Wat om te doen as jou kind nie maats het nie deur Anys Rossouw. Hooffoto: iStock/fizkes
Ek het nie maatjies nie
Werner* vertel hoe hy pouses in die ry voor die snoepie inval: “Net sodat almal nie moet sien dat ek weer alleen is nie. Later is ek amper voor en dan maak ek of ek wil badkamer toe gaan. Dis vir my sleg – dit voel of ek alleen op die wêreld is. As die mediasentrum oop is, blaai ek maar daar deur boeke. Ek het al probeer om met kinders te speel. Maar hulle wil nie met my speel of praat nie. Hulle loop sommer net weg. Ek wens ek hoef nie skool toe te gaan nie.”
Kommunikasietegnologie het dit vir ons moontlik gemaak om enige tyd met enigiemand op enige plek in die wêreld te praat. Maar op ’n ander vlak het dit niks gehelp om die afstand tussen mense af te breek nie. Soveel mense beleef ’n hartverskeurende alleenheid en sosiale isolasie, smag na kontak met ander, na nabyheid, begrip en vertedering.
Lees ook: Dis hoekom kinders meer tyd moet kry om te speel
Die ergste is dat dit nie net volwassenes is wie se sosiale behoeftes nie in hul sosiale verhoudings bevredig word nie. Ons kinders kry net so swaar. En net soos mense deur die eeue in moeilike, gevaarlike of ongemaklike omstandighede opgetree het, reageer die kind wat sosiale interaksie moeilik beleef, ook deur te veg of te vlug.
Kies hy vlug, is die kind stil, teruggetrokke en probeer so ver moontlik onsigbaar wees. In die klas sê hulle selde iets en doen hul bes om nie die aandag op hulle te vestig nie. Hulle vermy situasies wat sosiale interaksie vereis, soos kampe, partytjies, groepwerk of sport. Hulle verdiep hulle liewer in aktiwiteite wat jy alleen kan doen, soos musiek maak of luister, lees, of selfs onsinnighede soos om heeldag televisie te kyk of rekenaar te speel.
Hul rekenaars raak hul enigste vriende. Hulle word baie individualisties en vir ander kinders al hoe vreemder, wat dit vir hulle nog moeiliker maak om uit die stil, eensame web te ontsnap. Sulke kinders, én hul ouers, rasionaliseer dikwels die situasie deur te sê dat hulle nie ander mense nodig het nie. Maar heimlik sou hulle dit so graag anders wou hê.
Diegene wat kies om te veg, beland in ’n nimmereindige spiraal van pogings om hulself te handhaaf en om beter as ander te probeer wees. Weens hul ontoereikende sosiale vermoëns bemark hulle hulle net te sterk, of hulle is te krities. Hulle besef nie dat hul maats of onderwysers dié optrede as verwerping beleef nie en dat dit hulle net ongewilder maak, pleks dat dit die aanvaarding bring waarna hulle so smag. Hulle voel verontreg en te na gekom, glo daar word teen hulle gediskrimineer: “Net die gewilde kinders, die koel groep, dié wie se ouers betrokke is, word altyd vir die spanne of die leerderraad gekies.”
Lees ook: Wanneer meisies mekaar boelie
Sommige kinders het gewoon net nie sosiale sensitiwiteit aangeleer nie. Hulle is so op hulself ingestel dat hulle min begrip vir ander se behoeftes en gevoelens het. Hulle weet nie wanneer om te luister en wanneer om te praat nie, of hoe om op ander se optrede en woorde te reageer nie.
Jy moet ’n situasie en mense kan lees om te weet wanneer om wat op watter manier te sê. Daarby moet jy by sosiale reëls en konvensies hou as jy nie gereeld op ander se tone met uitlatings soos die volgende wil trap nie: “Jou bobbejaan, hoe kan jy so onnosel wees? Dis ’n belaglike redenasie! Bly jy liewer hier uit.”
’n Paar jaar later kan dié houding vir sulke kinders ’n huwelik, ’n groot kontrak of hul werk kos. Hul sosiale onsensitiwiteit lei daartoe dat hulle nie weet hoe om vriende te maak, ’n verhouding te laat gedy en vreugde uit ’n vriendskap te put nie. Hulle verstaan nie die fyn balans tussen gee en ontvang nie.
