Versorg deur Mariette Snyman. Foto’s Hanri Human
Lara en Patrick Gilbride het in Junie 2018 ’n droom-bestemmingstroue in Verona, Italië gehou. Dié twee Suid-Afrikaners het 58 gaste uitgenooi om saam vir ’n paar dae lank met hulle bruilof te vier in ’n klein Italiaanse dorpie sodat almal in hierdie spesiale ervaring kon deel. Lara vertel ons oor die sprokiemooi troue …
Vertel ons van jou en jou man, Patrick.
Ons kom albei van Pretoria. Ons is in dieselfde jaar na Pretoria Boys en Girls High, maar ons het mekaar destyds nie geken nie. Ek is na die Universiteit van die Vrystaat en Patrick na Tukkies. Ek het ’n graad in korporatiewe kommunikasie en Patrick is ’n geoktrooieerde rekenmeester wat as ’n suksesvolle finansiële bestuurder by Mafadi Eiendomsbestuur werk. Ons is albei ekstroverte en gek daarna om mense te onthaal, saam met vriende weg te gaan of ons volgende reis te beplan. Ons het ’n hegte band met ons families en bring graag Sondae saam met hulle deur, met ’n groot feesmaal, vonkelwyn in die hand, besig om prettige herinneringe te deel.
Hoe het julle ontmoet?
Ons het mekaar by Deloitte in Johannesburg leer ken toe ons albei daar gewerk het – in die kantien van alle plekke, tydens ’n middagete met vriende. Kort daarna het ons saam iets gaan drink, en ons het regtig van mekaar gehou. Min ek het geweet dat Patrick ’n paar dae na ons ontmoeting vir ses maande na die VSA sou vertrek. 40 000 Whatsapps later – ja, hulle is outomaties getel! – het ons die naweek toe hy teruggekom het, ons eerste afspraak gehad. Die res is letterlik geskiedenis. Sedert daardie dag is ons ’n paartjie, en ons ken mekaar nou al vier jaar lank.
Hoe het Patrick die jawoord gevra?
Lara vertel dit soos ’n sprokiesverhaal…
“Hier volg die verhaal van 17 September 2017!
Patrick is ’n man van vele talente en besonderse planne. Hy het die verlowing maande vooruit beplan en uiteindelik besluit hoe hy dit gaan aanpak. Intussen het Lara haar eie beplanning gedoen vir Patrick se groot 30, totaal onbewus van die feit dat die groot vraag op pad was. Saam het hulle op die vliegtuig geklim, op pad na die Big Apple! Familielede en ’n paar vriende wat van Patrick se plan geweet het, het vingernaels verloor en grys hare gekry totdat die vraag uiteindelik gevra is.
Die beplande verlowing het wonderbaarlik ’n geheim gebly totdat Patrick op een knie gegaan en gevra het: “Sal jy die res van jou lewe saam met my deurbring?”
Lara was so oorweldig dat sy ’n paar sekondes lank sprakeloos was. Intussen het Patrick se knie begin pyn terwyl hy angstig op haar antwoord gewag het.
Mettertyd het Lara gereageer met ’n “Ja, ja, ja!” wat tot by die stadsprofiel geëggo het.
Sy het op die skitterende solitaire-diamant aan haar vinger gefokus. Die man het die steen self gekies, die ring ontwerp en dit in die geheim in sy bagasie versteek vir die reis na New York.
Lara het haar aan hierdie ongelooflike prestasie verwonder. Om die geheim te bewaar, was geen maklike taak nie. Daar wás ’n paar leidrade, maar sy het nooit die kolletjies verbind nie. Die feit dat Patrick met hulle aankoms die eerste keer ooit sy eie tas uitgepak het, moes haar laat raai het wat aan die gang was. En sy paniek oor die biltong in sy sak was ’n rooi vlag. “Wat as hulle my sak deursoek?” het hy hees gekrys. “Hulle sal dit beslis doen indien jy soos ’n maniak tekere gaan,” het Lara met geklemde kake gemompel, onbewus van die kosbare klein boksie weggesteek in Patrick se handbagasie.
Die verlowing was eenvoudig die ervaring van ’n leeftyd! Patrick het sulke hoë standaarde gestel dat sy vriende geen kans staan om daarop te verbeter nie. Om die waarheid te sê begin party hom nou eers daarvoor vergewe!
