Deur Anelle Tewson. Foto’s deur Anelle en Tyron Tewson
Van Johannesburg af is die rit Laeveld toe altyd mooi en om langs die lemoenboorde vir vars sap stil te hou, weer eens ’n verfrissende pouse. Anderkant Nelspruit het die karre en geboue stelsematig minder geword, die sagte groen van die berge het ons omring en die stadsjapies het begin ontspan.
Binne die hek van Tomjachu Bush Retreat is die natuur net so mooi soos die berge daarbuite. ’n Glimlaggende goudbruin labrador kom groet ons met ’n swaaiende stert. Ons kan kan niks verder as die berge sien nie en skielik voel al ons stadsorge heeltemal onbelangrik.
Die ontvangslokaal is versier met lieflike meubels uit Frankryk en antieke stukke uit die Fillery-familie se versameling toe Gordon en Vikki Fillery die erf in 1985 gekoop het. Dit verleen ’n outentieke sjarme aan die voorkoms van die familiehuis. ’n Volstruis stap by ons verby en ek sien ’n hangmat wat op die stoep van ons kamer in die Rock House op ons wag. Dis ’n ander wêreld wat hier op ons wag. Ek het my tuisgemaak en met die voëls se geklets om my, kon ek aan geen rede dink om weer op te staan nie. Ná ’n ruk het die aandetegeure wel daarin geslaag om my na die restaurant toe te lok. In die plaashuis-eetkamer het ons ons aan die heerlikste bloukaas-tertjies, beesfilet en wortelkoek oorgegee, maar die sop was albei aande ons gunsteling-gereg op die spyskaart: Botterskorsie met anys op die eerste aand en aartappel die volgende. ’n Kouefront het daardie week die Laeveld getref en dit het ons gelukkig ’n goeie rede gegee om ’n heerlike vuurtjie in die kaggel aan te steek.
Rock House, Keepers Cottage, Bush Cottage en Valbonne Villa is selfsorgeenhede. Verblyf by die Homestead sluit ontbyt en aandete in en daar is nie selfsorg-geriewe nie. Gevriesde etes kan wel bestel word as die lus vir kosmaak jou verby gegaan het.
Tomjachu is ’n stapper se paradys, en met ’n piekniekmandjie vir middagete mik ons die volgende dag na die Suidedam toe. Dis ’n uur se gemaklike stap tot by die dam wat doodstil voor ons lê. Selfs die wildsbokke het ewe rustig in die pad langs die dammetjies ’n blaaskans gevat, duidelik min gepla deur ons teenwoordigheid. ’n Visarend se kreet was daardie oggend die enigste geluid in daardie vredige landskap. Ons het die natuur se voorbeeld gevolg en ewe rustig ’n hele ruk langs die water deurgebring ná ons die sjef se briljante skeppings geëet het voordat ons weer terug is na ons huisie toe.
Op ons roete het ons ons van al die ander geriewe gaan vergewis. Daar is ’n verskeidenheid verblyfgeriewe by Tomjachu, elkeen met sy eie karakter. Die Valbonne Villa is beslis die indrukwekkendste met sy ses slaapkamers, talle kuierplekke vol egte familie-erfstukke en ’n swembad met ’n werklik besonderse uitsig. Die privaatheid van die kothuise is ’n groot trekpleister, of jy nou ’n gesin het wat ’n private swembad verkies, of in ’n romantiese huisie – net vir twee – tussen die bome wil wegkruip.
Ons was skaars terug by die Rock House toe daar ‘n geraas losbars. Toe ons by die venster uitloer, is daar drie sebras by ons private swembadjie aan die baljaar. Hulle hoewe klap-klap tussen al die gebulk en speel deur, maar toe die drie ons gewaar, is die kêrels blitsvinnig daar weg.
Gordon se kleinseun, Jack, en sy twee broers is in beheer van hierdie groot opset en dis nou hul werk om hul pa en oupa se drome hier in Suid-Afrika te bewaar. Hy het ons op ’n sonondergangstoer van die bos geneem waar hy vir ons die sonsondergang gaan wys het en talle stories vertel het. En om alles te kroon het ons onder die sterre by ’n romantiese tafeltjie in die bos aandete geëet. Alle luukshede is van die restaurant af vir ons aangery sodat ons in die bos net so gemaklik sou wees soos in die kamp.
Voordat ons kon terugkeer Johannesburg toe, het ons die ander kant van die staproete aangepak. Dit is meer uitdagend as die roete na die dam, maar beslis elke tree werd. Teen die berg het ons weer dieselfde sebras te siene gekry en sommer ook ’n wildebees wat ons daar staan en inwag het. Die wilde diere ken die beste plekkies om die oggendson te vang. Vanaf die uitkykpunt sien jy alles, hoog en laag. Dit het gevoel asof ons die enigste mense in die land is …
Op die rit terug was ons albei stiller, rustiger, kalmer, alles danksy die skoonheid van die natuur wat vir ons geleen is.
Meer inligting by tomjachu.co.za