Foto’s en teks: Margaret Gardiner
Die dae het in ’n warrelwind van plesier en vlugvoosheid verbygewaai. ’n Week gelede was ek in Cannes, daarna het ek teruggekeer Los Angeles toe met ’n tydverskil van nege uur en daarna het ek twee dae lank gevlieg, terug oor die oseaan, hierdie keer na die punt van Afrika toe om die 60ste jaar van Mej. Suid-Afrika saam met veertig ander wonderlike vroue in Pretoria te vier.
Saterdag het ons ons onder ’n blou lug en ’n goue son op die stoep van die Maslow-hotel bevind om die vroue wat die titel van Mej. SA dra te vereer. Ek het nooit hierdie titel gewen nie: Ek het besluit om eerder deel te neem aan die eerste veelrassige kompetisie – Mej. Republiek van Suid-Afrika, of Mej. RSA soos dit bekend gestaan het – wat Rapport in 1978 gestig het, terwyl die Mej. Suid-Afrika-kompetisie besluit het om steeds gesegregeer te bly. Ek het die titel van Mej. Suid-Afrika in die buiteland gedra en ek het my mense as Mej. SA verteenwoordig, maar ’n ander meisie het daardie jaar die titel binne Suid-Afrika se grense gedra.
Geen wenner van al die ander variante van Mej. Suid-Afrika, Mej. Afrika-Suid (Miss Africa South), Mej. Swart Suid-Afrika (Miss Black South Africa) en diegene wat Mej. RSA was, het as titeldraers by die 60ste feesvieringe op die verhoog geloop nie. Ek was nie daar as voormalige Mej. SA nie, want ek word nie as sodanig erken nie. Die borge het my as ’n voormalige Mej. Heelal uitgenooi. Nadat ek aan die gehoor bekend gestel is, kon ek kyk hoe die amptelike titeldraers van hierdie handelsmerk vereer word en hoe elk ’n spesiale ring en sertifikaat ontvang. Demi-Leigh Nel-Peters, die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat Mej. Heelal gewen het sedert ek dit veertig jaar tevore gewen het, het aan dr Adè van Heerden (wat die ampserp plaaslik en by Mej. Wêreld gedra het, waar sy in die toptien geplaas is) haar ring en sertifikaat gegee. Daarna is Demi weggeneem om aan haar internasionale verpligtinge aandag te gee. Hierdie twee vroue is gemaklik en sjarmant, en hul vermoë om in die openbaar te praat was beslis op die proef gestel. Ná ’n groepfoto het die vroue almal selfies geneem en kon ons saamkuier en gesels. Daarna het ons almal ons eie rigtings ingevaar om te voor te berei vir ʼn repetisie vir die groot aand. Veronica Wilson, wat kom kyk het en wat ook die Mej. RSA-titel gedra het, het vertel hoe pynlik dit vir skoonheidskoninginne is wat nie die amptelike Mej. SA-titel gedra het nie, omdat hulle nie as sodanig erken word nie vanweë die politieke toestande van die tyd.
Lees ook: Margaret se onderhoud met Demi-Leigh Nel-Peters
Lees ook: Onderhoud met Adè van Heerden
Rondom 16:00 het ons spesiale kaartjies gekry om die skouspelagtige repetisie te sien in die Sun Arena, wat gerieflik langsaan die hotel geleë is. Ons kon vir die eerste keer die deelnemers in lewende lywe sien. Dit was ’n emosionele middag, elkeen van ons vasgevang in die herinneringe van ons eie kompetisie.