En wat nou? Hoe op aarde kon die troue so ’n oorrompelende, romantiese ervaring ewenaar?”
Waar het die gedagte aan ’n Italiaanse bestemmingstroue vandaan gekom?
Ons wou albei iets anders hê, iets intiems. ’n Viering van vier dae in Italië het ietwat angswekkend geklink, maar die moeite werd. Ons het 58 gaste genooi om van die 11e tot die 15e Junie 2018 saam met ons te vier. Ons wou ons aan die dorp en kultuur oorgee, en vier so ál wat ons kon. Dag een het bestaan uit grasperkspeletjies, ginkroeë en ’n kenmekaar gevolg deur ’n egte pasta-aandete verskaf deur ’n plaaslike spysenier.
Op dag twee was daar ’n 48 km lange fietsrit met gidse wat ons deur die geskiedenis van drie manjifieke, antieke klein dorpies in die omgewing geneem het. Die aand is afgesluit met ’n outentieke pizza-ete voorberei deur die enigste en oudste pizzarestaurant op die dorp. Op dag drie is ons almal met openbare vervoer na Verona om die kultuur daar te eet, te “praat” en te ervaar. Daardie aand was ons by ’n Agri Turismo selfonderhoudende plaas waar alles wat bedien is op die plaas verbou word. Dit was ’n onoortreflike smaakknoppie-belewenis.
Dag vier was die troudag, met almal formeel in swart. Die huweliksfees het by die villa plaasgevind en die kos is deur die wêreldklasspysenier van ’n naburige dorp berei. Die idee vir die troue is uit ’n samevoeging van sprokies gebore.
* Lara en Patrick het saam 19 troues bygewoon. Hulle wou iets totaal anders hê, iets van hul eie, en veral ’n langer viering.
Dis wat Lara en Patrick beplan het …
Ons naaste familie en vriende sou bymekaar kom by ’n villa in die dorpie Bartolomeo, suid van Verona en in die hartjie van die Lombardiese wynlande. Die troue sal almal aan “die goeie ou dae” herinner met feestelikhede, besienswaardighede, Romeo & Juliet se balkon, ’n serenade op ’n Venesiese gondola … en dan, om alles te kroon, die huweliksonthaal.
Die verrigtinge sal vertaal word van Afrikaans na Engels en dan na Italiaans, omdat die gaste uit Suid-Afrika, Engeland, Kanada en die VSA kom. Die ou-ou villa vorm die volmaakte agtergrond vir die seremonie, en ’n plaaslike sjef en sy span sou ’n asemrowende spyskaart saamstel, terwyl hulle ook die smake en versoeke in ag neem.
Die aktiwiteite wat na die spesiale dag lei, sal deur ’n paar uitgesoekte gaste georganiseer en gelei word. Italiaanse wyne sal die vieringe glad laat verloop en al wat oorbly, is die viering van ons eenwording, vriende en familie, tradisie, opwinding, verskillende kulture, vreugde, skoonheid en liefde.
Ons klink ’n glasie op betekenisvolle herinneringe wat geskep word tydens Patrick en Lara se idilliese huweliksavontuur!
Hoekom het julle Verona gekies?
Iemand wat ek ken, is vyf jaar terug by die villa getroud, en ek het altyd gedink dat ek graag iets soortgelyks sou wou doen. Ek het haar en die villa gekontak. Haar onthaal was kleiner, dus het ons ekstra akkommodasie in die omgewing gereël. Italië was uiters romanties en Verona het die Romeo en Juliet-konnotasie – wat meer kan ’n mens vra?
Was dit moeilik om so ver van die huis ’n troue te reël?
Ek het ’n agtergrond in funksiebestuur en vir my was dit baie pret. Ek moet erken, dis nie vir almal nie. As jy nie buitengewoon pedanties is en daaraan gewoond is om aandag aan detail te gee nie, moet jy dit liewer nie doen nie. Ek het alles omtrent vyf keer nagegaan en foto’s van net mooi alles aangevra om seker te maak almal was op dieselfde bladsy en om enige onaangename verrassings aan die ander kant te voorkom.
Wat het julle gedoen wat spesiaal was?
