Aartappelgebak met gekaramelliseerde uie. Resep: Vickie de Beer. Foto: Johan Wilke
Genoeg vir vier
Bestanddele
- 30 ml (2 e) botter + ekstra om die bak mee te smeer
- 4 uie, oorlangs in dik skywe gesny
- sout en gemaalde swartpeper
- 6 aartappels, geskil en in dun lappies gesny – ons het ’n mandoliensnyer gebruik
- 500 ml (2 k) melk
- ’n paar tiemietakkies
- ½ ui
- 5 peperkorrels
- 1 lourierblaar
- 250 ml (1 k) cheddar-kaas, fyn gerasper
Metode
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n 20 cm- oondvaste bak met ’n inhoudsmaat van 750 ml met botter.
- Smelt die botter oor lae hitte in ‘n verhitte middelslagpan en soteer die uie tot goudbruin en gekaramelliseer. Dit neem sowat 20 min.
- Pak die aartappels en gekaramelliseerde uie in lae in die bereide bak.
- Verhit die melk met die tiemie, ui, peperkorrels en lourierblaar in ’n kastrol tot net onder kookpunt. Syg die melk deur ’n sif maar gooi dit terug in die kastrol.
- Smelt die kaas in die melk. Geur na smaak.
- Gooi die melk oor die aartappels. Bak vir 1-1½ uur tot die aartappels gaar en goudkleurig is. Druk ’n toetspen in om te verseker dat dit deurgaar is.