Ons het geskilde baba-aartappels by die supermark opgespoor, maar jy kan gewone aartappels met skil en al sag kook, skil terwyl dit nog warm is en in kleinerige blokkies sny. Gerasperde suurlemoenskil gee ’n heerlike vars smaak aan dié slaai en werk veral goed saam met visgeregte.
500 – 750 g gaar, warm aartappels, in kleinerige blokkies gesny – nie te fyn nie (soos bo verduidelik.)
250 ml (1 k) crème fraîche of aangesuurde room
250 ml (1 k) fyn gerasperde parmesaan- of pecorinokaas
125 ml (½ k) mayonnaise
’n hand vol sprietuie of pietersielie, fyn gekap – deel dit in die helfte
sout en gemaalde swartpeper
1 kop bindslaai of botterslaai, los gebreek en gewas
1 Maak soos hierbo: Kook die aartappels gaar. Laat effens afkoel, skil en sny in kleinerige blokkies.
2 Meng die res van die bestanddele en die helfte van die gekapte sprietuie deur terwyl die aartappels nog louwarm is. Geur deeglik met sout en swartpeper.
3 Sit voor met die bindslaai en strooi die res van die sprietuie oor die slaai.
Nóg kombinasies
1 Meng 500 g gekookte baba-aartappels met 1 fyn gekapte selderystingel en ’n hand vol gekapte sprietuie.
2 Vlok 150 g gerookte makriel en strooi oor die aartappels.
3 Maak ’n slaaisous deur gelyke hoeveelhede mayonnaise en jogurt met 1 e (15 ml) korrelmosterd te meng.
4 Sit laastens die sap van ’n uitgedrukte suurlemoen by. Geur met sout en swartpeper en roer deur die aartappelslaai.