Die hele huweliksonthaal was ’n spanpoging, elke gas het op ons troudag ’n taak gehad. Dit was pret en het ’n gevoel van samehorigheid geskep, met ’n baie spesiale dag as die uitkoms. Die dekor vir die tafels, die speletjies en ginkroeg is alles deur ons gaste voorberei en opgestel. Ek kan ’n klein troue met vrymoedigheid aanbeveel; jy kan met al die gaste meng, en dis intiem. Ons viering het ook oor vier dae gestrek, wat verseker het dat al die gaste teen die groot dag soos familie gevoel het.
Hoe het jy (en Patrick) oor jou rok gevoel?
Ek was gek na my rok van Pronovias, die blokkleur en ontwerp was die toonbeeld van eenvoud en sofistikasie en het my soos ’n prinses laat voel. Die lang sluier was eenvoudig ’n moet, en die sleep aan die rok met die klein knopies op my rug het dit werklik spesiaal gemaak. Ek het regtig gehou van die klein gordeltjie wat ek by die rok gevoeg het. Dit was subtiel en het ’n groot impak gemaak.
Patrick was bewoë toe hy my sien, en het heelaand bly sê hoe wonderlik ek lyk. Hy was net so mal oor die rok soos ek.
Vertel ons oor die trougaste.
Ons gaste is met die hand uitgesoek. Die getalbeperking het die keuse regtig moeilik gemaak, maar op die ou end het ons mense gekies wat baie vir ons beteken. Soos die gesegde lui: Go where you are celebrated and not where you are tolerated. Ons het mense gekies wat ons as ’n paartjie celebrate.
Ons is trots op die ongelooflike vriende en familie wat ons deel. Ons is buitengewoon sosiaal, maar hou ook daarvan om ons te omring met mense met wie ons baie gemeen het. Ons het niemand genooi bloot omdat ons verplig gevoel het nie. Ons trou net een keer en wou dit so spesiaal as moontlik maak.
Wat het buitengewoon goed gewerk?
Vir ons was ’n vier daglange viering ’n moet, en teen die einde van die week het al ons gaste dit verstaan. Dit het die feesvieringe langer laat duur, en ons gaste het mekaar leer ken en kon agterkom hoe almal in ons lewens inpas. Ons het ook ’n webwerf geskep waar ons gaste bekendgestel is en waar ’n kort paragraaf verduidelik het waar hulle inpas, so die meeste gaste het mekaar reeds voor hul aankoms geken.
Om tydens die funksie by jou vriende te sit, is ook ’n moet. Dis soveel pret en gee die ouers ’n kans om tyd met hulle vriende deur te bring. Die ongelooflikste ding wat ek vir myself en die troue gedoen het, was om ’n minimalistiese voorkoms te skep: blomme uit die tuin, kerse, ’n dansvloer en ’n ongelooflike agtergrond het bygedra tot ’n absolute sprokiesgeleentheid. Minder is verseker meer!
Enige wenke vir iemand wat ’n Italiaanse bestemmingstroue wil beplan?
Maak driedubbel seker van alles, en vra vir foto’s van alles wat daardie dag gelewer sal word. Sorg dat jy werk met iemand wat vlot Engels praat.
En julle wittebrood?
Ek en Patrick hou daarvan om dinge ’n bietjie anders aan te pak. Ons het ’n buddymoon gekies – omdat soveel van ons vriende reeds in Italië was, sou dit perfek werk. Agt van ons het ’n vlug na Kroasië gehaal en elke sekonde daarvan geniet. Van die vriendelike mense tot die uitmuntende kos, kransspronge, geskiedkundige toere, watervalle, strande, skemerkelkies en eenmalige nagklubervarings – ons dink Kroasië is ’n moet vir elkeen. Ons het soms tyd sonder die groep spandeer, en dit was lieflik. In Desember gaan ons na Oostenryk vir ons wittebrood, omdat ons verlof ons nie genoeg tyd vir die troue en ’n wittebrood toegelaat het nie.
Wat het die troue vir jou beteken?
Ek het ’n visie gehad waaroor baie mense skepties was. Patrick en ek het dit reggekry om nie net ’n ongelooflike sprokiestroue te skep nie, maar ’n leeftyd se herinneringe daarmee saam. Ons troue kon nie méér volmaak gewees het nie. Dit was gevul met baie lag, trane van geluk, en baie liefde, en dis hoe ons dit wou gehad het – nie net vir ons nie, maar vir elkeen wat daar was.
Lara se trourok, beld en sluier is van Pronovias by The Bridal Manor.