Mariëtte* is in graad 8 en het haar sosiaal heeltemal onttrek en in musiek en lees verdiep. Sy speel vir ure klavier en lees boeke waarvoor min volwassenes kans sien. Sy het ’n woordeskat en algemene kennis wat skrik vir niks. “Ek stel net nie in die ander meisies se oppervlakkigheid belang nie. Ons het niks om oor te praat nie. Ek kan nie saampraat oor seuns, of oor wie op watter partytjie wat gedoen het nie. Ek word in elk geval nie genooi nie – nie dat ek sal gaan as hulle my nooi nie. Hulle lag nie vir my grappe nie.
Lees ook: Word jou kind geboelie?
“Maar dis tog sleg as niemand my vra om saam met hulle aan ’n taak te werk nie. En as hulle my kies en dis ’n moeilike taak, misbruik hulle my en laat my alles alleen doen. En as ek iets sê, dink hulle ek probeer af-show en wys ek is beter as hulle. Dan spot hulle my met aanmerkings soos, “Juffrou Verantwoordelik,” of “Ja, sy dink mos sy weet altyd alles,” of “Sy kruip weer gat”. Ek voel afgesny van almal. Ek wil graag maats hê, maar nie soos hulle wees nie.”
As kinders soos Mariëtte begrip vir haar maats se wêreld wil ontwikkel en haar verhouding met hulle wil verbeter, sal sy die volgende sosiale vaardighede moet ontwikkel: samewerking met ander, empatie, konflikhantering, emosionele beheer en luistervaardighede.
Lees ook: Hoekom stories lees goed vir jou en jou kind is
Ontwikkel (én oefen) sosiale vaardighede
Sosiale vaardighede moet net soos gimnastiek, ’n taal, musiek, wiskunde of sportvaardighede aangeleer, ontwikkel en geoefen word. Vir sommige kom dit makliker, maar jy word nie daarmee gebore nie. Net soos met sport voel jy die gemaklikste op jou tuisveld – dit is daar waar die jy die vaardighede aanleer en inoefen. Onder druk is dit altyd moeiliker om vaardig op te tree, maar as jy ’n bepaalde gedragspatroon in veilige omstandighede ingeoefen het, kan jy dit later op ander plekke en selfs onder druk met vaardigheid doen.
Maar as ’n kind se tuisveld, sy ouerhuis, ’n slagveld van verhoudingsprobleme is, is dit baie moeilik om dié vaardighede te ontwikkel. Die gebrek aan veiligheid laat die kind ook tuis onttrek en maak dit baie moeilik om sosiale optrede te oefen.
Die genade is dat sosiale vaardighede verbeter en aangeleer kan word. Jy kan die respek kry waarna jy smag deur ander te respekteer. Jy kan ander se belangstelling, liefde, aanvaarding en begrip kry – al wat jy hoef te doen, is om dieselfde vir hulle te gee.
Net soos ’n kreatiewe mens homself eers beleef as ’n ware kunstenaar sodra hy skilder of musiek maak, so kan jy baie liefde hê, maar dit eers ervaar as jy liefhet en die liefde gee.
*Skuilname is gebruik en verhale is met betrokkenes se goedkeuring vertel.
Lees ook: Leer jou dogter om gemaklik in haar eie lyf te wees
Waarom sukkel kinders sosiaal?
- Kinders sukkel sosiaal omdat hulle min natuurlike gesprekinteraksie het omdat so baie van hul sosiale interaksie via die tegnologie geskied. WhatsApp, TikTok, Instagram, Snapchat en Facebook vra min sosiale vaardighede en nuanses soos uitdrukking van begrip en empatie.
- Kinders speel minder sáám met ander kinders. Hulle kyk reekse en flieks of speel televisie- of rekenaarspeletjies. Dis grootliks parallelle spel: Ek speel alleen en jy kyk. Dan speel jy weer en ek kyk. Dan kyk ons wie het die beste gevaar. As ons op dié manier speel, is daar min samewerking en gesprekinteraksie. Tegnologie het ook kinders se natuurlike sosiale en speeltyd ernstig ingekort.
- Kinders met swak selfbeelde is bang om te waag, bang vir verwerping of om nie aanvaar te word nie. Hulle voel verwerp as daar die geringste verskil of teëstand opduik. Sulke kinders wil dikwels ook tot elke prys wen en hou nie by die speletjie se reëls nie, of kul om te wen. Hul maats word dan kwaad en wil nie meer met hulle speel nie. Ons erg kompeterende samelewing dra ook hiertoe by.
- Dit word toenemend moeiliker vir kinders om te deel en ander in ag te neem deur beurte te maak, of te speel wat die ander een wil speel. Klein kerngesinne waar elkeen gewoond is aan sy eie goed, dra hiertoe by. “Tuis hoef ek nie te doen wat die ander wil doen nie. Ek gaan kyk net by die ander TV wat ek wil kyk.”
