Deur Bea Lingenfelder Hooffoto: Pixabay
Metro-man
Hierdie is vir die moderne, sjiek man. Hou jou pa daarvan om te eksperimenteer of ’n stylvolle item by sy uitrusting te voeg? Kyk na iets wat hy nie sommer vir homself sal koop nie, maar wel in belangstel – ’n unieke paar sokkies bly ’n veilige keuse.
Klassiek
Hou jou pa daarvan om in sy gemaksone te bly? Bestempel jy jou pa se uitrustings as tradisioneel? Dit beteken egter nie jou pa hoef outyds te lyk nie: Bederf hom met ’n bonkige trui (wat deesdae ’n groot trend is) maar in ’n klassieke kleur wat by die res van sy klerekas sal inpas.
Sportief
Hierdie pa is dikwels maklik om te identifiseer danksy sy oefenklere, digitale horlosie of sweetpakbroek. Daarom is ’n nuwe oefenhemp bo-aan ons lys. Bederf (en beïndruk!) hom dalk met ’n nuwe rugsak uit reënbestande materiaal of ’n sweetafwerende tekstiel.
Nutsman
Daar is nie ’n meer gepaste geskenk as ’n nuwe, knap toestelletjie nie. Wees op die uitkyk vir ’n geskenk wat sy selfdoen-projekte vergemaklik en wys hom dat jy omgee oor sy belangstellings, dit waardeer en dit aanmoedig.