas gespeel het.
Hoe het die idee vir die boek ontstaan? En het jy dit alleen geskryf?
Ons nederlaag teen Nieu-Seeland in 2015 se Wêreldbeker was die grootste teleurstelling van my krieketloopbaan. Ek het daarna gevoel my paadjie was nou volsirkel, en ek wou my storie aan die jonger geslag vertel. Ek het saam met ’n spookskrywer gewerk, maar elkeen van die woorde in die boek is my eie. Ek en hy het saam gereis na al die plekke waaroor ek in my boek skryf, en dan het ek net gepraat terwyl hy dit opneem en later neerskryf. Dit was baie moeiliker as wat ek gedink het dit sou wees.
Wie bewonder jy?
Ek was agt toe ek sien hoe Jonty Rhodes ’n speler uithardloop, en van toe af was hy my rolmodel. Ek kon sien hy speel met passie, maar het ’n sagte siel. Twaalf jaar later was ek bevoorreg om hom te ontmoet, en ons het intussen goeie vriende geword. Ek het ook baie bewondering vir my vrou en vir my ma – hulle is sterk vroue wat my ook baie leer van die vroulike kant van die lewe. Toe ek klein was, het my pa se loopbaan hom baie besig gehou, en hy kon min van my wedstryde bywoon. Maar die laaste paar jaar is ons nader aan mekaar. Ek is my ouers ewig dankbaar vir al die geleenthede wat hulle my gegee het. Ek het ook groot bewondering vir Mark Boucher se veggees en deursettingsvermoë.
Wat bewonder jy in ander mense?
Nederigheid is vir my baie belangrik. Ek hou ook van mense met goeie harte wat ander mense dien, en verpes selfsugtigheid.
Het jy ’n motto?
Dit was my leuse toe ek baie jonger was, maar dis seker nog van toepassing:
“All men dream, but not equally. Those who dream by night in the dusty recesses of their minds, wake in the day to find that it was vanity: but the dreamers of the day are dangerous men, for they may act on their dreams with open eyes, to make them possible.” (T.E. Lawrence)
Wat is jou raad vir jong sportmanne en -vroue?
As jy op skool is, voel die gaping tussen waar jy nou is en waar jy wil wees, baie groot. Maar dis baie kleiner as wat jy dink. Hou moed, leer uit jou foute en hou aan.
Die man agter die kolf
AB en Danielle het mekaar in April 2007 ontmoet toe sy ma, destyds ’n eiendomsagent, een van Danielle se pa se eiendomme moes verkoop. “Toe gaan eet ons middagete by hul lodge, en dit was dit! Sy is drie jaar jonger as ek, en ons is in 2013 getroud.”
•
Danielle, wat ’n graad in beleggingsbestuur het, se gedrewenheid het eerste sy aandag getrek. “En haar liefde vir die lewe en vir die Here. Sy is ’n baie mooi mens van binne én buite. Ons was eers vriende, en later het die liefde ernstig geraak. Danielle is my go to person.”
•
Hy erken ruiterlik vaderskap het sy lewe verander. “Dis ongelooflik! My roetines, prioriteite en lewensuitkyk het heeltemal verander.
•
Krieket het hom al die hele wêreld vol geneem. Die Wes-Indiese Eilande met plekke soos Barbados en Trinidad is sy gunsteling. “Engeland en Australië is ook baie lekker. Dis vir my baie soos Suid-Afrika.” Hy geniet dit om voor die Indiese skares krieket te speel, en hoewel die Indiese kookkuns vir hom ’n kultuurskok was, is hy nou al lief vir Indiese kos.
•
Die aantreklike krieketspeler het nie ’n lang kluitklaplysie nie. “Baie van my drome is reeds deur krieket waar gemaak. Daar is nog ’n paar groepe wat ek graag sal wil sien optree, soos Crowded House. En ek wens ek kon die Bee Gees saam sien optree!” Hy en Danielle is lief vir musiek. “Sy het musiek geneem en speel uitstekend klavier. En sy sing soos ’n engel!” AB het self in 2010 ’n album saam met die sanger en liedjieskrywer Ampie du Preez opgeneem. Een van sy groot drome is om die Amerikaanse Meestersgholftoernooi in Amerika te gaan bywoon. Hy sal ook graag ’n ruk lank die VSA wil verken. “Maar ek is ’n Pretorianer en mal oor ons stad.”
*AB The Autobiography deur AB de Villiers word uitgegee deur Pan Macmillian en kos R250. Dis die ideale Kersgeskenk vir krieketliefhebbers.