In 1978, toe ek gehoor het dat Mej. SA gesegregeer sou bly, het ek besluit om nie daaraan deel te neem nie en ek het eerder ’n werk in Italië aanvaar. Bernard Jordaan van Rapport, wat my as skoolmeisie so te sê ontdek het, het my voorgestel het aan die modelmagnaat, Johnny Casablanca van Elite models, en dit het meegebring dat ek op 16 Parys toe is om as model te werk. Bernard het my vertel van die veelrassige skoonheidskompetisie – die eerste in sy soort. Dit was so opwindend! Alle vroue kon as gelykes saamkom vir dit wat ek verstaan het as die eerste ware veelrassige skoonheidskompetisie in Suid-Afrika. Dit was die regte ding om te doen. Dit was ’n geleentheid wat te goed was om mis te loop. Ek het my reisplanne na Italië uitgestel en ek het ingeskryf vir Mej. RSA – ’n klein kompetisie wat oor drie dae in Kaapstad sou plaasvind om dit te onderskei van die Mej. SA-kompetisie wat normaalweg in Johannesburg of Sun City plaasgevind het. Dit het nie baie aandag getrek nie – die publiek was nie juis bewus daarvan nie – en dus is baie van die topmodelle van die dag genooi om deel te neem. Ek was verheug om ’n klomp van my vriendinne te sien wat sou deelneem: Pat Malgas, Lindy Kloppers en ek het deur Suid-Afrika gereis om aan modeskoue deel te neem. Die drie van ons het saam klubs besoek in Johannesburg en het soos susters klere gedeel. Pat het as topmodel uitgestyg en was een van die eerste vroue van kleur wat in daardie tyd wyd en syd verskyn het. Marilyn Albutt het ook deelgeneem. Alles was gereed vir hierdie klein, onbekende, veelrassige skoonheidskompetisie.
Tot my groot verbasing het ek die titel losgeslaan en ʼn paar maande later is ek Mexiko toe as Mej. SA (hoewel ek eintlik Mej. RSA was) om deel te neem aan Mej. Heelal. Buite die Suid-Afrikaanse landsgrense het ek my mense as Mej. SA verteenwoordig. Hoewel ek nie amptelik deel was van die interne handelsmerk nie, het ek baie naby gevoel aan al die vroue wat my nou, veertig jaar later, as een van hul eie gereken het en wat my verwelkom het om saam met hulle oor gedeelde ervarings te kon gesels – maak nie saak wat jou oorspronklike titel was nie.
Ek was so dankbaar dat Demi se Mej. Heelal-titel my aan die groep gebind het. Hierdie ervaring van susterskap het ons elkeen laat terugdink aan die keer toe ons deelnemers was en hoe ons lewe daarna heeltemal verander het. Ek was maar net 18 toe dit gebeur het en ek het onthou hoe dit gevoel het om deel te neem aan ’n betreklike onbekende kompetisietjie in Kaapstad waar my hele gesin in die gehoor was. Nou, veertig jaar later, met my ma en pa wat nie meer hier is nie, is ek gereken as een van die ouer staatsvroue, wat kyk hoe my land ’n vertoning aanbied wat kan meeding met die topproduksies in die wêreld. Ek is omring deur vroue wat ek respekteer en bewonder en ek kon ’n hegte band vorm met vroue wat die afgelope veertig jaar soortgelyke ervarings kon meemaak.
Lees ook: Margaret Gardiner: ’n Ma soos myne
Lees ook: Mej. SA 2018
Ons het spontaan stories begin vertel van die kere toe ons die titels gedra het. Amy Kleinhans het vertel hoe Madiba na haar uitgereik het. Anneline Kriel het vertel oor die wroegings wat sy gehad het oor of sy die titel van Mej. SA wou aanvaar nadat daar ontdek is dat die oorspronklike wenner reeds ’n kind gehad het. Elke vrou het ’n verhaal wat die teer dele van dapperheid uitgewys het, en die liefde en omhelsing wat hulle van Suid-Afrikaners ontvang het.
Lees ook: Anneline Kriel: Die lewe is goed
Toe is ons agter die skerms geroep.
Weer eens het herinneringe van ons geleenthede as skoonheidskoninginne teruggestroom. Mense verstaan nie die bande wat gesmee word tussen vroue wat in ’n kompetisie teen mekaar deelneem nie. Ja, dit is ’n kompetisie, maar dit is ook ’n unieke, gedeelde ervaring en ʼn susterskap waarvan ‘n mens deel word. Ons het gelag, grappies gemaak en mekaar ondersteun. Ons het agter die skerms beweeg en het gesels oor die indrukwekkende jong deelnemers wat ons pas gesien het – en toe is dit ons beurt om op die verhoog te pronk. Voordat ons teruggekeer het hotel toe het ek ’n klein bossie blomme oorhandig aan Suzette van der Merwe, voormalige Mej. SA en uitvoerende hoof van Commercial Communications van Cell-C wat instrumenteel was in hierdie nuwe Mej. SA wat internasionale wenners terugbring huis toe.
Lees ook: Margaret se Wêreld: Mej. Suid-Afrika 2018 Dag 1
Volg Margaret op facebook (@margaretgardinerofficial) en Instagram (@margaret_gardiner).