- Vir skaam kinders met introverte persoonlikhede is sosiale interaksie ook moeiliker as vir spontane, uitgaande kinders.
- Hul rolmodelle in die media en sepies tree baie dikwels sosiaal onaanvaarbaar, kras en selfs gewelddadig op. Dit maak sulke gedrag vir kinders aanvaarbaar.
- Dikwels boots kinders hul ouers, wat ook nie goeie vaardighede en verhoudinge het nie, se gedrag na.
- Of hulle raak in sosiale isolasie groot waar hul gewoon nie die geleentheid kry om sosiaal aanvaarbare gedrag te oefen nie. Dit gebeur dikwels as ouers hul kinders juis teen negatiewe sosiale invloede wil beskerm.
- Party kinders het probleme soos hiperaktiwiteit en impulsiwiteit wat sosiaal aanvaarbare gedrag vir hulle moeiliker maak. Hulle praat en doen voor hulle dink.
Lees ook: Wat om te doen as jou kind in ’n slegte verhouding is
Hoe ontwikkel ek my kind se sosiale vaardighede?
- Leer jou kind respek vir ander mense en hul besittings. Dis uit om skeldname, soos Domkop, Simpel, Vark, of Idioot, te gebruik. Dring daarop aan dat jou kind jou en ander met respek behandel deur net nie te reageer as sy dit nie doen nie. Sy sal gou leer dat sy teëstand gaan kry as sy nie ander respekteer nie, of hulle verkleineer, terg of kritiseer. Woorde maak of breek.
- Basiese sosiale konvensies moet eerbiedig word: Sê asseblief en dankie. Groet voor jy met iemand begin praat.
- Neem ander se gevoelens in ag en wees oop vir ander moontlikhede en menings. Iemand mag anders dink en voel as jy. My idee is nie noodwendig reg en hulle s’n verkeerd nie. Ek dink net anders daaroor.
- Leer jou kind eerlikheid, egtheid en om homself te wees. Hy mag nie vir ander jok of voorgee dat hy iets is wat hy nie is nie.
- Help jou kind om met empatie en sagtheid na ander te kyk en te luister; op die ander se golflengte ingestel te wees; die goeie in ander raak te sien en ’n situasie te probeer lees; eers te probeer verstaan waarom iemand so reageer voor jy aannames maak of oordeel. Negatiwiteit, wantroue en ’n kritiese ingesteldheid verwond enige verhouding. Salomo het wyslik gesê ’n sagte antwoord keer die grimmigheid af.
- Leer jou kind goeie kommunikasievaardighede: Luister en verstaan eers voor jy reageer; antwoord as iemand met jou praat; maak oogkontak; let op jou stemtoon en lyftaal. Praat oor koeitjies en kalfies, maar gee ook jou eerlike mening en met opregtheid van jouself.
- Moedig spansport en aktiwiteite aan – liewer samewerking as kompetisie.
- Help jou kind om emosionele vaardighede te kweek en konflik te hanteer of te vermy; om nie te oorreageer nie en te onderskei wanneer iets haar saak of probleem is, en wanneer nie.
- Stel werklik in ander belang, vra hulle uit oor wat vir hulle belangrik is en hoe hulle voel. Dit bou verhoudinge. Onthou wat vir hulle belangrik is.
- Kinders moet kan deel en kan verloor.
- Help hom om insig te kry in die uitwerking van sy gedrag op ander deur te sê hoe sekere gedrag jou laat voel en beïnvloed. Neem dit op ’n video af sodat hy kan sien.
- Help jou kind om ’n goeie selfbeeld te hê, goed oor homself te voel sodat hy hom met selfrespek en selfvertroue kan uitdruk en gesels op ’n manier wat ander respekteer en vertrou.
- Leer hulle dat almal foute mag maak, maar ook om foute te vergewe, sake reg te stel en jammer te sê. Vergifnis is die sement van verhoudinge.
- Moedig sosiale kontak en vriendskappe aan. Jy leer net fietsry op ’n fiets. Jy beskerm hom eers met kantwieletjies. Daarna vertrou jy hom om te waag en homself te vertrou, met val, seerkry en weer probeer. Dit verg oefening. Maak seker dat hul tyd saam met maats nie deur die televisie of rekenaar verorber word nie.
- Prys en waardeer positiewe optrede.
- Wees ’n rolmodel wat die vaardighede wys en leef.
Lees ook: Voel jou tiener eensaam?