Reis deur Pole: Krakau: Teks en foto’s deur Beatrix Roux
Poolse inval deel 2: Krakau
Vroegoggend vertrek ons met die vinnige trein (EIP Express) van Warskou sentrale stasie na Krakau Glowny, en binne twee uur en 33 minute is ons daar.
Lees ook: Reis deur Pole: Warskou
Hierdie keer het ek ’n Airbnb-bespreking gedoen en Enjoy! Apartment in die ou stad is ’n heerlike woonstel – twee slaapkamers met groot leefareas en ’n lieflike kombuis. Ons bly ’n paar minute se stap vanaf die groot markplein, ou Joodse kwartier en een van die hoof tremstasies. Naby is daar ook ’n lieflike park met amandelbome oortrek met wit bloeisels. My vriendin vertel my dat amandelbome slegs bloeisels dra dié tyd van die jaar – geen blare nie.
Laatmiddag stap ons na die Markplein. Die woorde “groot” en “majestueus” is nie indrukwekkend genoeg om dit te beskryf nie. Aan die een kant van die plein staan talle perdekarre met wulpse jong meisies wat jou vir ’n stadstoer nooi. As jy instem, skuifel ’n minder aantreklike drywer êrens uit sy café-stoel en kom neem jou op ’n vinnige toertjie. Die mooi meisies ry darem saam en gesels lekker in Engels.
Ons stap reg rondom die plein en maak ook ’n draai by die Cloth Hall (Sukiennice) in die middel met pragtig-geborduurde pashminas, babushka-poppies en amber juwele. Hierdie gebou dateer uit die Renaissance-era en word beskou as een van die oudste “winkelsentrums” in die wereld. Aan die kant van hierdie gebou lê ’n groot brons kopbeeld genaamd Eros Bendato sylangs vir jou en loer. Dit is die werk van die bekende Poolse kunstenaar, Igor Mitoraj.
Die bekende St Mary’s Basilica op die plein is ’n indrukwekkende rooi baksteengebou en binne slaan die dak jou asem met ’n geverfde sterrehemel weg. Die Tartare het die oorspronklike kerk geplunder, maar in 1320 is dit van die fondamente af herstel. Elke uur word die tyd met ’n beuel aangekondig maar halfpad onderbreek, ter nagedagtenis aan die beuelblaser wat in die nek geskiet is omdat hy die stad te laat gewaarsku het teen die Mongoolse inval. Hierdie kerk is ook die beginpunt van daaglikse staptoere deur die stad of die ou Joodse kwartier.
Die Oskar Schindler Enamelfabriek huisves twee museums, naamlik ’n tak van die Historiese Museum van die Stad Krakow en ook die Museum van Moderne Kuns langsaan. By eersgenoemde kan jy deur verskillende kamers loop en die hartseer verhaal van die Joodse uitwissing beleef deur middel van video-onderhoude, foto’s, baie slim dekor en selfs ’n uitbeelding van die Joodse Ghettos. As ons uitkom, stap ’n ortodokse Jood en ’n Katolieke non gesels-gesels verby. Die Kontemporêre Kunsmuseum langsaan het ’n ry sementfietse en Andy Warhol word ook met ’n aparte uitstalling vereer.
Later stap ons na die Ghetto Heroes Square met talle brons stoele – elke stoel verteenwoordig 10 000 Jode wat na die gaskamers vervoer is. Een is mooi toegehekel en die ander lyk verlate en depressing – soos die tragiese verlede self.
Wieliczka Soutmyne
’n Daguitstappie na die soutmyne sowat 30 minute buite die middestad is ’n groot hoogtepunt. Jou mond hang oop as jy sien wat mense met hul hande en sonder elektriese hulp kon vermag – oor vele verdiepings. Ons daal en styg met meer as 800 trappe en stap 3 km deur die gange verby reuse houtkonstruksies, en oral is net sout. Die vloere, die mure en selfs die kandelare is van soutkristalle. Daar is 20 kamers ondergronds waarvan die St King Kapel die indrukwekkendste is. Die beste nuus is egter dat die hoë inhoud-sout in die lug baie goed is vir borsprobleme. My hoes is skoon vergete. Die perde wat gebruik is om die sout te help vervoer, het nooit lig gesien nie. Hulle het vir jare onder die grond gewoon, maar volgens die toergids is hulle soos goud (sout) opgepas, want sonder hulle was arbeid nie moontlik nie. Hulle was definitief hulle sout werd.
Joodse Shabbath
Dis Vrydagaand en ons soek ’n restaurant wat Joodse kos bedien. Die Klezmer Hois restaurant voel soos iemand se huis-eetkamer en sit stampvol families wat eet, lag en kuier. ’n Klein orkes met ’n trekklavier, viool en basviool speel eg-Poolse tradisionele musiek en ek en Vriendin sê vir mekaar waarvoor ons elkeen dié week dankbaar was.
Die volgende dag doen Vriendin die staptoer deur die ou Joodse kwartier, maar my skoene het my voete so verrinneweer dat ek mooi stil gaan sit by die pragtigste koek-en-roomyswinkel genaamd Café Spitalna, reg oorkant ons woonstel. Dit begin reën en ek geniet die grootste, dekadentste stuk koek op die uitstalling asook twee ekstra-groot cappuccinos. My idee van toer!
Ek koop ook vir my ’n pragtige, handgeverfde botterbakkie met daisies en swaeltjies en ’n over the top wolonderbaadjie-gedoente waarin ek nou in hindsight ’n bietjie na ’n dubbelbed wol-oorgooideken lyk.
Ons meisies is lief vir ons aandetes en vat weer die pad na die ou Joodse kwartier. Hier vind ons ’n kuierplekkie wat goed sal pas in ’n 1955 fliek. Ou tafels, prente, doilies en deurmekaarstoele. By die tafel langs ons drink twee stemmige jongmense sulke klein glasies deurskynende vloeistof saam met hul bier en ons bestel dadelik ook daarvan. Wel, nodeloos om te sê, dit was skoon vodka. Hier drink die Pole dit soggens saam met koek, en ook as nagedagtenis ná ete.
Later vind ons ’n restaurant wat propvol is, maar ons staan breed in die ingang en hulle moet ons maar ’n tafel gee. Die dekor is die Poolse weergawe van country chic met kandelare en mandjies vol kunsblomme.
Ons laaste dag se kuier is by die groot kasteel op die koppie. Ek het die Boomerang-app baasgeraak op my foon en ons waai serpe en trap dansies om huis toe te stuur – natuurlik tot groot embarrassment van ons kinders. Vanaf die kasteel het jy die mooiste uitsig oor die stad en Vistula-rivier. Laatmiddag jaag ’n streng sekuriteitspolisieman ons uit. Wie hou nou die horlosie dop as jy fun het? Af by die bult en onder op die plein staan drie priesters diep in gesprek. Die een drink ’n McDonalds milkshake en die ander een Coke. Die ouer een houvas sy Bybel. Reg bokant hulle is die mooiste gebrandskilderde glasvenster van Moeder Maria en die baba Jesus.
Te gou is ons tyd hier verby, en ons het nie eens kans gehad om Auschwitz te besoek nie. Dit is egter ’n hele dagreis ver en daar was te veel mooi rondom ons. Krakau is op my lysie as ’n weer-besoekplek.